’n Hamer maak nooit heel nie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

Kyk ook die volgende artikels wat op hierdie artikel gereageer het:

*******

’n Hamer maak nooit heel nie | Netwerk24

Neels Jackson

Rapport, 14 Mei 2023

Die NG Kerk hoor die stemme uit die Kairos Netwerk en verstaan wat hulle sê, maar hulle stem nie met hulle saam nie, skryf Neels Jackson.

“As die enigste instrument wat jy het ’n hamer is, is die versoeking daar om alles soos spykers te hanteer.”

Hierdie uitdrukking, en variasies daarvan, dateer van die 1960’s. Dit is destyds deur onder andere die Amerikaanse sielkundige Abraham Maslow gebruik om te waarsku teen die gebruik van bekende maar ontoepaslike metodes wanneer mense navorsing doen. Sedertdien is dit deur talle mense op verskillende ander terreine van toepassing gemaak.

’n Uitspraak in Rapport van 7 Mei het my weer laat dink oor die toepaslikheid daarvan op die kerklike toneel. In ’n berig oor die Koinonia-sinode van beswaarde gemeentes in die NG Kerk, word berig dat dié sinode besluit het “dat die Algemene Sinode se besluit om sy seën te plaas op die ‘lewenswyse van praktiserende homoseksuele lidmate uiters wreed en liefdeloos is. Dit ontneem sulke mense die bevryding deur sondebelydenis en bekering’.”

Die raamwerk van sondebesef, skuldbelydenis, bekering en vergifnis lê aan die kern van die Christelike evangelie, maar dit is nie die hele evangelie nie. As ’n mens se hele verstaan van die evangelie daarin opgesom kan word, is dit ’n vereenvoudigde en verskraalde evangelie wat ongelukkig wyd in die Protestantse wêreld en daarmee ook in die NG Kerk posgevat en hoogty gevier het.

[Kommentaar: Met hierdie opmerking is Neels Jackson oneerlik en moedswillig. Die werklikheid is dat dit die vrysinniges in die NG Kerk is wat net een teologiese instrument het en dit is “Jesus se liefde en inklusiwiteit”. Dit is Kairos Netwerk wat die balans wil bring deur te herinner dat daar nie vergeet moet word van sonde, skuldbelydenis en bevryding nie.]

Wat gebeur wanneer die enigste teologiese instrument waarmee jy werk, die leer van sonde, skuldbelydenis en bevryding is?

Die eerste is dat dit lei tot ’n rigiede, wettiese soort godsdiens. Godsdienstige reëls word belangrik. Dink maar hoe kerke in die 1960’s reëls oor alles wou maak. Dit het gewissel van wat jy mag lees en watter flieks jy mag sien, tot watter klere lidmate moet dra of nie moet dra nie.

In hierdie soort wettiese godsdiens word die Bybel dan grootliks as ’n reëlboek gelees. Daar word oral na reëls gesoek. God se liefde en helende genade word maklik misgekyk, of slegs deur middel van die skema van sonde, skuldbelydenis en verlossing verstaan.

Tweedens maak die verskraalde evangelie ’n mens blind vir die nood van mense. Daarom dat die NG Kerk so lank teologiese regverdiging vir apartheid kon verskaf. Die hele beleid is op abstrakte vlak beredeneer en die ellende wat dit vir gekleurde mense veroorsaak het, is heeltemal misgekyk.

Derdens bring die verskraalde evangelie mee dat aspekte van die Christelike evangelie glad nie meer as evangelie herken word nie, maar as kettery afgemaak word.

Teen die 1980’s het die besef in die NG Kerk begin posvat dat die teologiese regverdiging van apartheid op wankelende bene staan. Al hoe meer lidmate het begin begryp dat sosiale geregtigheid ’n belangrike aspek van die Bybelse boodskap is. ’n Mens sien dit by die profete. ’n Mens sien dit in Jesus se aardse bediening. ’n Mens sien dit byvoorbeeld in die brief van Jakobus.

Mense wat dié soort boodskap in die kerk verkondig het, is dikwels beskuldig van humanisme of horisontalisme en as ketters en verraaiers afgemaak. En dit is beskuldigings wat ons nou weer, in ’n ander konteks, uit die geledere van die Kairos Netwerk (KN) hoor.

Vir my lyk dit asof baie van die lidmate en gemeentes wat hulle by die KN skaar goeie, opregte, gelowige mense is wat ongelukkig steeds vasgevang is in ’n verskraalde godsdiens waarin dit net gaan oor sonde, skuldbelydenis en verlossing.

Dit is waarom daar soveel klem op reëls­ geplaas word, byvoorbeeld oor die huwelik.

Al die reëls wat hulle oor die huwelik formuleer, word gesien as God se wil – terwyl daar in die Bybel op baie ander maniere oor verbintenisse tussen mans en vroue gepraat word as die monogame, heteroseksuele huwelik wat nou as God se absolute wil voorgehou word. Dink maar aan die swaershuwelik waarvan ons in Genesis 38 lees, of aan die aartsvader Jakob se huwelike met verskillende vroue wat as doodnormaal en sonder veroordeling beskryf word.

[Kommentaar: Die swaershuwelik waarvan Jackson praat word spesifiek voorgeskryf in Deuteronomium 25:5 deur dieselfde God wat in Levitikus die volgende bepaal het:

  • Levitikus 18: (22)Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
  • Levitikus 20: (13)Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

Jackson se argument is onbegryplik.]

Hierdie verskraalde evangelie is ook die rede waarom die nood van gay mense, waarvan daar oorweldigende getuienis is, eenvoudig deur die KN misgekyk of geïgnoreer word. In die wêreld van die sielkunde word dit algemeen aanvaar dat pogings om gay mense se seksualiteit te verander, meer skade as goed doen. Dit verniel gay mense.

[Kommentaar: ‘n Mens wonder wie ignoreer al die getuienisse van voorheen homoseksuele mense wat vry gekom het van hierdie leefstyl?]

En tog is die ideaal waaraan die Koinonia-sinode vashou, een van gay mense se “bevryding deur sondebelydenis en bekering”. Dít is ’n teologiese hamer wat stukkend slaan, nie heelmaak nie.

Dit gaan direk in teen die voorbeeld wat Jesus kom stel het. Nooit sou Hy die wet ten koste van mense afgedwing het nie.

Diegene wat die wet ten koste van mense wou afdwing, was die godsdienstige leiers van Jesus se tyd. Hulle sou liewer dat Jesus se dissipels honger moes bly as dat hulle ’n paar koringare op die Sabbat pluk en eet. Hulle sou liewer dat iemand nie genees word nie, as wat Jesus dit op die Sabbat doen.

Daarom dat Jesus in Markus 3 diep bedroef was oor die hardheid van hul harte.

Sedert die NG Kerk meer as 30 jaar gelede weggestap het van sy teologiese regverdiging van apartheid, het die kerk op nuwe maniere na mense begin kyk. Benewens die kwessie van ras waaroor dit destyds gegaan het, sien ’n mens dit ook in ’n nuwe begrip van die groot rol wat vroue in die kerk kan speel. ’n Mens sien dit in kerklike verhoudinge, waar kerke wat vroeër as sektes beskou is, nou as Christelike vennote waardeer word. ’n Mens sien dit in hoe kinders nou by die nagmaal verwelkom word. ’n Mens sien dit daarin dat die NG Kerk, saam met die res van die NG Kerkfamilie, later ’n seisoen van menswaardigheid uitgeroep het. ’n Mens sien dit in die opkoms van missionale teologie en die oortuiging dat die kerk ’n kanaal is waardeur God se helende liefde na die wêreld moet vloei.

’n Mens sien dit ook in ’n nuwe, verwelkomende houding teenoor gay gelowiges.

Al hierdie ontwikkelinge het gekom uit ’n diep oortuiging dat dít is wat die evangelie van die kerk verwag. Dit het voortgekom uit ’n nuwe verstaan van God se liefde vir mense – en dis ’n liefde wat nie net sondes vergewe nie, maar wat ook nood raaksien en heelmaak.

In die verslag wat by die Algemene Sinode van 2013 gedien het en wat aanleiding gegee het tot die Seisoen van Menswaardigheid, word hierdie sienings teologies gemotiveer, onder meer uit die voorbeeld wat Jesus kom stel het.

In Kairos-geledere word dit egter nie as die evangelie gesien nie. Dit word beskou as dwaalleer wat bestry moet word, waarvan die kerk “van binne gesuiwer” moet word.

Dit is opmerklik dat van die leidende stemme in die Kairos-kring deurlopend teen die ontwikkeling van hierdie nuwe waardering van God se besorgdheid oor mense gekant was. Hulle was teen die wegstap van apartheid, teen die toelating van vroue tot die ampte, teen die toelating van kinders tot die nagmaal, teen beter verhoudinge met Pinksterkerke. En nou is hulle teen die erkenning van gay mense se verhoudinge.

[Kommentaar: Wie was die leidende stemme in die Kairos-kring wat teen die wegstap van apartheid was?]

Boonop kyk die Kairos-groep nou, op soek na nuwe moontlikhede van teologiese opleiding, na aansluiting by instellings van die Afrikaanse Protestantse Kerk wat gebore is uit die weerstand teen die wegstap van apartheid, en van die Gereformeerde Kerke wat steeds nie vroue op hul kansels toelaat nie.

[Kommentaar: Dit is (weereens) ‘n skelm argument. Die teologiese opleiding waarvan Jackson praat is die Afrikaanse Protestantste Akademie (APA), wat ook opleiding verskaf aan die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Die APA is egter oop vir alle rasse. Volgens hulle webblad:

Die AP Akademie … het geen voorvereistes aan studente oor kerklidmaatskap, ras of kultuur nie. Enige een wat in Afrikaans op ‘n Christelike grondslag wil studeer, is hartlik welkom by die APA.]

Die KN kla dat die NG Kerk hulle nie hoor nie. Hulle sê dit veral oor die Algemene Sinode, maar onlangs het ons dit ook oor die buitengewone Vrystaatse sinode gehoor.

Ek dink nie dis die geval nie. Ek dink die kerk hoor die stemme uit die KN goed en ek dink die kerk verstaan wat hulle sê. Die kerk stem eenvoudig nie met hulle saam nie.

[Kommentaar: Hierdie is waarskynlik die enigste sinvolle ding wat Jackson kwyt geraak het in sy hele artikel. Die KN gaan moet begin erken dat hulle reeds gehoor is. Diegene wat kwansuis nog nie gehoor het nie, wil nie hoor nie. Dit mag selfs wees dat die meerderheid lidmate in die NG Kerk ongemaklik is met homoseksualiteit, maar die ongemak is nie groot genoeg om iets daaraan te doen nie (kyk byvoorbeeld Vraelys aan predikante in die Oos-Kaap). Dit kan vergelyk word met ANC kiesers: die deursnit ANC kieser is waarskynlik redelik aangename mense wat ongemaklik is met die korrupsie binne die ANC, maar die ongemak is nie groot genoeg om anders te stem nie.]

Want in die NG Kerk het daar ’n besef gekom dat daar in hul teologiese instrumentekassie nie net ’n hamer is nie. Daar is nie net die leer van sonde, skuldbelydenis en bevryding nie. Daar is ook die helende liefde van God vir alle mense. Die kerk het Jesus se besorgdheid oor mense leer waardeer en hulle hoor as Hy roep: “Volg my!”

  • Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat fokus op kerksake.

Kommentaar

Kommentaar verskyn tussen die teks hierbo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui