Sinode besluit gou: Bly of gly oor gays

Die artikel hieronder berig onder andere dat daar tydens Goudland se sinodevergadering wat op 10 Maart begin weer besluit gaan word oor Artikel 37.

Opdatering: Op 22 Februarie 2022 is ’n skrywe uitgereik dat Goudland se sinodevergadering uitgestel is tot verdere kennisgewing. As rede is gegee: “Ons het besef dat daar te min tyd is vir die nodige voorbereiding.” Die skrywe is geteken deur Grant du Plessis en Anton Mieny.

*******

Sinode besluit gou: Bly of gly oor gays | Netwerk24

Johan Eybers

13 Februarie 2022

Een van die NG Kerk se tien streeksinodes wat predikante verbied het om mense van dieselfde geslag te trou, gaan vir ’n derde keer besluit of hy hom moet losmaak van die algemene sinode (AS) se “dwalinge” oor selfdegeslagverhoudings.

Behoudende gemeentes van die Goudland-sinode, die AS se vierde grootste streeksinode gemeet aan belydende lidmate, hoop nou om met ’n meerderheidsbesluit by hul sinodesitting in Maart van die AS weg te skeur.

Goudland bestaan uit 148 gemeentes in dele van Gauteng en Noordwes. Hulle glo dit is die enigste manier om te verseker dat die AS se besluit in 2019 om ruimte vir selfdegeslagverhoudings binne die kerk te skep, nie vir hulle geld nie.

Goudland het in November hul besluit van 2015 herbevestig dat ’n huwelik slegs tussen ’n man en ’n vrou verbind kan word.

’n Rebellie dreig ook in die res van die kerk.

Die Kairos Netwerk (KN), wat gemeentes verteenwoordig wat doleer (rou), het vroeër die week besluit om ’n nieformele “Familie van Reformerende NG Kerke” teen Julie tot stand te bring.

Meer as 90 van die sowat 1 110 gemeentes van die NG Kerk het sedert die algemene sinodesitting in 2019 doleer.

KN sê in ’n sterk bewoorde verklaring die groep is “vir alle lidmate, gemeentes, ringe en sinodes” wat gekant is teen die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Die groep het verder ’n versoek aan vier streeksinodes gerig om hulself los te maak van die AS en ’n selfstandige sinode te skep wanneer hulle in die volgende paar maande hul sinodesittings hou.

Alle oë is nou op Goudland gerig, wat in 2019 skokgolwe deur die kerkgemeenskap gestuur het toe hulle byna-byna ’n voorstel gesteun het om uit die AS te tree ingevolge art. 37 van die kerkorde.

Hiervolgens kan ’n streeksinode glo volledig wegbreek én sy status as NG kerk, voorregte, regte, besittings en naam behou.

Goudland het wel in 2019 besluit om ’n leergeskil met die AS te verklaar en in 2020 besluit om sy finansiële bydrae aan die AS te weerhou. Goudland het in November besluit om ’n kommissie aan te stel wat deur gemeentes se beskrywingspunte standpunt inneem oor hul pad vorentoe binne die kerk.

Die kommissie vergader Dinsdag om gemeentes se beskrywingspunte te verwerk en ’n verslag saam te stel vir die Goudland se sinodevergadering in Maart.

Norma Rossouw, ’n behoudende predikant van die Vaalrivier-gemeente in Vanderbijlpark en oudvoorsitter van Goudland, sê hulle werk voluit om die kwessie tot ’n punt te dryf.

“Daar is ’n klomp beskrywingspunte op die tafel oor hoe Goudland die leergeskil en die pad vorentoe moet hanteer. Ek kan persoonlik nie sien dat ons iets anders kan besluit as om uit die kerkverband met die algemene sinode te tree nie.”

Sy sê die oplossing is om Goudland as ’n sinode los te maak van die AS en gemeentes wat selfdegeslagverbintenisse Bybels regverdig die reg te gee om weer tot die AS toe te tree.

Volgens Rossouw kry gemeentes swaar weens die twee uiteenlopende beleide oor selfdegeslagverbintenisse.

“Op papier klink dit dalk mooi dat elke gemeente en sinode vir homself hieroor kan besluit, maar in die praktyk is dit ’n ander storie.

“Dit skep ’n geweldige dilemma wanneer gay paartjies se huwelik deur een gemeente geseën word en ’n volgende gemeente nie hul kinders wil doop nie omdat hulle nie selfdegeslagverbintenisse aanvaar nie.”

Sy sê baie ouers word blootgestel aan ’n sielewroeging wanneer ’n buurgemeente hul gay kinders se selfdegeslagverbintenisse seën en hulle moet besluit of hulle dit moet bywoon.

“Dit veroorsaak erge polarisasie en verdeling binne gemeentes en dit het al tot vieslike mond- en vuisgevegte gelei. Baie lidmate het die NG kerk vir ander kerke gelos omdat hulle nie lus is hiervoor nie. Baie van hulle gaan nie eens meer kerk toe nie.”

Sy sê Goudland se 2015-besluit beteken predikante hier moet onder sensuur geplaas word as hulle as huweliksbevestigers registreer om selfdegeslaghuwelike te voltrek.

Sy sê behoudendes praat baie van reformasie van binne die kerk om dit terug te kry na die Woord. “Ek kan nie sien hoe ons mekaar se koppe hieroor gaan draai nie.”

Sy glo wel dat Goudland steeds met ander streeksinodes kan saamwerk om die NG Kerk se omvattende welsynsdiens te ondersteun, al sou hulle besluit om van die AS weg te stap.

KN sê in sy skerp bewoorde verklaring hy het ’n ernstige probleem daarmee dat die AS onwillig is om met hulle te praat. Die kerk se leierskap en “bepaalde” predikante en dosente aan teologiese fakulteite word in die verklaring daarvan beskuldig dat hulle hulself uitverkoop het aan “ ’n oordrewe menseregte-kultuur”, in so ’n mate dat “nie meer God nie, maar die mens, sentraal staan in die kerk”.

Volgens KN sal die “Familie van Reformerende NG Kerke” hom beywer vir die “radikale Reformasie van die Kerk terug na die woord”.

“Indien hierdie Reformasie nie realiseer nie, is dit effektiewelik die huidige leierskap wat die Kerk finaal gaan skeur,” lui die verklaring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui