NG Vaalrivier maak beswaar oor hantering van leergeskil

Afkortings in hierdie dokument:

Op 17 Maart 2020 het Goudland Sinode ’n leergeskil verklaar met die Algemene Sinode oor die besluit om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings.

Op 11 Mei 2021 het NG gemeente Vaalrivier (Terug na die Woord van God) die volgende beswaar gemaak oor die hantering van die leergeskil. Daar word afgelei dat die leergeskil hanteer is deur ’n klein dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) terwyl dit hanteer moes word deur die volle Algemene Sinode.

********

Skrywe gerig deur NG gemeente Vaalrivier (Terug na die Woord van God)

NG Vaalrivier (Terug na die Woord van God) het kennis geneem van die wyse waarop die Leergeskil wat die Sinode Goudland met die Algemene Sinode het, hanteer is. Ons wil graag ons ontevredenheid uitspreek t.o.v. die onkerkordelike optrede van die geskil wat verklaar is met die Algemene Sinode.

Die besluit wat die Sinode van Goudland by die buitengewone Sinode sitting geneem het was:

Die sinode van Goudland verklaar ’n geskil met die Algemene Sinode insake die totaliteit van die besluit rakende SGV asook seksuele oriëntasie en identiteit, aangesien dit strydig is met Sinode van Goudland se 2015 besluite rakende die huwelik en seksualiteit.

In die oorspronklike voorstel word baie duidelik gesê dat dit gaan oor ‘n amptelike leergeskil tussen twee sinodes, nl die Sinode van Goudland en die Algemene Sinode. Dit beteken tog dat die Sinode hulle beroep op die prosedures van Kerkorde Artikel 44.4 en 44.5. Die leergeskil kan tog nie hanteer word deur ’n klein dagbestuur van die ASM met fasiliteerders nie. Hierdie is ’n ernstige geskil wat hanteer behoort te word deur die volledige vergadering van die die Algemene Sinode plus indien nodig die hulp van al 10 die streeksinodes. (Sien KO Art 44.4 en 44.5).

Die hantering van ’n kerklike geskil in Funksionele besluit nr. 27 is glad nie bedoel vir so ’n leergeskil soos hierdie tussen twee sinodes nie.

Inteendeel, Funksionele Besluit 27.1 verwys na “onderlinge konflik” en moet saam Reglement 22 : Reglement vir Tug en Vermaning, punt 4.2.3 gelees word. Vir die hantering van Sinode se geskil teen die Algemene Sinode kan Funksionele Besluit 27.1 tog nie geld nie, maar is Artikel 44.4 en 44.5 sonder twyfel hier van toepassing. Daar word in die antwoord op navraag van die hantering van die geskil gewys op ’n vergadering wat 1 Junie [2021] met die Kairos Netwerk sal plaasvind. Geen lede van die Kairos Netwerk (KN) is bewus van hierdie vergadering nie en KN het niks met die geskil van Goudland Sinode met die Algemene Sinode te maak nie.

Die kerkraad is van mening dat die lede van die SBK/SBK Dagbestuur nie hierdie saak namens die Sinode kan stel nie. Dit is immers duidelik dat daar talle lede van die SBK/SBK Dagbestuur is wat pro die Algemene Sinode besluit van 2019 rondom SGV is en dat hierdie lede dus mala fide optree.

Daar word in die verslag van die gesprek tussen die ASM Dagbestuur en Goudland SBK Dagbestuur gesê “dat ’n groot deel van die sinode die geskil ondersteun, maar ’n deel van die Sinode anders voel.” Die saak op die tafel is tog die besluit wat deur die Sinode geneem is en nie die faksies binne die sinode nie. Die verteenwoordigers van die Sinode moet tog die besluit van die Sinode verteenwoordig. As hulle weens oortuigings dit nie kan doen nie moet die Sinode mense daarvoor afvaardig wat dit wel met oortuiging kan doen.

NG Vaalrivier (Terug na die Woord van God) wil graag die vergadering wys op die onkerkordelike wyse waarop die geskil hanteer is.

1. Die geskil is met die Algemene Sinode, nie met die ASM nie en nog minder met die ASM se Dagbestuur. Die ASM het geen bevoegdheid om hierdie geskil self te hanteer nie en nog minder die Dagbestuur van die ASM. Volgens ons mening is die enigste manier hoe die geskil hanteer kan word, deur die AS byeen te roep om die geskil te hanteer. Ons kerkraad sien die saak in ’n ernstige lig dat twee Sinodes van dieselfde kerk ’n geskil (waaronder ook ’n leergeskil is) met mekaar het. Dit kan nie deur ‘n oppervlakkige gesprek met fasilitering as Funksionele Besluit 27 hanteer word nie. Hierdie is ook ’n aktuele saak waar lidmate leiding soek.

2. In die gesprek tussen die SBK en ASM Dagbestuur kon die SBK van Goudland nie die presiese omvang van die konflik gee nie, en is sake as inhoud van die geskil genoem — Skrifgesag, Skrifverstaan en -hantering, Teologiese opleiding en Kerkordelike prosesse. Die ASM het in hulle poging om die geskil te besleg die sinode se eie besluit waaroor die geskil gaan heeltemal geïgnoreer nl. “insake die totaliteit van die (Algemene sinode se) besluit rakende SGV asook seksuele oriëntasie en identiteit”. Volgens die verslag van die gesprek blyk daar geen aanduiding te wees oor die saak waaroor die geskil in die voorstel gaan nie.

3. NG Vaalrivier (Terug na die Woord van God) se voorstel —

3.1 Die Sinode van Goudland dring aan op ’n buitengewone AS, aangesien slegs die Algemene Sinode in Sitting die geskil kan hanteer.

3.2 Dring daarop aan dat Goudland hulle beroep op die regte kerkordelike prosedure. Hierdie is nie ’n onenigheid tussen lidmate nie, maar ‘n ernstige leergeskil tussen twee Sinodes.

Ter duidelikheid word 44.4 en 44.5 hierby ingesluit:

44.4 Sake in verband met leertug, leergeskille of geskille tussen sinodes en mindere vergaderinge kan by wyse van appél voor die Algemene Sinode dien. In gevalle van leertug en -leergeskille word ’n tweederdemeerderheidsbesluit vir die bekragtiging van die uitspraak van die Algemene Sinode vereis (vergelyk Artikel 65.2 van die Kerkorde).

44.5 Indien ’n tweederdemeerderheid nie verkry word nie, mag enige van die partye ’n verdere beroep op die afsonderlike sinodes doen. Die gesamentlike volstrekte meerderheid van stemme van die afsonderlike sinodes is dan beslissend.

4. Sinode Goudland stel ’n kommissie saam, wat die besluit van die Sinode verteenwoordig, wat dan ’n verslag rondom die geskil met die Sinode kan opstel.

Geteken

Ds Neels de Jager

Ds Norma Rossouw

11 Mei 2021

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui