Sien dr. Gaum kans vir die hele Bybel?

Die volgende brief is geskryf in reaksie op Waar het die kerk liberaal geword? (Frits Gaum, 5 Okt 2021)

***********

BRIEF: Sien dr. Gaum kans vir die hele Bybel? | Netwerk24

Deur Ds. Theo Danzfuss

Maandag, 11 Oktober 2021

Dr. Frits Gaum se lang artikel “Waar het die kerk liberaal geword?” (05.10) begin met ’n moedswillige spottende vraag: “Sien gemeentes van die NG Kerk wat doleer oor selfdegeslagverhoudings kans vir die hele Levitikus 20:13?” Hierdie artikel maak ’n strooipop en bespotting van getroue NG-lidmate se opregte geloof. Dit vereis noodsaaklike regstellings.

• Weens sy persoonlike pro-gay-obsessie het Gaum skynbaar nog nie gehoor dat die doleansie-beweging in die NG Kerk nie oor selfdegeslagverhoudings gaan nie, maar oor minagting van die gesag van die Bybel;

• Ja, Skrifgetroue gemeentes sien natuurlik kans vir die hele Levitikus 20:13, want ons lees die hele Bybel heilshistories. Daarom het ons nie Gaum se snoeiskêr nodig om te kies wat ons pas en wat nie. In art. 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons dat “ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin (die hele Bybel) vervat is . . . om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig”. En in art. 7 dat “niemand, selfs nie die apostels nie, (ook nie die algemene sinode), anders (mag) leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie.”;

• Die groter vraag is of Gaum nog kans sien vir die hele Bybel met al die Ou en die Nuwe Testament se boeke? Blykbaar het hy die heilshistoriese vertolking van die Woord verruil vir ’n soort dispensasionalistiese eksegese waarvolgens die Nuwe Testament ’n ander evangelie en ander God verkondig as die Ou Testament? Wat die God van die Ou Testament gehaat het, dit seën die God van die Nuwe Testament? Wat toe sonde was, is nou God se wil?;

• Het Gaum dan nie ook in sy legitimasie-eed die volgende onderteken nie: “En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deuteronomium 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is . . .” Hoe durf hy die Bybel met sy eie tuisgemaakte snoeiskêr lees asof Paulus verkeerd was om te sê: “Die hele Skrif (ook Levitikus 20) is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing . . .” (2 Timotheus 3:16);

• In so ’n benadering is daar geen begrip vir die heilshistoriese hermeneutiek nie. As ons die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament lees, het ons nie ’n snoeiskêr nodig om uit te sny wat ons nie pas nie. Dan weet ons dat Jesus die vloek van die wet gedra het sonder om een jota of titel daarvan tot niet te maak. Daarom het Hy vir die vrou wat in owerspel betrap is en ingevolge die wet gestenig moes word, vrygespreek met die woorde: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Hy het haar sonde vergewe, maar dit nie goedgepraat nie. Sonde bly sonde, daarom sê Hy: Gaan heen en sondig nie meer nie. Jesus vergewe haar sonde van owerspel, maar Hy stel nie ’n kerklike formulier op om nou owerspel tussen mense kerklik in te seën nie;

• Paulus bevestig ook herhaaldelik dat ergerlike sondes van die Ou Testament steeds ergerlik bly, maar in die lig van die kruis van Jesus eis hy nie die Ou Testamentiese strawwe daarvoor nie. Die vloek wat Jesus aan die kruis moes dra, ontsondig nie die sonde nie, maar openbaar juis hoe skrikwekkend die sonde is; en

• Die swakste skakel in die artikel is waar Gaum grashalmpies uit die verlede gryp om steun te werf vir sy snoeiskêr-eksegese. Hy gryp na alles, van apartheid tot slawerny en kindernagmaal om ons te probeer oortuig dat ons nie meer die hele Bybel kan glo nie. Hy het net vergeet van die “plat aarde”, want dit sou hom dalk nog ’n paar blinde aanhangers kon gee.

Nee, Gaum, die meer as 84 dolerende gemeentes het nie jou snoeiskêr nodig nie. Hulle doleer juis om die NG Kerk terug te roep na die Sola et Tota Scriptura – die volledige Bybel en die Bybel alleen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui