‘Die NG Kerk is te liberaal vir ons’

Kyk ook:

‘Die NG Kerk is te liberaal vir ons’

Deur Johan Eybers

5 Mei 2019

Die NG Kerk se grootste gemeente, Moreletapark, wil ’n minder liberale inslag volg wanneer hulle hul bande met die kerk verbreek.

Só sê gemeentelede wat by die diens was waar lidmate twee weke gelede ingelig is oor die gemeente se plan om moontlik uit die NG Kerk weg te breek.

Die gemeente het die sinode van die NG Kerk Donderdag per brief ingelig dat hulle uit “sinodale verband” wil tree. Hulle plaas die saak “op die tafel” van die sinode, lui die kort brief.

Volgens ’n gemeentelid het ds. Pieter Badenhorst, ’n senior predikant van Moreletapark, voorverlede Sondag aan hulle verduidelik die gemeente kan hom nie vereenselwig met die liberale rigting wat die NG Kerk ingeslaan het nie.

“Badenhorst het toe gesê die kerk voel meer tuis by Hillsong,” sê die gemeentelid.

Badenhorst het egter gister gesê daar is geen sprake van nie en Hillsong het niks te make met Moreletapark se besluit om weg te breek nie.

Hillsong is ’n Australiese charismatiese kerkgroep met takke in Gauteng en die Wes-Kaap. Hillsong is, nes Moreletapark, gekant teen gayhuwelike.

’n Senior kerkleier wat nie ’n gemeentelid is nie, het gesê hy het by bronne gehoor die gemeente het spontaan opgestaan en begin hande klap toe Badenhorst vir hulle gesê het hulle wil soos Hillsong wees en dat hulle van plan is om hul rug te keer op die NG Kerk.

“As dit die rigting is wat hulle wil inslaan, het ons begrip dat hulle wegbreek. Sulke ontevredenheid hou die kerk gevange. Moreletapark is al vir lank ongemaklik met die res van die kerk.”

Binne die NG Kerk word gesê die groot kopseer sal wees wat gaan word van die miljoene rande se skuld wat Moreletapark glo het.

Die gemeente het in 2017 altesaam 19 personeellede, insluitende drie van die kerk se 11 leraars, afgedank nadat duisende lidmate die kerk verlaat het.

Van die mense wat afgedank is, het tussen tien en 30 jaar vir die kerk gewerk.

Die kerk het toe gesê sy lidmate het oor die laaste jare van 10 000 aktiewe lidmate tot tussen 7 000 en 8 000 gekrimp. Dit is onbekend hoeveel aktiewe lidmate daar tans is.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die kerk se algemene sinode, sê hy hoop om meer duidelikheid te kry oor die rede waarom die gemeente hulle van die kerk wil losmaak wanneer hulle Dinsdag met die gemeenteleiers vergader.

“Ek het nog nie nooit in my loopbaan met so iets te doen gekry nie. Kerkeenheid is vir my die belangrikste hier,” sê hy.

Badenhorst het gister gesê al wat op die oomblik ter sake is, is “ons oorweging om die NG Kerkverband te verlaat”.

Hy het vroeër gesê die gemeenteleiers sal ’n verklaring oor die saak uitreik sodra gesprekke met die NG Kerk se leierskorps gevoer is.

Janse van Rensburg, dr. Dewyk Ungerer, aktuarius van die algemene sinode moderamen, en ds. Dirkie van der Spuy, moderator van die oostelike sinode en ondervoorsitter van die algemene sinode, is deel van die afvaardiging wat Dinsdag met die gemeente se leiers gaan vergader.

Hoewel Van der Spuy in dié saak die NG Kerk sal verteenwoordig, is hy ’n afgetrede leraar by Moreletapark.

Dit kan ’n dilemma skep, meen sommiges. Van der Spuy se rol in sowel die oostelike sinode as die algemene sinode is uit hoofde van sy amp in die gemeente.

Aan Rapport het hy dié week egter gesê hy is glad nie bewus van Moreletapark se besluit nie omdat hy nie op die gemeente se “sentrale kerkraad” is nie.

“Ek was nie deel van die gesprekke nie. Ek weet nie wat die beweegredes is nie, maar ek kan my indink dit gaan oor ontnugtering en ongelukkigheid. Ek neem aan dit is ’n reaksie op die 2015-besluit.”

Op ’n vraag of hy teenwoordig was toe die gemeente oor die besluit ingelig is, het hy gesê hy was “lanklaas in die kerk”.

Van der Spuy sê hy gaan nie in dié stadium kant kies nie.

“Ek is deel van die leierskap van die algemene sinode wat met die gemeente gaan praat. Ek sal sien waarheen dit gaan voordat ek my keuses uitoefen,” sê hy.

Moreletapark was gekant teen die sinode se besluit in 2015 dat gemeentes self kan besluit of hulle gayverhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante aanstel.

Die gemeente was ’n paar jaar gelede in die nuus toe hulle Johan Strydom, ’n gay orrelis, onregmatig afgedank het en in die hof slae gekry het daaroor.

Maartje van der Westhuizen, ’n lid van die oostelike sinode, sê sy glo daar is ’n sterk moontlikheid dat die saak beredder kan word.

Sy sê indien die gemeente en die NG Kerk nie tot ’n vergelyk kan kom nie, sal daar uiteindelik onderhandel moet word oor die prosesse om hul bande te verbreek.

As daar enige gemeentelede is wat nie bande met die NG Kerk wil verbreek nie, sal die wegbrekers nie die kerkgebou kan behou nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui