Kerswaak vir Moskee-moord

Kyk ook:

Op 17 Maart het ds Riaan de Villiers, leraar van die Groote Kerk in Kaapstad hulle lidmate aangemoedig om ’n kerswaak by te woon ter nagedagtenis aan die ongeveer 50 Moslems wat op 15 Maart 2019 deur Brenton Tarrant in Nieu Seeland doodgeskiet is. Kyk die artikel “Kerswaak vir Moskee-moord” hieronder.

Daar is ’n paar dinge hierop te sê:

Groote Kerk progay

Groote Kerk is pro-homoseksualiteit en kyk daarom “anders” na die Bybel (kyk Amptelike verklaring van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk). Daarom moet enigiets wat uit hierdie kerk kom ekstra krities beoordeel word.

Geen erkenning aan Christenmartelare

Dit is uiters ironies dat daar na beraming al 120 Christene in Nigerië doodgemaak is sedert die begin van Februarie 2019, maar hiervan word geen melding gemaak nie. Kyk:

En op Sondag 27 Januarie 2019 is 20 Christene dood in ’n bomaanval in ’n Filippynse kerk. Isis het verantwoordelikheid aanvaar.

Ter versagting moet gesê word dat die media ’n groot rol speel dat eensydige nuus die publiek bereik, maar De Villiers moet tog sekerlik weet van die geweldige geweld wat Moslems teenoor Christene reg oor die wêreld pleeg. Hy moes daarvan melding gemaak het, maar hy het nie.

Intergeloofsgeleentheid

Die kerswaak was ’n intergeloofsgeleentheid. Paul Avenant, ’n lidmaat van die Groote Kerk het onder andere gesê: “Dit was regtig amazing hoe almal saamgestaan het – maak nie saak wat jou status, geloof of ras nie”.

Christene moet uiters versigtig wees om by enige intergeloofsgeleentheid betrokke te raak, omdat dit die idee gee dat ander gelowe erken word. Die Bybel is duidelik dat daar slegs een God is, en dit is die drie-enige God van die Bybel.

Universalisme

De Villiers sê: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Almal is wel skepsels van God, maar almal is nie kinders van God nie. Hierdie word onder andere in Johannes 1:12 gesê: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

De Villiers se woorde later in die artikel: “misplaaste geloofsoortuigings van uitverkorenheid” skep verder die indruk dat hy ’n universalistiese uitkyk het, met ander woorde, dat daar nie ’n hel is nie en dat alle goeie mense hemel toe gaan.

Kyk ook Die Nuwe Testament oor redding.

Rede vir aanvalle

De Villiers sê verder die volgende: “As daar ooit ’n tyd was vir mense van verskillende gelowe om saam te staan teen individue, politieke leiers en geloofleiers wat verwronge boodskappe verkondig van haat, verdeeldheid en vrees, dan is dit nou,”

’n Mens wonder na wie hy verwys? Wie is hierdie politieke- en geloofsleiers wat haat, verdeeldheid en vrees verkondig wat hierdie moorde op Moslems tot gevolg gehad het?

De Villiers sê ook: “Dié aanval en soortgelyke aanvalle is die produk van ’n giftige vermenging van denkwyses soos onder andere nasionalisme, rassisme, vreemdelingehaat en misplaaste geloofsoortuigings van uitverkorenheid,”

Die leser moet maar self besluit wat hy hier bedoel…

David Wood gee op Youtube ’n baie goeie opinie oor die rede vir hierdie aanval. Kyk I Predicted the Christchurch Mosque Massacre. Kortliks sê hy die volgende: Oor die algemeen sien mense die gevaar van Islam, maar niemand durf dit te kritiseer nie omdat dit polities inkorrek. Hierdie skep frustrasie en lei tot hierdie tipe uitbarstings.

Waaroor ons almal wel kan saamstem is dat hierdie moorde tragies is en niks goeds inhou nie.

***********

Kerswaak vir Moskee-moord | Kerkbode

19 Maart 2019, Conette le Roux

Christene het Sondagaand (17 Maart) vir ’n kerswaak op St George-katedraal in Kaapstad se trappe in solidariteit met hulle “Moslembroers en -susters” byeengekom.

“Dit was ’n heilige oomblik, ’n oomblik van lig teenoor duisternis en ’n oomblik van eenheid teenoor verdeeldheid. ’n Oomblik van liefde teenoor haat,” sê ds Riaan de Villiers, leraar van die Groote Kerk in Kaapstad.

Die “duisternis” was die massamoord van sowat 50 Moslems wat volgens Netwerk24 deur die 28-jarige Brenton Tarrant van Australië op 15 Maart gepleeg is. Tarrant het sy moordtog op twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland, regstreeks op Facebook uitgesaai.

Die Groote Kerk het lidmate op Facebook in kennis gestel dat hulle, in plaas van hulle gewone aanddiens by hul kerkgebou, by St George-katedraal vir ’n kerswaak moet aansluit.

Volgens De Villiers het die Groote Kerk-lidmate saam met ’n diverse groep mense op die trappe kerse gebrand en in stilte gebid vir die slagoffers.

De Villiers sê om Jesus te volg “lei jou tot langs mense wat vervolg word, wat gemarginaliseer, verwerp en gehaat word”.

“In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Jacques Strydom, ’n lidmaat van die Groote Kerk, sê hy het eers die waarde van die kerswaak besef toe hy sien hoe divers die bymekaarkoms is. “Dit maak my opgewonde dat kerke nie net oop kan wees vir verskillende mense nie, maar selfs ook vir ander gelowe,” sê hy.

Paul Avenant, ook ’n lidmaat van die Groote Kerk, sê dit was vir hom ’n wonderlike ervaring. “Dit was regtig ’n bymekaarkoms om liefde in ’n tyd van rou te bewys. Dit was regtig amazing hoe almal saamgestaan het – maak nie saak wat jou status, geloof of ras nie,” het hy gesê.

“As daar ooit ’n tyd was vir mense van verskillende gelowe om saam te staan teen individue, politieke leiers en geloofleiers wat verwronge boodskappe verkondig van haat, verdeeldheid en vrees, dan is dit nou,” het De Villiers verder gesê.

Dié aanval en soortgelyke aanvalle is die “produk van ’n giftige vermenging van denkwyses soos onder andere nasionalisme, rassisme, vreemdelingehaat en misplaaste geloofsoortuigings van uitverkorenheid,” aldus De Villiers.

“As die kerk dié sienings in hulle midde akkommodeer of toelaat, is hulle medepligtig,” sê De Villiers.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui