‘Waar het die kerk liberaal geword?’

Die volgende artikel is geskryf na aanleiding van die feit dat Kairos Netwerk voornemende teologiese studente aanbeveel om nie by die drie teologiese fakulteite van die NG Kerk te gaan studeer nie – kyk Kairos Netwerk kyk na ander instansies vir NG opleiding.

Kyk die volgende reaksies op hierdie artikel:

*****

‘Waar het die kerk liberaal geword?’ | Netwerk24

Deur Frits Gaum

Dinsdag, 5 Oktober 2021

Sien gemeentes van die NG Kerk wat doleer oor selfdegeslagverhoudings kans vir die hele Levitikus 20:13? Frits Gaum wonder waar die streep getrek gaan word.

‘As daar iemand is wat by ’n manlike persoon slaap soos by ’n vrou, het hulle albei iets afstootliks gedoen. Hulle moet beslis sterf.”

So staan dit in Levitikus 20:13. As ’n mens nou die gesag van die Skrif eerbiedig, sal sommige mense meen, kan jy seker nie by die eerste deel van hierdie vers stop nie. Jy moet deurdruk na die tweede deel: “Hulle moet beslis sterf.”

“Beslis” staan dit daar in die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. (Maar vroue wat by vroue slaap, kom blykbaar los.)

Ek dink nie baie van die treurende gemeentes (daar is nou al meer as 80) wat die algemene sinode van die NG Kerk van dwaling en liberalisme beskuldig oor hul besluit om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings sien kans vir hierdie tweede deel van Levitikus 20:13 nie. (Hoewel ’n mens nie seker kan wees nie; dalk is daar ’n paar wat gay mense met klippe sal wil doodgooi.)

Die punt is natuurlik dat ’n mens met groot erns oor die gesag van die Woord van God kan praat – soos ek dit ook wil doen – maar dat jy nie mooi weet wat jy daarmee bedoel nie.

Waar pas Levitikus 20:13 in as die gesag van die Bybel ter sprake kom?

Die Bybel en die X-faktor

Dit hang natuurlik af van jou interpretasie van die Skrif – jou hermeneutiek, soos dit in teologiese taal heet.

As jy die Bybel benader, doen jy dit altyd vanuit ’n bepaalde perspektief en met ’n bepaalde interpretasie. Een van die vanselfsprekende beginpunte van jou benadering tot die Bybel is dat jy aanvaar dat al die dele van die Bybel nie eenders is en op dieselfde vlak lê nie.

Daar is oerverhale, lang verhale, kortverhale (op skool het ons Afrikaans-onderwyser gesê die “Verlore Seun” is een van die heel mooiste en beste kortverhale in die wêreldliteratuur). Daar is visioene en reisbeskrywings en historiese vertellings.

Alles kan eenvoudig nie oor een kam geskeer word nie – jy moet in jou interpretasie rekening hou met die genre waarin ’n bepaalde gedeelte geskryf is, jy moet in ag neem of dit in die Ou of Nuwe Testament is, jy moet probeer vasstel of dit tot die kernboodskap van die Bybel behoort, of dalk meer op die periferie lê.

Jy moet nadink of navors oor wat die Bybelskrywers in die eerste plek vir hul eerste lesers wou sê en wat dit vir ons in ’n totaal ander tyd wil sê.

En ja, sonder twyfel moet jy met die “X-faktor” rekening hou: God, wie se betrokkenheid by die Bybel – toe dit geskryf is, deur al die eeue tot vandag in ’n postmoderne, amper (maar nog nie) post-Covid-19-wêreld – vir gelowiges ononderhandelbaar is.

Wie die “X-faktor” uit die Bybel haal, en uit die lees en begrip van die Bybel in ons tyd, het te doen met ou, baie ou, dokumente wat interessant is, maar dis ook al. Die betrokkenheid van God by die Bybel kan natuurlik nie “bewys” word nie – soos God se bestaan ook nie “bewys” kan word nie. Wat nie wil sê dat dit nie wáár is nie.

Maar terug na die treurende gemeentes.

Andries Treurnicht en Johan Heyns

Waar gaan hulle, as hulle nou eers hul “sinode vir behoudendes” in die NG Kerk gestig gekry het, die streep trek?

Ons weet dat selfdegeslagverhoudings vir hulle taboe is (al kan aangedui word dat die Bybel nêrens oor homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings “in liefde en trou”, soos ons dit ken, praat nie).

Maar waar het die NG Kerk liberaal geword?

Toe apartheid in 1986 en daarna met al hoe meer drif deur die NG Kerk verwerp is, was daar ook beswaardes wat die Bybel en Skrifgesag bygehaal het (Genesis 11; Deuteronomium 32:8; Handelinge 17:26).

Ek was destyds lid van die moderatuur en onthou al die afvaardigings wat ons te woord moes staan, die driftige gesprek tussen dr. Andries Treurnicht en dr. Johan Heyns . . . en uiteindelik die skeuring toe tussen 30 000 en 40 000 lidmate van die NG Kerk ’n nuwe kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk – net vir wit Afrikaners – gestig het.

Dit was bitter moeilike, traumatiese tye. Maar die NG Kerk se leidsliede van daardie dae het nie bes gegee nie.

Die beswaardes is met respek behandel, ellelange gesprekke is gevoer om hulle te probeer oortuig dat dit nie bevrydingsteologie of liberalisme is wat die NG Kerk van apartheid laat afsien nie, maar die eenvoudige, duidelike Bybel-boodskap dat jy jou naaste moet liefhê soos jy jouself het.

Gaan die beswaarde treurendes die streep agter of voor die apartheids­besluite van die liberale NG Kerk trek? Gaan hulle saamstem dat die feit dat vroue tot die ampte in die kerk – tot op die kansel! – toegelaat is, op totale liberalisme dui (die Bybel, en Paulus, sê tog klinkklaar wat die getroude vrou se plek in die kerk en samelewing moet wees!).

Nog erger, en vroeër, is slawerny verbied, terwyl die Bybel nêrens sê dis so ’n doodsonde nie. Moet die streep vir die liberale NG Kerk – wat op die ou end saamgestem het slawerny is sonde – dáár getrek word?

Of nader tuis, toe die NG Kerk kinders toegelaat het om Nagmaal te gebruik? Dis tog ’n duidelike teken van die liberalisering van die kerk . . .

En nou, die kersie op die liberale NG Kerk se koek: ruimte vir selfdegeslagverhoudings!

Dis die plek om die streep te trek, sal die beswaardes saamstem, maar noudat al die ander dinge genoem word . . .

En glo my wel, dan sal daar ’n hewige stryery losbars oor wát nou “liberaal” is en wát eintlik net goeddeurdinkte gereformeerdheid – oftewel, Christelikheid – is.

Ander wêreld met ander eise

Ons begrip van die Bybel is nie dieselfde as ons voorouers s’n nie, want ons leef in ’n ander wêreld as hulle met ander eise en ander verwagtinge. Nee, ons moenie agter elke “wêreldse” verskynsel aanloop en dit probeer akkommodeer nie.

Maar God, wat die Bybel aan ons gegee het, het byvoorbeeld ook die wetenskap aan ons gegee. En al kan ons nie alles wat die wetenskap opdis, vir soetkoek opeet nie, het die wetenskap ontsaglike prestasies behaal waarvoor ons die wetenskap – en die Here! – kan dank. Dink maar aan die Covid-19-entstowwe. (Dalk kan ’n mens ook sê die Bybel vertel ons dát God geskep het en die wetenskap vertel hóé God geskep het.)

Wyle Flip Theron, allermins ’n teologiese of kerklike liberalis, het in ’n verslag aan die algemene sinode in 2002 ’n belangrike opmerking oor Skrif-verstaan en Skrif-gesag gemaak.

Hy het daarop gewys dat dit soms nodig is om verder te gaan as die blote letter van die Skrif, juis om aan die gees van die Bybelse voorskrifte gehoorsaam te wees, soos blyk uit die kerk se houding teenoor slawerny.

Hy sê ook: “Soos die Reformatore (Luther- en Calvyn-hulle) moet ons luister na die Gees van God in die ‘letters’. Alleen so bly die Bybel vir ons die lewende Woord van God.”

En veral in die etiek is meer nodig as die beroep op enkele losstaande tekste, maar moet die boodskap van die Bybel in geheel in berekening gebring word.

Waar word die streep getrek?

Intussen is ek baie geïnteresseerd om te hoor waar die treurende gemeentes daardie liberale streep gaan trek as hulle in hul behoudende laer saamkom.

By slawerny, of apartheid, of die vrou in die amp, of . . .?

Daar lê nog taai gesprekke voor. Want wie sien nou regtig kans om “Skrifgetrou” die volledige Levitikus 20:13 in die praktyk te probeer uitvoer?

Gaum is die skrywer van Kerk oor die muur of oor die rubicon? (Naledi, 2020).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui