Ligloop vir die pyn van 1986

In die artikel hieronder pleit prof Johan van der Merwe dat die NG Kerk moet onthou hoe pynlik die skeuring in 1986 was toe die APK van die NG Kerk geskeur het. Hy sluit af met die woorde: “Ons durf mekaar nie weer verloor nie.”

Die verskil is dat die APK geskeur het hoofsaaklik weens politieke redes. Die dolerendes in die NG Kerk doleer egter nie oor politieke redes nie, maar oor teologiese redes.

Die NG Kerk is steeds ’n belydeniskerk. Dit is onmoontlik om totaal verskillende teologiese sieninge binne een kerk (denominasie) te hê. Dan kan alle kerke in die wêreld net sowel lid word van die wêreldraad van kerke en dan kan elke gemeente of subgroep doen wat hulle wil. Dit is nie prakties nie.

So ’n opset is nie net onprakties nie, maar dit is in sy geheel on-Bybels. Hoe kan ‘n mens ’n familie bly in sulke omstandighede? 1 Korintiërs 5:11 sê jy moenie saam met sulke mense eet nie en 2 Johannes sê jy moenie eers sulke persone groet nie. Die Bybel sê nêrens dat jy ten alle koste ’n familie moet bly nie.

Die feit is dat ons mekaar reeds verloor het. Daar het ’n vasgelooptheid in die NG Kerk ontstaan wat maak dat die twee partye mekaar nooit sal vind nie.

Daarom móét die NG Kerk skeur!

*******

Ligloop vir die pyn van 1986 | Kerkbode

Johan Van der Merwe

5 Oktober 2021

Die NG Kerk het vyf en dertig jaar gelede in die woorde van prof JA Heyns een van die don­kerste oomblikke in haar geskiedenis beleef. Van 20-22 Oktober 1986 het die verslag van die Hersieningskommissie vir Ras, volk en nasie voor die Algemene Sinode in Kaapstad gedien. Die verslag het algemeen bekend geword as Kerk en samelewing. Met Kerk en samelewing het die NG Kerk haar lidmaatskap vir mense van alle rasse oopgestel, kerkdeure na eredienste vir almal oopgemaak, bevestig dat apartheid nie Bybels was nie en dit duidelik gestel dat die “Skrif nie rasgemengde huwelike verbied nie”.

Hierdie besluite het hewige reaksie ontlok. ’n Protesvergadering, wat bygewoon is deur meer as 2 500 beswaarde lidmate wat van oor die hele Suid-Afrika gekom het, het op 28 November 1986 in die Skilpadsaal in Pretoria plaasgevind. Dit was die begin van ’n proses wat op die ou end op ’n skeuring in die NG Kerk sou uitloop. Teen Oktober 1987 het dit geblyk dat 467 gemeentes uit die 1 265 gemeentes van die NG Kerk lidmate aan die nuutgestigte Afrikaanse Protestantse Kerk afgestaan het. Uit ’n totaal van 7 751 lidmate was daar 344 ouderlinge, 256 diakens en 19 predikante wat die NG Kerk verlaat het. Dit was ’n skamele getal uit ’n kerk wat op daardie stadium ver meer as ’n miljoen lidmate gehad het. Syfers kwantifiseer egter nie die pyn wat hierdie gebeure veroorsaak het nie. Gemeenskappe, gemeentes en gesinne is deur hierdie gebeure verdeel en uitmekaar geskeur.

Die bekende skrywer Dana Snyman onthou die gebeure van 1986 as pastoriekind goed. Hy vertel hoe sy pa, wat predikant in die NG Kerk was, in die nag knaend by die kombuistafel met die kerkorde en die nuwe beleidstuk gesit het. Hy vertel van al die vergaderings, die beskuldigings, die alliansies wat ge­smee is en hoe die strydende partye mekaar steeds vroom as “broer” aange­spreek het. Hy vertel hoe hy later wou skreeu: “Wat het dit alles met Jesus te doen, Pa?” Hy vertel hoe sy pa uit die NG Kerk bedank het en Ou Mutual-polisse gaan verkoop het en hoe sy ma in daardie tyd haar eerste beroerte-aanval gekry het … Die gebeure van 1986 was nie net ’n tydige kerksuiwering soos wat soms so maklik beweer word nie. Dit was seer.

In 2021 is daar weer ontvredenheid in meer as tagtig gemeentes van die kerk. Dit kom op verskillende plekke op verskillende maniere na vore. Miskien moet die kerk die pyn van die verlede onthou – nie net onthou nie, maar lig­loop daarvoor. Ons durf mekaar nie weer verloor nie.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

1 thought on “Ligloop vir die pyn van 1986”

  1. Prof Johan, die ngk is nie meer ’n kerk nie, dis ’n plek waar jy na toe gaan sodat ander kan sien jy kom kerk toe. Die ngk kerk minag die werklike woord van God. Al die proffies en beleidsinsette, sinode en die res van die parties was nog altyd “wie is nou wie inni kerk”. Kyk net hoe julle die gay storie hanteer … julle bevorder ’n leuen, en bemark die leuen … subtiel en oooo daai groot woord “liefde”!! Ek is weg uit die smart looking ngk …. sal nooit ooit my voet in ’n organisasie sit nie. Dalk moet julle ook dink om julle self ’n nuwe naam te gee, want ngk is soos ’n kersfees boom vol blinkertjies en sterre, maar tog bly dit ’n abomination of paganism ….

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui