Senior dominee onttrek aan sinode

Kyk ook:

Die volgende berig oor Gert Duursema wat hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek het omdat die NG Kerk leierskap besluit het om nie die 2019 hofuitspraak oor selfdegeslagverhoudings te beveg nie.

**********

Senior dominee onttrek aan sinode | Netwerk24

Deur Johan Eybers

5 Mei 2019

Een van die mees senior dominees in die NG Kerk het hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek op dieselfde dag dat die Moreletapark-gemeente bekend gemaak het hy wil moontlik sy bande met die NG Kerk verbreek.

My “afskeiding” van die algemene sinode is weens “die teologies-dogmatiese en kerklike trajek waarop die kerk hom begewe het, skryf dr. Gert Duursema in ’n brief aan ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk. Duursema is ’n lid van die algemene sinodale moderamen (ASM) as verteenwoordiger van die NG Kerk in Noord-Kaapland.

“Vir my was die laaste strooi toe die algemene taakspan regte (ATR) besluit het om aan te beveel om nie teen die hooggeregshof se uitspraak (om gays as predikante toe te laat) te appelleer nie.”

Duursema was die enigste van die ATR se tien lede wat wou hê die kerk moet appelleer teen die hofbeslissing.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Maart bevind die kerk moet gay pare in die huwelik bevestig. Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit van 2016 – om ’n vorige besluit ten gunste van huwelike – tersyde gestel nie. Die hof het ook bevind dit is onregmatig om gay lidmate die huwelik te ontneem.

Duursema sê in sy bedankingsbrief sy besluit gaan nie om die gay-kwessie of oor 2015 en 2016 se besluite “as sodanig nie”.

“Dit gaan daaroor dat gesprek oor hierdie saak nie meer in die lig van die Woord van God gevoer kan word nie.”

Sy probleem is die ASM se besluit dat die kerklike gesprek oor selfdegeslagverhoudings slegs met volle inagneming van die betekenis en die implikasies van die hofuitspraak voortgesit kan word, lui sy brief.

“Na my mening staan of val die kerk as kerk op hierdie punt. As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor.

“Vir my gaan dit by oorweging van ’n appèl nie om selfdegeslagverhoudings nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teenoor die staat en selfs die Grondwet te staan en te sê: ‘So spreek die Here’”.

Hy het aan Rapport gesê dit gaan nou oor die suiwere implementering van ’n wêreldse hof se uitsprake en “die valse kerk wat aan homself en sy besluite meer gesag toeskryf as aan die Woord van God”. Daarom onttrek ek my aan alle werksaamhede van die algemene sinode,” sê hy.

Duursema sê sy besluit het niks met Moreletapark te doen nie. “Ek is nie op dieselfde plek as Moreletapark nie. Ek wil nie bande met die kerk verbreek nie. Kerkeenheid is vir my ontsettend belangrik. As jy te doen het met die valse kerk, moet jy jou binne die kerk-bestaan by die ware kerk voeg,” sê hy.

1 thought on “Senior dominee onttrek aan sinode”

  1. Vir my is dit net steeds verrassend dat daar steeds opgeleide teoloë/kerke kan wees wat hul en hul groepie se interpretasie van die Skrif as die volle waarheid kom voor hou en dan om hul te handhaaf moet enige ander teoloog/kerkgroep se standpunt wat van hul verskil afgemaak word as vals.
    Geen ingeligte persoon hoort meer te glo dat uit die 7-biljoen aard bewoners daar sulke uitsprake meer moontlik of houdbaar is nie. Ja, met die inligting tot jou beskikking en met jou vertrekpunte kan ek jou glo dat jy tot sekere oortuigings en verstaan van sake kan kom. Ek sal die tyd maak om te probeer verstaan en begrip ontwikkel vir dit. Tog, maak dit jou standpunt nie reg of verkeerd nie. En definitief ook nie die waarheid nie. Dis arrogant en eensydig. Net so is my oortuigings nog reg of verkeerd. Maar dit is my oortuiging. Maar nie die waarheid nie. Waarheid sal altyd groter wees as enige standpunt en ja selfs enige belydenisgeskrif of watter heilige openbaring jy wil aanhang.
    Dis hoe ek en jy sal moet begin saamleef. Die dae om die wat van jou verskil uit te neem en te gaan verbrand is barbaars en hoort by ’n era van bygeloof en oningeligtheid. Jy kan jou opruk, bedank, losmaak, maar verseker het jy geen bydrae gemaak vir die pad van die kerk vorentoe nie.
    Dis jammer dat sommige steeds kies om hul verskille met ’n bloedpad te laat geld (letterlik en figuurlik). Hierdie styl van etikette hang en afmaak as boos en verkeerd, kom net verwoesting saai in ’n nuwe tyd wat vir baie van ons bevryding en nuwe moontlikhede kom skep het. Ons het jul rerig nie meer in ’n diverse en wonderlike gemeenskap nodig nie. Vir soveel mense is hierdie ’n nuwe tydperk om van mekaar te leer, te ontdek, groei en nuwe horisonne oop te breek.
    Mag ons tafels waar ons aansit om ons heilige, goddelike maaltye te eet al groter word soos ons gaan haal om in te sluit, by te leer en te waardeer. In plaas daarvan om ’n beknopte eenmans maaltyd te probeer hou. Daar is in elk geval geen feesvieringe moontlik aan so ’n “singlesclub” benadering nie.
    Waldemar Stumpfe

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui