Twee teoloë onskuldig bevind

*******

Twee teoloë onskuldig bevind | Volksblad

Volksblad, 29 Jul 2006

Neels Jackson

PRETORIA. – Twee teologiedosente van die NG Kerk wat van leerdwaling aangekla is, is gister deur ’n kommissie van die ring van Pretoria-Oos onskuldig bevind. Die klagte teen proff. Jurie le Roux en Julian Müller, albei van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, is die jongste in ’n lang rits van soortgelyke klagte teen verskeie predikante en teoloë van die kerk wat van die hand gewys is.

Die kommissie sê in sy uitspraak oor Müller dat die hele saak staan in die spanning tussen die kerklike tradisie of “ou, vaste waarhede” (wat die klaers verteenwoordig) en die krities- teologiese geloofsverantwoording van Müller.

Die besluite van die algemene sinode oor die gesag van die Bybel en die belydenisskrifte as historiese dokumente toon dat die algemene sinode gekies het om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg. Müller het volgens die kommissie binne die gees en letter van die sinodebesluite gebly. Die kommissie was tevrede met sy sieninge oor Jesus Christus as enigste Middelaar en oor die opstanding van Jesus.

Le Roux het die kommissie ook tevrede gestel met sy verduidelikings van sy sienings oor die Goddelike inspirasie en genoegsaamheid van die Bybel, oor die opstanding en maagdelike geboorte van Jesus, oor die bestaan van Satan en die bose en oor sy siening van Messiaanse profesieë in die Ou Testament.

Kommissielede sê hulle het moeite gedoen met die ondersoek en die kerk kan gerus wees oor die dosente se leer.

Die kommissie meen ook die kerk behoort maniere te vind om gesprekke oor geloofsake te bevorder. Mnr. Ferdie Mulder, teologiestudent en een van die klaers, sê hy gaan appelleer teen die uitsprake. Hy het ook reeds geappelleer teen ’n soortgelyke bevinding oor prof. Dirk Human, ook van Tukkies.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui