In antwoord op Frits Gaum

Die volgende artikel is aan Beeld voorgelê as reaksie op die artikel deur Frits Gaum.

*****

In antwoord op Frits Gaum

Deur Andries Louw

14 Oktober 2021

Die artikel deur Frits GaumWaar het die kerk liberaal geword?” (5 Okt 2021) met ‘n treffende prent van ‘n oop Bybel kan nie anders as om die oog te vang en die belangstelling van lesers te prikkel nie. Die meeste lidmate sal ook met Frits saamstem na aanleiding van hulle ervaring dat die evangelie en die Woord van God steeds getrou in hul tuisgemeentes verkondig word. Met verwysing na die dolerendes wat treur oor die 2019 besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk waarin ruimte gemaak word vir selfdegeslagverhoudings, verklaar Frits in die artikel “dat ‘n mens met groot gesag van die woord van God kan praat” – wat hy ook graag wil doen – “maar dat jy nie mooi weet wat wat jy daarmee bedoel nie”.

Hy vra die vraag waar treurende gemeentes die streep gaan trek in die lig van vorige besluite waar die kerk afgesien die Skriftuurlike regverdiging van apartheid, asook ander besluite soos die toelating van die vrou in die amp en verwelkoming van kinders tot die nagmaal.

As emeritus predikant kan ek gemaklik identifiseer met die verruimde en vernuwende denke wat ten grondslag van die genoemde veranderinge lê. Ek dra self ‘n paar littekens van my eie stryd teen apartheid en my ondersteuning van die poging om nuwe (Bybelse) denke oor rasseverhoudinge in die kerk en in ons samelewing tot sy reg te laat kom. En het ook my beskeie deeltjie bygedra om goeie verhoudinge binne die NG Kerk familie te bou en te bevorder. Dit is egter nie die punt waaroor dit in die dolerende beweging gaan nie. Na die beste van my wete is hierdie sake wat hy noem nie by die dolerende beweging ter sprake nie. Die feit dat Frits dit in die debat bytrek is ongelukkig niks anders nie as ‘n aandagafleier om die eintlike punt waaroor dolering gaan te vertroebel en te verduister.

Die dolerene beweging is uitgesproke oor die wyse waarop sommige teoloë wat teologiese studente van die NG Kerk oplei kernaspekte van die Skrifboodskap soos die opstanding van Jesus uit die dood ontken en die feit dat kerklike strukture dit oënskynlik sonder enige regstellende optrede aanvaar.

Frits se fokus in die artikel is egter op die dolerende beweging se beswaar teen die 2019 besluite oor die ruimte wat gemaak word vir die aanvaarding en goedkeuring van selfdegeslagverhoudinge. Sy stelling dat nie alle uitsprake in die Skrif op dieselfde vlak lê nie en sy stelling dat verantwoordelike Skrifuitleg of hermeneutiek van uiterste belang is om die boodskap van die Bybel betroubaar vir ons tyd te ontsluit en toe te pas, sal deur geen bedienaar van die Woord betwis word nie. Die vraag is egter of Frits se hantering van sy gekose teks, naamlik Levitikus 20:13 die toets van goeie eksegese en hermeneutiek kan deurstaan.

Om ‘n enkele teks in Levitikus sonder inagneming van die verband uit te lig en ‘n argument daarop te probeer bou, kan inderdaad as swak Skrifuitleg getipeer word, soos Frits betoog. Ongelukkig is Frits self hieraan skuldig. Die uiters belangrike punt wat hy mis of dalk doelbewus verswyg is dat die bepaalde teks deel vorm van die heiligheidskode, wat verskillende sondes vir Israel as taboe verklaar, naamlik naas afgodsdiens en homseksualiteit ook ander seksuele sondes soos owerspel, seks met naby familielede en seks met diere. Dit staan in skerp teenstelling met die omringende heidense nasies waar hierdie sondes alledaagse praktyk was.

Verder ignoreer hy die feit dat die gewraakte tweede deel van die teks wat hy aanhaal, naamlik die doodstraf vir oortreders, juis die erns van die sonde beklemtoon, afgesien van die feit dat die straf waarskynlik nooit werklik in Israel toegepas is nie. Seksuele gedrag is in die Bybel hoegenaamd nie n periferiese of randsaak soos Frits meen nie. Inteendeel, dit illustreer en beklemtoon die verskil tussen die die kinders van God wat volgens sy wil lewe en die heidene wat sonder God in geeetelike duisternis leef. Daarom is dit ook bekend dat in Israel, in teenstelling met sy bure, hierdie tipiese heidense sondes nooit erken of toegelaat is nie. Die punt is duidelik dat die Ou Testament ‘n duidelike seksuele moraliteit as model voorhou, wat in die Nuwe Testament as geldig en onveranderlik as uitgangspunt aanvaar is.

Presies dieselfde waarheid en beklemtoning kom ook in die Nuwe Testament voor waarin die Joodse apostel van Jesus Christus, naamlik Paulus, in sy brief aan die Romeine, reeds in die eerste hoofstuk uitvoerig wys op die verband tussen die heidense verwerping van God se openbaring in die natuur en die morele en maatskaplike verval wat so tipies in daardie wêreldstad voorgekom het. Verskeie sondes word genoem waarvan die vrye beoefening van homoseksualiteit wat vry algemeen voorgekom het, prominent figureer. Dit is duidelik dat Paulus ook bewus moes gewees het van die talle bekende homoseksuele verhoudinge van Keiser Nero, en selfs van sy selfdegeslag-“huwelik” met ‘n jong seun.

Die Bybel is dwarsdeur die Bybel in die Ou Testament sowel as in die Nuwe Testament konsekwent en sterk afwysend teenoor alle vorme van selfdegeslagpraktyke en -verhoudinge. Frits se stelling dat die Bybel nêrens ‘n uitspraak maak oor selfdegeslagverhoudinge “in liefde en trou” nie, word weliswaar as die onbetwiste waarheid deur alle pro-gay teoloë aanvaar. Dit is egter gewoon onwaar. Dit berus meestal op die “inlees” van sake soos uitbuitende vorms van seksuele verkeer, en is dus op swak eksegese gebaseer. Die magistrale werk van Nuwe Testamentikus Robert Gagnon “The Bible and homosexual practice” (520 bls) maak dit meer as duidelik vir enige onbevooroordeelde Bybelleser. So ook die werk van Fortson en Grams “Unchanging Witness – “The consistent Christian teaching on homosexuality in Scripture and tradition”. Die Bybelse verhaal in Genesis 19 oor die weersinwekkende gebeure van Lot en sy mense by die antieke dorp Sodom vertel ook van God se oordeel oor hierdie sondes en van die verdere verwording van seks, naamlik seks tussen Lot en sy dogters, ten spyte van genade wat God aan Lot en sy familie bewys het deur hulle in die oordeel oor Sodom te spaar.

Die Bybelse model van streng seksuele moraliteit wat deur die vroeë Christene uitgeleef is, het volgens kerkhistorici gelei tot ‘n rewolusie in die seksuele moraal van die westerse wêreld, in teensteling met die destydse losbandige en promiskue seksuele moraal van die Griekse en Romeinse kulture.

Wanneer die Bybel oor verskeie sondes praat gaan dit egter nooit om die sonde in isolasie nie, maar om die groter saak van die verwringing en verwoesting van God se volmaakte skepping en sy skeppingsbedoeling met die mens. Dit raak spesifiek God se doel met die skepping van man en vrou en sy doel met seksualiteit. Die binêre verbintenis tussen een man en een vrou in liefde en trou, is duidelik ingestel met die oog op die skepping van ‘n nageslag en met die oog op die geluk en genieting van die mens. Dit is trouens so sentraal in die skeppingsverhaal dat dit nie maar net geïgnoreer kan word nie. Dit word reeds in die eerste hoofstukke van Bybel vasgelê in Genesis 2:26-28 waar die skeppingsdoel van die mens as beeld van God verbind word aan hierdie man-vrou eenheid en die vorming van ‘n nageslag met ‘n kultuuropdrag. Die Here Jesus Christus self bevestig dit ook in die Nuwe Testament waar hy dit in die gesprek oor egskeiding duidelik maak dat dit gegrond is in God se skeppingsbedoeling (Matt 19:1-11; Mark 10:1-10). Indien die vraag gevra word waarom twee, is die antwoord maklik: omdat daar twee geslagte is wat mekaar aanvul en bymekaar pas. Logika maak dit duidelik dat indien die vereiste van geslag dws van man en vrou opgehef word, die vereiste van twee ook daarmee opgehef word. So beland ‘n mens dan in poligamie of in biseksualiteit.

Gelukkig praat die Bybel nie net oor sonde en straf nie maar ook oor verlossing van sonde, oor herstel, oor lewensverandering en -transformasie en oor ‘n nuwe lewe in Christus. In 1 Korinte 6:9-11 word ‘n hele aantal sondaars genoem wat uitgesluit is van die koninkryk van God: afgodsdienaars, dronkaards, bedrieërs, diewe ens en onder andere ook die beoefenaars van sowel aktiewe en passiewe homoseksuele geslagsverkeer. Maar in vers 11 klink die bevrydende evangelie helder en duidelik: “So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God”.

Hiervan kan honderde en duisende mense wêreldwyd getuig, ook in verband met die sonde van homoseksuale praktyke. Getuienisse van mense soos David Kyle Foster, Rosaria Butterfield en honderde ander wat vryelik op die internet beskikbaa is, maak dit duidelik dat die evangelie kragtig is om mense se vasgelooptheid in selfdegeslagverhoudinge en hul seksuele orientasie te verander. Dit maak ook kleingeld van Frits se poging om die wetenskap in te span vir sy pro-gay standpunt. Hy dink waarskynlik aan die hoogs aanvegbare en gediskrediteerde navorsing van Dean Hamer en ander wat glo ‘n homoseksuele geen sou ontdek het. Geen opvolg-navorsing kon die resultate van Hamer se navorsing repliseer nie en dit is mettertys as onbetroubaar bewys. So ook met navorsing oor die struktuur van die brein en die voorgeboortelike rol van hormone tydens swangerskap.

Die navorsing van Whitehead in die negentigerjare het reeds aangetoon dat genetika nie so ingespan kan word nie en dat genetiese faktore ‘n minimale rol speel in die voorkoms van selfdegeslag aangetrokkenheid. Indien dit oorerflik of andersins biologies oorgedra sou word, sou ‘n mens verwag dat 100% van alle monosigotiese of identiese tweelinge beide homosekseksueel moes wees. Uit die meeste klassieke tweelinge-studies blyk dit egter dat in die geval van mans slegs 22% van gevalle waar een homoseksueel is, ook die ander homoseksueel is. In die geval van vroue is die persentasie ongeveer 37%. Dit wys onbetwisbaar daarop dat die rol van omgewingsfaktore soos disfunksionele interfamiliale dinamika in die gesin van herkoms, ernstige konflik tussen ouers, egskeiding, verwerping deur die portuurgroep en vroeë seksuele molestering wat in navorsing duidelik aangetoon is, eerder die deurslaggewende rol speel in die vorming van ‘n psigo-seksuele identiteit. Die moontlikheid van verandering word deur ‘n beduidende groep vooraanstaande psigoloë en psigiaters soos Dr Jeffrey Satinover MD Met sy uitstaande boek “Homosexuality and the politics of truth” en Dr Joseph Nicolosi met sy boek getiteld “Reparative therapy of male homosexuality: A new clinical approach” erken en verdedig. Nicolosi het ook aktief in sy praktyk suksesvol met gesonde psigoterapeutiese metodes met gewillige jeugdige hulpsoekers gewerk wat met selfdegeslag-aangetrokkenheid geworstel het, ten spyte van die feit dat die pro-gay ativiste steeds daarvoor agiteer om sulke professionele praktisyns te kriminaliseer.

Nie almal wat met hierdie kruis opgesaal is kom noodwendig by professionele hulp uit nie. Die goeie nuus wat uit Whitehead se navorsing blyk is egter dat ongeveer 98% van tieners wat in hulle vroeë tienerjare selfdegeslag-aangetrokkenheid ervaar of verward is oor hulle seksuele orientasie, teen die ouderdom van 17 tot 18 eksklusief heteroseksueeel is.

In gesprek met Frits oor selfdegeslagverhoudinge moet dit ook duidelik uitgewys word dat dit nie slegs oor homoseksualiteit kan gaan nie, maar ook oor die sogenaamde LGBTIQ+ seksuele minderhede (“Lesbian, Gay, Bisexual, Trans, Intersex, Queer etc”) gaan en dat die nuutste fokus veral op genderkwessies val wat gebaseer is op ‘n onbybelse, neo-marxistiese en postmodernistiese ideologie wat wegdoen met alle onderskeide en waardes. In daardie sin is die volgende saak op die agenda waarskynlik poliamorie waar ‘n groepie seksuele genote, mans en vroue, almal met mekaar in seksuele verhoudinge tree. Dit word ook soms as panseksualisme beskryf. In die LGBTIQ agenda het die begrip menseregte, wat gedeeltelik ‘n produk van die evangelie en die Bybelse mensbeeld was, totaal ontaard in ‘n selfstandige humanistiese ideologie wat geen verband meer het met die Bybel of met die Christelike geloof nie.
Miskien moet n mens vir ‘n oomblik dieselfde soort argument as Frits gebruik en vir hom vra waar trek hy die streep, by biseksualiteit wat sogenaamd ‘n aangebore behoefte is om met mense van beide geslagte seksueel te verkeer of by sogenaamde “trans” mense wat bloot agv ‘n sielkundige verwarring as indiwidu met die teenoorgestelde geslag identifiseer en dan as sodanig behandel en aangespreek moet word? Al sou Frits bogenoemde verbande wou ontken en argumenteer dat dit slegs oor een saak naamlik oor selfdegeslagverhoudinge “in liefde en trou” gaan, sal die huidige gesprekke, aktivisme en wetgewing dit algaande duidelik maak dat die trajek van seksuele moraal in die westerse wêreld al meer in hierdie rigting beweeg – met seksuele verwarring, ontreddering en onnoembare wroeging en hartseer by duisende tot gevolg, veral by verwarde en beinvloedbare adolessente en tienderjariges.

Die verskynsel van veral jong meisies wat sodanig oor hul seksuele identiteit begin twyfel en verward raak dat hulle met die nuutste neiging onder tieners meegesleur word om “cool” te wees en as “trans” te identifiseer kom die afgelope tyd al meer in die media se soeklig. Dit lei dan dikwels tot die aandrang om hormoonterapie te ontvang en later ook chirurgie mdo op geslagsverandering te ondergaan. In sommige gevalle word dit ingevolge nuwe wetgewing selfs deur howe afgedwing, ten spyte van ouers se teenkanting en die feit dat al meer medici, veral kinderspesialiste die morele aspek van sulke behandelings bevraagteken.

Dit is oor hulle wat die meeste ontvanklik en kwesbaar is, wat ons by uitstek bekommerd moet wees, en wat ons met liefde en deernis moet begelei en hulle met ‘n Bybelse mensbeeld en seksuele moraal moet toerus.

  • Andries Louw, emeritus predikant van Pretoria, destyds lid van die taakspan van die 2007 Algemene Sinode oor homoseksualiteit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui