Kairos Netwerk kyk na ander instansies vir NG opleiding

Lesers word aangemoedig om die artikel hieronder te lees in die lig van die artikels hierbo.

*********

Kairos Netwerk kyk na ander instansies vir NG opleiding | Netwerk24

Deur: Marita Herselman

28 September 2021

Die Kairos Netwerk (KN), wat behoudende lidmate en dolerende gemeentes van die NG Kerk verteenwoordig, is nie tevrede met die huidige onderrig in teologie wat voornemende NG leraars kry nie en ondersoek nou ander moontlikhede.

Hulle kyk na ander plekke en maniere van opleiding en werk saam met instellings en genote om suiwer gereformeerde opleiding aan te bied.

“Die NG Kerk se drie instansies van opleiding is lankal nie meer betroubare sentra vir gesonde en gebalanseerde teologie-opleiding nie,” sê die KN in ’n nuusbrief.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit Stellenbosch (US) is die drie universiteite waar teologie-opleiding deur die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) geakkrediteer is.

“Die KN se taakgroep het in hul ondersoek vasgestel dat staatsinmenging toenemend by die meeste denominasies se opleidingsentra plaasvind.”

Die Netwerk raai tans voornememde studente in die nuusbrief aan om aan die Gereformeerde Kerk van SA se teologiese fakulteit by die Noordwes-Universiteit te studeer, “aangesien staatsinmenging daar nog taamlik beperk is”.

Dr. Anton Knoetze, KN-voorsitter, het aan Netwerk24 gesê buiten die NWU kyk hulle ook na die moontlikheid van opleiding by die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) en ander onafhanklike instansies, ook in die buiteland.

“Dit is in belang van ons studente wat ’n loopbaan in die bediening wil maak.”

Knoetze sê daar sal vorentoe gesprekke met die Algemene Sinodale Moderamen en die Algemene Kuratorium wees oor die moontlike akkreditasie van instellings.

Oor die aanbeveling na die NWU in die nuusbrief sê hy die universiteit bied nog ’n gereformeerde opleidingskursus aan.

“As jy in die gereformeerde bediening wil staan, moet jy tog gereformeerd onderlê word. As jy agterkom jou opleiding is nie genoegsaam nie, sal jy jou op ’n ander manier moet gaan bekwaam,” sê Knoetze oor die aanbeveling dat studente na die NWU gaan ondanks die feit dat sy teologiese opleiding nie deur die AS geakkrediteer nie.

Knoetze sê die NG Kerk het basiese ooreenkomste met die Gereformeerde Kerk en hulle sal maklik aansluiting by mekaar vind.

Volgens hom doleer 82 NG gemeentes tans en nog 14 gemeentes is behoudend.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, sê hoewel daar gesprekke was, is daar nog niks tasbaar nie en kan die universiteit nie kommentaar lewer nie.

Ds. Jan Lubbe, voorsitter van die Kuratorium van die NG Kerk Vrystaat, meen dit is naïef van die KN om voornemende NG leraars na die NWU bó ander universiteite te verwys, omdat al die universiteite aan dieselfde vereistes van die departement van hoër onderwys en opleiding moet voldoen.

Lubbe sê die fakulteite aan openbare universiteite is ekumenies.

“Verskillende studente van verskillende kerke word opgelei en geeneen van daardie fakulteite kan meer eksklusief ’n enkele kerk se teologiese oortuigings onderrig nie.”

Hy sê egter die NG Kerk Vrystaat het reeds ’n tyd gelede ’n seminarium in vennootskap met die UV opgerig waar NG predikante hul studente in die kerk se belydenis en praktyke oplei.

So kry hulle selfs meer blootstelling aan die kerk se oortuigings as wat hulle in vorige dekades gekry het.

Lubbe sê voorts studente kan teologie aan enige instelling in die land studeer, maar as hulle tot die NG bediening toegelaat wil word, moet dit deur die AS geakkrediteer wees. Studente sal by die AS vir legitimasie moet aansoek doen en daarvoor geld sekere akademiese en kerklike vereistes, waaroor die AS besluit.

Die KN stuur nou studente van een kerk vir die opleiding van ’n ander kerk.

“My vraag is of jy nie kies vir ’n ander kerk as jy kies vir die opleiding van ’n ander kerk nie. Jou keuse is jou keuse, maar dan moet jy sê ons wil eintlik in ’n ander kerk wees.”

1 thought on “Kairos Netwerk kyk na ander instansies vir NG opleiding”

  1. Jan Lubbe wil skynbaar akkreditasie by die drie teologiese fakulteite van die NGK moderatuur en kuratorium ter wille van hul misleiding wat al goed in lyn met die staat se eenwêreldgodsdiens is, behou. Gereformeerde opleiding volgens die Skrif is mos veronderstel om die basis van ons opleiding te wees. Dit is duidelik dat sy siening ook voorsiening maak vir relatiwisme in die konteks van inklusiwiteit van ander gelowe binne die “ruim huis” soos deur die AS gepropageer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui