RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?

Kyk ook:

RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?

Op Sondag 5 Mei 2019 het Jean Oosthuizen met Louis Jonker en Sjeg Faadil Latief gepraat oor die feit of Christene en Moslems saam kan bid.

Uit ’n ander hoek 5 Mei 2019

Sondag 5 Mei 2019

Kan Moslems en Christene saam bid, en is hulle almal kinders van God? Jean Oosthuizen gesels met prof. Louis Jonker, Oud Testamentikus by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie, en Sjeg Faadil Latief van die Moslem Juridiese Raad in Kaapstad oor die verhouding tussen Christene en Moslems. Hy wil by hulle weet of Christene en Moslems ook mekaar se broers en susters kan wees.

Luister hier (24.3 MB)

Dit bly verstommend dat RSG hierdie platvorm aan Jean Oosthuizen gegee het om week na week tydens die program “Uit ’n ander hoek”, liberale idees te verkondig sonder enige debatvoering. Dit daar gelaat…

Ek het slegs die grootste gedeelte getranskribeer van wat Louis Jonker gesê het om uit te lig wat sy teologiese siening is hieroor. Kyk my kommentaar tussenin die teks en ook my slotopmerkings aan die einde.

Oor Sjeg Faadil Latief kan ek net sê dat hy, soos Louis, ’n liberalis is. Die meerderheid Moslems sal nie met hom saamstem nie omdat hy nie die Koran konsekwent lees nie. Volgens die Koran moet Moslems nie sulke goeie vriende met Christene wees nie (kyk 3.3 Islam se opdrag tot geweld teenoor ongelowiges).

Kyk ook Pieter Prinsloo se beoordeling van Louis Jonker se gesprek op RSG.

Uittreksels uit gesprek

Jean: Wat sê ’n mens daarvan dat Christene, Moslems en Jode dieselfde Abrahamitiese god aanbid?

[Kommentaar: Dit is misleidend om te sê dat Christene, Moslems en Jode dieselfde Abrahamitiese god aanbid. Dit skep die indruk dat die drie gelowe gelyke status het. Dit is hoegenaamd nie waar nie. Ja, die Christelike geloof en die Joodse geloof was een en dieselfde ding tot en met Jesus. Daarna het die Joodse geloof afgewyk van die een, ware geloof. Hulle het besluit om nie vir Jesus as die Messias te erken nie. Die Moslemgeloof kan nie eers vergelyk word met die Christelike (of Joodse) geloof nie. Dit het eers in die 600’s nC ontstaan uit uiters beperkte manuskripte, totaal anders as in die Bybel se geval. Die Koran is ook teenstrydig met die baie meer betroubare Ou en Nuwe Testament. Kyk 2 Bewaring en betroubaarheid van die Koran.]

Louis: Baie keer is mense onthits om te hoor dat Abraham nie ’n Christen was nie, maar ek is doodseker dat ek vir Abraham gaan teëkom in die hiernamaals.

[Kommentaar: Hiermee impliseer Louis dat nie-Christene ook vandag gered kan word omdat Abraham nie ’n Christen was nie, maar tog gered is. Dit is ’n voorbeeld van aas en omskakel. Jy kan nie die twee gevalle vergelyk nie: Die woord “Christene” het eers ontstaan ná Jesus se hemelvaart (Handelinge 11:26). In Johannes 8:56 staan:

(56)Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”

Abraham het in Jesus geglo en dus was hy ’n Christen. Abraham word ook die “vader van geloof” genoem. In Hebreërs 11 staan: (2)Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

As Abraham nie geloof in die enigste God gehad het nie, sou ons hom nie in die hemel gesien het nie. Noag, Abraham, Moses, Dawid, Jesaja, Elia, Elisa, ensovoorts sou wel Christene gewees het indien hulle ná of tydens Christus geleef het.]

Ek dink dit is die verkeerde vraag om te vra: “Wie se god is die regte god?” Ek dink ons moet ’n tree terug gee om te sê dat ons as mense bewus raak van ’n opperwese op verskillende maniere. Dit ís so dat ons op ’n manier ook in ons menswees daarvoor bedraad is om ook te kan agterkom dat daar meer is in hierdie werklikheid as wat die oog kan sien. [Kommentaar: Louis antwoord nie die vraag reguit nie. Dit is egter baie duidelik dat hy baie meer gemaklik is met die “alle paaie lei na Rome toe”-benadering (universalisme). As redding slegs deur Jesus Christus moontlik is, dan is dit krities om vas te stel wie se god die regte god is.]

Jean: Louis, diegene wat glo dat Moslems nie gered kan word nie, beroep hulle op ’n teks in die Bybel wat sê Jesus is die enigste weg na saligheid (Johannes 3:35-36), en dieselfde dominee waarna die sjeg verwys het [Chris Saayman] sê daar staan: “Wie nie die Seun het nie, het ook nie die Vader nie en die toorn van God bly op so ’n mens.” Wat beteken dit en hoe moet Christene hierdie teks verstaan?

Louis: Dit is juis die soort eksklusiewe interpretasie wat jy as voorbeeld gebruik het. Ek het nou-nou ook verwys na Abraham wat nie ’n Christen was nie, en tog is daar binne die Christendom geen twyfel daaroor nie dat Abraham ook as ’n voorbeeld van geloof gesien word. In die boek Hebreërs word Abraham ook as vader van die Christendom in ’n sekere sin aangedui. Ek sien dit op dié manier dat ek self in my eie begrip te klein is om te besef hoe God met hierdie dinge tewerk gaan. Ek laat die oordeel uiteindelik aan God oor. [Kommentaar: ’n Christen is nie hieroor onseker nie, want die Bybel is baie duidelik hieroor – kyk Die Nuwe Testament oor Redding.] Daarmee saam sê ek ook dat ek persoonlik as Christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as ’n verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef. Dit beteken nie dat ek enigsins my dit kan indink dat God nie op ’n manier ook na mense soos Abraham se redding kan kyk sonder dat Christus self daarby betrokke is nie. Ek dink nie mens neem iets van die Christendom weg om ook te sê dat Christus se reddingswerk kan ook wyer strek as net diegene wat binne die Christendom is en wat Christus geken het nie. [Kommentaar: Hier bevraagteken hy weer openlik redding deur Jesus Christus alleenlik.]

Jean: … Christene het die Bybel en Moslems die Koran en dan word die vraag gevra: “Watter boek is die regte, onfeilbare boek?”

[Kommentaar: Daar is nie regtig kwessies daaroor dat die Bybel baie meer integriteit as die Koran het nie. Vir Christene is hierdie ’n baie eenvoudige kwessie.]

Louis: Dit is juis die fokus van die sentrum wat ons in Stellenbosch aan die vestig is. Om te kyk na die soort uitlegstrategieë wat in die Christendom gebruik word en wat in die Judaïsme gebruik word en uiteindelik in Islam gebruik word om hulle heilige skrifte uit te lê. Nou eerstens moet ’n mens ook sê dat dit nie net die drie godsdienste is wat van mekaar verskil nie, maar dat daar ook weereens ’n spektrum is van, die woord wat ons dikwels gebruik is hermeneutiek, dit wil sê, van uitlegstrategieë, binne elkeen van hierdie godsdienstige omgewings. Binne die Christendom is dit so dat in die Bybelwetenskappe daar algaande oor jare heen ’n soort uitlegstrategie ontwikkel het waarin ons ook dialogies na die waarheid soek. Dit wil sê, met dié gelowe wat ons vooraf gegaan het en wat ook verantwoordelik was om die Bybelse geskrifte tot stand te bring, maar dat ons dit ook doen in gesprek met ons broeders en susters wat rondom ons is wat in die tyd lewe waarin ons nou is. [Kommentaar: 1) Sonder om uit te brei daarop is die stelling dat godsdienste dialogies na die waarheid soek, hoogs aanvegbaar. 2) Soos reeds genoem, die Christendom is deur geen geloof vooraf gegaan nie. Die Joodse geloof is ’n afwyking van die Christelike geloof en die Moslemgeloof het eers in die 600’s nC ontstaan en is ’n nuwe godsdiens. Nie in een van hierdie gelowe word Christus as God en Here aanbid nie. 3) Christus het ons nie geleer om van alle mense as “broers en susters” te praat nie (Luk 8:21).] Dit beteken ook dat ons binne die Christendom met mense wat radikaal verskil van mekaar ook in gesprek moet gaan oor die Bybel, maar ook verder nog dat ons in gesprek moet kan gaan met mekaar oor godsdiensgrense heen. Ek dink dit is ’n fassinerende ding om juis ook agter te kom van mekaar hoe lees ons ons heilige geskrifte. Dit ís so dat daar sterker tendense binne Islam is en sterker tendense binne die Christendom is oor hoe ons ons geskrifte verklaar, maar uiteraard, as ons dit nie van mekaar leer ken nie dan kan ons ook nie oor ons geskrifte met mekaar gesels nie.

Jean: In die bruin gemeenskap is daar baie meer Christene en Moslems vriende met mekaar. Is dit nie een van die probleme dat so min wit Christene Moslemvriende het nie en dat die onkunde dikwels daaruit spruit?

Louis: Jy is reg, Jean. Ek het al dikwels gesê dat as gesprek tussen Christene en Moslems nie in die Kaap kan werk nie dan weet ek nie waar anders nie, want hier is daar ’n gemeenskaplike taal – hier praat ek en die sjeg albei Afrikaans met mekaar. Daar is ’n gemeenskaplike politieke geskiedenis – daar was mense van beide Moslemkant en Christenkant wat aan dieselfde kant van die “struggle” was. Dit is eenvoudig so dat ons te min van mekaar weet ook as gevolg van ons politieke situasie, nie net as gevolg van ons godsdienstige situasie nie. Dit is, dink ek, een van die dinge wat definitief moet gebeur en dat ek ook dan duidelik sê dat een van die dinge wat my absoluut aanstaan van die Moslemgemeenskap, die lekker kos is wat hulle maak en wat met hulle feeste gepaard gaan. Dit is die soort ding wat ek dink ons moet uitbuit… vriendskapsbande, om die lewe met mekaar eenvoudig te deel sal help dat ons ook vir mekaar respek sal hê oor hoe ons glo. [Kommentaar: Ek is van mening dat indien Louis geglo het dat mense sonder Christus, sonder hoop en sonder God in die wêreld is (Efesiërs 2:12), sou sy prioriteit daarin gelê het om vir Moslems die Evangelie te bring. Om lekker saam te kuier en te eet sou ’n bysaak gewees het.]

Jean: Is dit reg dat Christene in Moslemlande ingaan om Moslems tot hulle geloof te bekeer? Moet mense nie net mekaar se gelowe respekteer nie?

Louis: Kyk, ek dink daar sit groot sin daarin om jou eie godsdiens met oortuiging te kan uitleef. Ek wil nie daaroor ’n ander siening handhaaf nie. Waar ek ookal heen gaan wil ek as Christen ook my oortuiging kan uitleef. [Kommentaar: Hierdie stelling sê niks daaroor om die Evangelie aan ander te verkondig nie. Hierdie stelling gaan oor jou eie regte as Christen in ’n Moslemland en godsdiensvryheid.] Dit beteken nie dat ek daarmee ander mense moet gaan oortuig nie. Ek dink binne die Christendom besef ons te min die waarde van getuig en ons wil te veel oortuig. Bloot deur te getuig van die genade wat ons in Christus vind dink ek lewer ons uiteindelik ook aan ander uit ander omgewings ’n getuienis wat iets sê van die liefde wat ons in Christus gevind het. Ek wil nie mense met ’n Bybel oor die kop slaan en sê jy moet jou nou bekeer tot my geloof andersins gaan jy nie gered word nie. [Kommentaar: Ek wonder wat Paulus hieroor sou sê wat op soveel geleenthede mense probeer oortuig het van die Evangelie (Handelinge 17:1-4; 18:4-6; 19:8-9; 26:28-29; 28:23-26).] Ek kan dit eenvoudig nie rym met die God wat ek leer ken het in Christus nie.

Slotopmerkings

Alhoewel Louis Jonker dit nie pertinent erken nie, is ek van mening dat dit baie voor die handliggend is dat hy vanuit universalistiese standpunte redeneer. As Louis werklik geglo het dat daar ’n hel is en dat jy slegs gered word deur Jesus Christus, dan sou daar ’n dringendheid by hom gewees het om die Evangelie aan mense te bring en dan sou hy Jean se vrae baie duidelik beantwoord het en hy sou dit as ’n geleentheid gesien het om die waarheid van die Evangelie aan mense te bring. Uit hierdie gesprek is dit egter duidelik dat daar geensins so ’n dringendheid by hom is nie.

Universalisme is direk teenstrydig met wat die belydenisskrifte sê.

  • NG, art 26: Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige.
  • HK, Sondag 5 en 6, vraag 11 tot vraag 19.

Ek herinner Louis aan sy legitimasie-eed waarin hy belowe het om getrou te bly aan hierdie belydenisskrifte.

Ek is nie besig met verdagmakery nie – in Fanie Snyman moeg vir verdagmakery sê Snyman na aanleiding van die feit dat Moreletaparkgemeente uit die NG Kerk wil tree, dat lidmate moet ophou met verdagmakery en met individue self en ook met die kuratoriums moet praat. Ek dink Louis Jonker behoort aan sy kuratorium te verduidelik waarom hy nie as universalis bekend kan staan nie.

1 thought on “RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?”

  1. Oor die vraag of Abraham ’n Christen was, net die volgende: In Genesis 20 vers 6-7 staan dat God self aan Abiméleg in ’n droom verklaar dat Abraham ’n profeteet was. Verder lees ons in Genesis 22 : 15 -18 die volgende: “Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.” In Galasiers 3 maak Paulus die wese van Abraham se geloof onder leiding van die Heilige Gees nog duideliker en ook die Hebreerskrywer in Hebreers 11. In Hebreers 11 vers 19 staan dat Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek. As profeet sou Abraham dus vooruit kon sien dat daar ’n Messias uit sy “saad” sou voortkom en ook waarhede rakende die opstanding uit die dood waarvan Jesus die eerste was. Vir die Christendom, is Abraham dus ’n prototipe van alle Christengelowiges.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui