Bybel hier nie met suspisie gelees nie, maar as Woord

*****

Bybel hier nie met suspisie gelees nie, maar as Woord | Netwerk24

Deur Prof. Henk Stoker, Nwu

5 Oktober 2021

Ek voel dit is nodig om ’n paar sake in perspektief te stel na aanleiding van opmerkings in die berig “Kairos­ kyk rond vir NG opleiding” (29.09).

Die teologiese opleiding wat deur die Noordwes-Universiteit (NWU) gebied word, word deur die Kairos Netwerk (KN) as alternatiewe opleiding genoem vir die NG Kerk se teologiese studente.

In die berig motiveer Dr. Anton­ Knoetze (voorsitter van die KN) hul oorweging van die NWU met “as jy in die gereformeerde bediening wil staan, moet jy tog gereformeerd onderlê word”.

Ds. Jan Lubbe staan dit teen en meen dit is “naïef” om voornemende NG-leraars na die NWU te verwys, met die motivering dat fakulteite nie toegelaat word om “eksklusief ’n enkele kerk se teologiese oortuigings (te) onderrig nie”.

Hoewel geen teologiese fakulteit hom eksklusief in sy opleiding op een denominasie wil of kan toespits nie, kan en behoort ’n fakulteit wel ’n nis te hê waarop dit fokus. Iemand wat ruimte- of kernfisika wil bestudeer, sal byvoorbeeld by ander universiteite verbyry om dit by die NWU te studeer, aangesien dit ’n nis-area in die natuurwetenskaplike fakulteit is. So maak dit ook sin dat studente wat gereformeerde teologie wil studeer, na die teologiefakulteit van die NWU kom waar reformatoriese teologie ’n nis-area is.

Dit blyk dat dit vir die KN oor skrifgetroue opleiding gaan. Deel van die beskrywing van die reformatoriese nis-area van die NWU is die vertrekpunt dat die Bybel die Woord van God is. Hierdie vertrekpunt word deur die meeste Christene en kerke wêreldwyd gehandhaaf. Dit sluit nie uit dat ook krities na die paradigma gekyk word nie. Die tale waarin die Bybel geskryf is en tekskritiek wat ingaan op die samestelling van die Skrif, is ’n belangrike deel van die opleiding. Navorsing en doktorsgrade word gedoen op van die duisende manuskripte wat dele van die Bybel bevat. Telkens word gesien hoe akkuraat die kerk die Bybel in die eeue voor die drukkuns oorgeskryf het, selfs in tye van bittere vervolging. Soveel bevraagtekeninge van die Bybel kon oor eeue heen wetenskaplik oorweeg en afgewys word en maak deel uit van die opleiding.

Die belangrike van ons reformatoriese vertrekpunt by die NWU is dat die Bybel nie met suspisie gelees word nie. Daar is studente van verskillende denominasies wat juis na die NWU kom vir teologiese opleiding om vanuit die Bybel as Woord van God hul werk te kan doen.

Die KN se siening maak daarom vir my sin dat studente van die NG Kerk ook die NWU kan oorweeg as plek van opleiding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui