Sinode Goudland verklaar ’n geskil met die Algemene Sinode

Inhoudsopgawe

  1. Saamgestelde taakspan en opdrag
  2. Uitdaging insake coronavirus
  3. Die Sinode van Goudland (Wes-Transvaal) se 2015 besluit
  4. Die Sinode van Goudland (Wes-Transvaal) se November 2019 besluit
  5. Voorskrifte oor die hantering van ‘n geskil
  6. Insette vir die beoogde dokument aan die SBK insake die November 2019 verklaarde geskil
  7. Inkoop op voorgestelde proses

*******

VERSOEK VAN DIE SINODE VAN GOUDLAND SE SINODALE BESTUURSKOMMISSIE OP 17 MAART 2020

‘N MOONTLIKE WERKSWYSE OM GESAMENTLIKE VERSLAG DAAR TE STEL

1. SAAMGESTELDE TAAKSPAN EN OPDRAG:

Die Sinodale Bestuurskommissie (SBK) het volgens die notule die volgende lede aangewys as ‘n taakspan wat die Sinode se geskil met die Algemene Sinode (November 2019 besluit) moet hanteer, naamlik:

i. Taakspan: Drr Dirk Venter, Hannes Schulz (sameroeper) en Stefan Stassen, di Johan Rademeyer en Edwin van Wyk.

ii. Opdrag: Hulle sal die inhoud van die geskil verwoord om aan die SBK dagbestuur deur te gee waarna dit aan die SBK deurgegee sal word.

iii. Terugvoer aan SBK: Daarna sal die SBK deur ‘n Telecon dit bespreek en sal dit goedgekeur word.

iv. Versoek: Daar word versoek dat die verwoording gebalanseerd sal wees.

2. UITDAGING INSAKE CORONAVIRUS:

In die lig van die huidige situasie binne Suid-Afrika en wêreldwyd word gelowiges uitgedaag om op ander wyses sinvol bydraes te lewer. Die versoek dat die verteenwoordiging gebalanseer sal wees, noop my as sameroeper om hierdie saak dalk soos volg ter tafel te neem:

2.1. ‘n Uiteensetting van die 2015 besluit.

2.2. Die huidige November 2019 besluit en Kerkorde implikasies.

2.3. Hantering van ‘n geskil.

2.4. Insette insake ‘n dokument.

2.5. Goedgekeurde dokument aan SBK.

3. DIE SINODE VAN GOUDLAND (WES-TRANSVAAL) SE 2015 BESLUIT:

Die huidige Sinode van Goudland besluit oor Selfdegeslag Verhoudinge (SGV), wat destyds in die lig van die Algemene Sinode se 2015 besluit geneem is, en waarop geen revisie tot op hede gevra is nie en waarteen geen afgevaardigde tot op hede appèl aangeteken het nie en/of ‘n gravamen ingedien het nie, lui soos volg:

Die Sinode van Goudland:1. Aanvaar die Woord van God as gesaghebbend en leidinggewend vir die leer en lewe vir alle gelowiges (2 Tim 3:16).2. Die Sinode aanvaar die menswaardigheid en gelykwaardigheid van alle mense en verbind haarself om met liefde en respek teenoor alle mense te leef.

3. Die Sinode van Goudland herbevestig dat die Bybel verklaar dat die huwelik ‘n heilige eenheid tussen een man en een vrou vir ‘n lewenslange verbintenis is.

4. Die Sinode van Goudland verklaar dat alle seksuele verhoudings buite die band van huwelik, nie Bybels verantwoord en aanvaar kan word nie.

3.1. UITEENSETTING VAN SINODE VAN GOUDLAND SE 2015-BESLUIT:

Eerstens is hierdie besluit ooreenkomstig die Kerkorde 2019 se artikel 23 (kyk Bylae A, pp. 6 en 7 van 13) bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2). Daarom kan hierdie besluit soos volg uiteengesit word:

Punt 1: Die Bybel is die heilige en onfeilbare Woord van God en geskied tot eer van God en tot heil van Christus (kyk, Artikels 1 en 2 [2019 Kerkorde]).

Punt 2: Respek teenoor alle mense en ‘n homoseksuele oriëntasie word aanvaar ooreenkomstig die NG Kerk se beleid soos goedgekeur, uitgesluit die Alegemene Sinode se 2015 besluit (wat deur AS herroep is).

Punt 3: Huwelik is lewenslank tussen een man en een vrou.

Punt 4: Enige seksuele verhoudings buite die huwelik is nie Bybels en word nie aanvaar nie.

Punt 4 verklaar in ‘n sekere sin alreeds ‘n leergeskil en die sinode van Goudland het kort na die uitreiking van gemelde besluit vir die Algemene Sinode versoek om ingesprek te tree oor hierdie aspek. Gemelde versoek sedert 2015 het nog nie gerealiseer tussen die sinode van Goudland en die Algemene Sinode nie.

4. DIE SINODE VAN GOUDLAND (WES-TRANSVAAL) SE NOVEMBER 2019 BESLUIT:

Die huidige bindende besluit ooreenkomstig Artikel 23, wat bekend staan as die Sinode van Goudland se November 2019-besluit, lui soos volg:

“Die sinode van Goudland verklaar ‘n geskil met die Algemene Sinode insake die totaliteit van die besluit rakende SGV asook seksuele oriëntasie en identiteit, aangesien dit strydig is met Sinode van Goudland se 2015 besluite rakende die huwelik en seksualiteit.”

Die voorsteller is: Neels De Jager en die sekondant is: DJ Venter.

Verder meld die notule: “Daar word per hand in die vergadering gestem. Die amendement is goedgekeur.”

4.1 UITEENSETTING VAN SINODE VAN GOUDLAND SE 2019-BESLUIT:

Eerstens dien dit vermeld te word dat die Kerkorde wel voorsiening maak dat die betrokke vergadering self kan bepaal hoe gestem word oor ‘n saak. Inteendeel, Reglement 4 paragraaf 5.4.1 bepaal (kyk Bylae B, pp. 8 tot 10 van 13) dat die vergadering self besluit watter stemprosedure oor ‘n kontensieuse saak gevolg word.

Tweedens het die Sinode van Goudland ‘n geskil verklaar met die Algemene Sinode in totaliteit oor die Oktober 2019 SGV besluit.

Derdens sluit hierdie geskil seksuele oriëntasie en identiteit in.

Vierdens is die Algemene Sinode se Oktober 2019 besluit strydig met die Sinode van Goudland se 2015 besluit en dan kwalifiseer hierdie besluit van Goudland deur aan te toon dit gaan oor die huwelik en seksualiteit.

Vyfdens: Die hantering van die geskil sal bepaal of dit ‘n gewone geskil of ‘n leergeskil (gewoonlik ‘n gravamen) sal wees (kyk, Bylae C, pp. 11 tot 13 van 13).

5. VOORSKRIFTE OOR DIE HANTERING VAN ‘N GESKIL:

‘n Geskil word ooreenkomstig die Handelinge van 1998, p. 462 punt 2.10, binne die NG Kerk en volgens haar konstitusie (Kerkorde) soos volg hanteer:

“OPSIG EN TUG

34. RIGLYNE VIR DIE BESLEGTING VAN KERKLIKE GESKILLE:

34.1 Ampsdraers en lidmate poog allereers om onderlinge konflik op ‘n persoonlike en pastorale wyse op te los.

34.2 ‘n Kerkvergadering kan, waar konflik onder sy aandag kom, persone benoem om die oplossing daarvan te begelei.

34.3 Oplossing word bereik wanneer:

34.3.1 ‘n alternatief as oplossing vir die probleem gevind is wat vir al die betrokkenes aanvaarbaar is, of

34.3.2 die betrokkenes ooreenkom om ruimte vir mekaar te maak om van mekaar te kan verskil en met mekaar versoen.

34.4 In die hantering van konflik geld onder meer die volgende:

34.4.1 Duidelikheid moet verkry word oor die presiese aard en omvang van die konflik.

34.4.2 Alle betrokkenes moet volle geleentheid kry om hulle siening van die saak te stel.

34.4.3 Die begeleier(s) tree altyd so op dat hy/sy nie by die konflik betrok-ke raak nie.

34.4.4 Alle betrokkenes behoort hulle volle samewerking te gee om ‘n oplossing te bereik.

34.4.5 Die begeleiers rapporteer aan die kerkvergadering wat hulle benoem het.

34.4.6 ‘n Kerkvergadering kan ook ‘n ander kerkvergadering vra om die hantering van die konflik oor te neem.”

(Handelinge 1998, p 462, pt 2.10)

5.1. UITEENSETTING VAN DIE SINODE VAN GOUDLAND SE 2019-BESLUIT SE IMPLIKASIES OOR ‘N GESKIL:

Uit hierdie gegewe riglyne is dit duidelik dat ‘n geskil wel opgelos word wanneer een van die volgende twee aspekte tussen die betrokke partye bereik word:

i. ‘n alternatief as oplossing vir die probleem gevind is wat vir al die betrokkenes aanvaarbaar is, of

ii. die betrokkenes ooreenkom om ruimte vir mekaar te maak om van mekaar te kan verskil en met mekaar versoen.

Volgens die besluitneming tydens die buitengewone sinodesitting in November 2019 is dit duidelik dat die meerderheid afgevaardigdes nie kans sien om binne SGV ruimte te maak om van mekaar te kan verskil nie (moontlikheid ii is dus per implikasie afgehandel). Sodoende bly moontlikheid i hierbo (‘n alternatief as oplossing van die probleem) oor.

6. INSETTE VIR DIE BEOOGDE DOKUMENT AAN DIE SBK INSAKE DIE NOVEMBER 2019 VERKLAARDE GESKIL:

In die lig van die feit dat ons as taakspan heel moontlik nie gou bymekaar sal kan kom nie, is my voorstel dat ons die onderskeie insette skriftelik ontvang en dat ek dit koördineer deur ‘n werksdokument, nadat almal se insette ontvang is teen ‘n sperdatum, saamstel en vir vir almal se goedkeuring terugstuur. Veranderinge word aangebring en dan finaliseer ons die dokument. Dit word vir ‘n laaste keer gesirkuleer en dan by die SBK ingedien.

6.1 UITEENSETTING VAN DIE BEOOGDE SKRIFTELIKE ROETE:

My gedagtegang loop soos volg:

i. Kom ek vra dat broers Dirk Venter en Johan Rademeyer ‘n eie dokument saamstem en vir my per E-pos stuur nie later as Maandag 30 Maart 2020.

ii. Ek sal dan een dokument uit hierdie twee dokumente saamstel en vir elkeen deurgee nie later as 6 April 2020 nie.

iii. Dan lewer die res van u kommentaar op hierdie dokument en ons skop die bal rond met terugvoer aan my.

iv. Op 20 April 2020 finaliseer ek die dokument en stuur weer aan elke spanlid nie later as 28 April 2020.

v. Almal se insette en veranderinge oor die gefinaliseerde dokument word teen 30 April 2020 terug ontvang en die SBK ontvang die finale dokument nie later as Maandag 4 Mei 2020 nie.

7. INKOOP OP VOORGESTELDE PROSES:

Kom ek hoor: Is elke taakspanlid gemaklik met die voorgestelde proses? Sal u asseblief skriftelike antwoord op hierdie versoek, sodat ek oor dokumentêre bewys beskik dat ons as gelowige broers en susters hierdie pad stap. Die taakspan is ooreenkomstig die notule soos ontvang, hoewel daar een of twee ander name tydens die vergadering ook vermeld was.

Groete in Jesus Christus,

Geteken

Dr Hannes Schulz

BYLAE A

KERKORDE 2019 ARTIKEL 23, PP. 7 EN 8

Artikel 23

Kerklike appèl, gravamen (beswaar) en hersiening (revisie)

23.1 Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2).

23.2. Alle ampsdraers en lidmate van die kerk word daartoe opgeroep om voortdurend met die Woord van God, die belydenis en die Kerkorde as maatstaf die werk van vergaderings en ampsdraers te beoordeel.

23.3. Besluite van kerkrade, ringe en sinodes kan by wyse van appèl of aansoek om hersiening (revisie) heroorweeg word volgens voorskrifte van die reglement.

23.4. In die geval van ’n besluit van die Algemene Sinode, kan ’n proseduriële beswaar, beswaarskrif oor leer/etiese sake (gravamen) of aansoek om hersiening (revisie) aan die Algemene Sinode gerig word.

23.5. Iemand wat appelleer, ’n beswaar (gravamen/beswaarskrif) indien, of aansoek doen om hersiening (revisie) is verplig om die appèl, beswaar, aansoek om hersiening (revisie) of proseduriële beswaar in te dien in ooreenstemming met die reglement wat deur die Algemene Sinode daarvoor goedgekeur is.

23.6 Lidmate, ampsdraers en predikante in diens van die kerkverband van die Nederduitse Gereformeerde Kerk mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen ’n kerkvergadering se besluit(e) nie, voordat hulle nie eers die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie.

Artikel 24

Die handelinge van elke vergadering word daagliks met Skriflesing en gebed begin en met danksegging beëindig.

Artikel 25

Elke vergadering het ’n voorsitter wat verantwoordelik is vir die leiding en ordelike verloop van die vergadering, en ’n skriba wat die handelinge van die vergadering opteken.

BYLAE B

KERKORDE 2019 REGLEMENT 4, PP. 36 EN 37

5. STEMMING

Die Algemene Sinode neem so ver moontlik besluite by wyse van ‘n gespreksmatige proses waartydens konsensus gesoek word. Stemming vind slegs plaas as dit absoluut noodsaaklik is en die vergadering self daaroor besluit het. (Sien reglement 1.5.1.3)

5.1 Die opneem en tel van die stemme word deur ‘n tydelike taakspan vir stemming, wat vooraf deur die ontwerpspan aangewys is, behartig.

5.2 Elke lid van die vergadering moet stem. Vir ‘n beslissing word ‘n volstrekte meerderheid (helfte plus een) van stemme van die aanwesige lede vereis, behalwe in die gevalle waar die Kerkorde ‘n tweederdemeerderheid vereis (Artikel 44 en 70). Die voorsitter het ‘n gewone maar nie ‘n beslissende stem nie. Persone wat die vergadering in adviserende hoedanigheid bywoon, mag aan die bespreking deelneem, maar nie stem nie.

5.3 Die stemming oor persone geskied op geslote wyse en soos volg:

5.3.1 Eers word ‘n nominasielys saamgestel. Elke stemgeregtigde lid mag persone nomineer, maar nie meer as die getal persone wat gekies moet word nie.

5.3.2 Uit die name op die nominasielys stem elke stemgeregtigde vir soveel name as die getal persone wat gekies moet word.

5.3.3 Die persoon op wie die meeste stemme verenig word, is verkies indien die getal stemme op die persoon uitgebring die volstrekte meerderheid van die aanwesige stemgeregtigdes uitmaak. (‘n Volstrekte meerderheid is die helfte plus een van al die stemme wat uitgebring is.)

5.3.4 Indien ‘n persoon nie ‘n volstrekte meerderheid van stemme kry nie, vind daar ‘n verdere stemming plaas uit die name wat die hoogste getal stemme gekry het en saam ‘n volstrekte meerderheid vorm.

5.3.5 Indien daar ‘n staking van stemme is wat nie deur verdere stemming opgelos kan word nie, geskied die beslissing deur die lot.

5.4 Die stemming oor sake verloop soos volg:

5.4.1 Oor alle sake, waaroor daar nie konsensus verkry kan word nie, word daar gestem óf met opsteek van hande, óf in die geval van kontensieuse sake op ‘n geslote stemwyse, indien die vergadering so besluit. Indien die stemming oor ʼn saak gelykop is, word die saak terugverwys.

5.4.2 In die geval van ‘n voorstel met amendemente:

5.4.2.1 Amendemente word eerste tot stemming gebring in opgaande orde vanaf die laaste amendement wat ingedien is. En

5.4.2.2 Indien die amendement(e) aanvaar is, word gestem vir die voorstel soos deur die aanvaarde amendement(e) gewysig.

5.4.2.3 Slegs indien al die amendemente verwerp word, stem die vergadering oor die oorspronklike voorstel.

5.4.3 Na elke stemming oor ‘n amendement of ‘n voorstel word die uitslag van die stemming aangekondig – nie die getal stemme vir of teen die voorstel of amendement uitgebring nie, maar of dit aanvaar of verwerp is.

5.4.4 Dit staan ‘n lid vry om met of sonder opgaaf van redes te laat notuleer dat die persoon met ‘n besluit wat geneem is nie saamstem nie of dat die persoon nie teenwoordig was toe die besluit geneem is nie.

BYLAE C

KERKORDE 2019 REGLEMENT 23, PP. 120 EN 121

2.2.3.2 Meerdere vergaderings:

2.2.3.2.1 Besluite van meerdere vergaderings word na vooraf skriftelike kennisgewing in behandeling geneem.

2.2.3.2.2 Verslae van kommissies/taakspanne en beskrywingspunte waar nuwe aanbevelings oor vorige besluite gemaak word, word geag genoegsame skriftelike kennisgewing van hersiening (revisie) te wees.

3. LEERSTELLIGE BESWAAR (GRAVAMEN)

3.1 ‘n Leerstellige beswaar (gravamen) is ‘n ernstige beswaar teen ‘n besluit wat die Algemene Sinode geneem het ten opsigte van ‘n leerstellige aangeleentheid.

Benewens ‘n kerkordelike prosedurele beswaar of hersiening (revisie), kan ‘n lidmaat of ‘n kerkvergadering wat ‘n ernstige beswaar op grond van die Bybel en die belydenis teen ‘n besluit van die Algemene Sinode het, die beswaar by wyse van ‘n skriftelike leerstellige beswaar (gravamen) aan die Algemene Sinode voorlê.

3.2 Die Algemene Taakspan Regte besluit oor die ontvanklikheid van die leerstellige beswaar (gravamen) met verslag aan die moderamen van die Algemene Sinode.

3.3 Indien die leerstellige beswaar (gravamen) ontvanklik is, word dit vir oorweging aan die volgende Algemene Sinode voorgelê.

3.4 Indien die leerstellige beswaar (gravamen) nie ontvanklik is nie, word die beswaarde na verslag aan die ASM skriftelik in kennis gestel van die redes waarom die leerstellige beswaar (gravamen) nie ontvanklik is nie.

3.5 In gevalle waar leerstellige sake ter sprake is, kan die saak voor die Algemene Sinode met ‘n tweederdemeerderheid na die sinodes vir oorweging verwys word.

3.6 Die gesamentlike volstrekte meerderheid van al die stemme van die sinodes is dan die beslissing.

3.6.1 Waar ‘n besluit op hierdie wyse geneem is, val lidmate wat nie met die besluit saamstem nie, in by die sinodebesluit.

4. APPÈL

4.1 ALGEMENE SAKE

4.1.1 ‘n Lidmaat of ‘n kerkvergadering wat ‘n ernstige beswaar het op grond van die Bybel, die belydenis en/of die Kerkorde teen ‘n besluit van ‘n kerkraad, ring of sinode (streeksinode) kan appèl by ‘n meerdere kerkvergadering teen daardie besluit aanteken.

4.1.2 Kennis van appèl word binne 21 kalanderdae nadat die besluite van die kerkvergadering in werking tree, ingedien.

4.1.3 Die gronde vir appèl word binne 21 kalenderdae na die kennisgewing van appèl ingedien by die skriba van die kerkvergadering by wie daar appèl aangeteken word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui