Nuwe streeksinode vir doleerders: Oplossing of ‘grondslag vir skeuring’?

*******

Nuwe streeksinode vir doleerders: Oplossing of ‘grondslag vir skeuring’? | Kerkbode

Kerkbode

15 Februarie 2022

Terwyl Kairos Netwerk (KN) ’n beroep op die NG Kerk se streeksinodes doen om in die weke wat kom ’n herskikking binne die NG Kerk te probeer bewerkstellig, het die NG Kerk-leierskap gesê hulle sal liefs nie in die pers oor die jongste verwikkeling kommentaar lewer nie.

“KN stel voor dat wanneer vier streeksinodes binne die volgende maande vergader, hulle voorkeur sal gee daaraan dat hierdie sinodes ’n sogenaamde Kerkorde Art 37-oplossing sal nastreef waarvolgens hierdie sinodes hulle sal losmaak van die Algemene Sinode, om so ’n selfstandige sinode te skep wat hom vrymaak om die pad van Radikale Reformasie ongehinderd te bewandel,” lui ’n verklaring wat KN op 9 Februarie vrygestel het.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het as volg gereageer op Kerkbode se versoek op kommentaar: “Daar bestaan meer as een ruimte en geleenthede wat deur die Algemene Sinode geskep is vir gesprek. Gesprekke met sinodes, oor die 2019-besluite, is aan die gang met diegene wat beswaar het. Nog gesprekke word in die vooruitsig gestel en is in proses.

“Sover was dié gesprekke konstruktief en ’n leerervaring vir almal wat betrokke is. Uitnodigings vir gesprek deur die Algemene Sinode met byvoorbeeld die Algemene Kuratorium is nog egter nie opgeneem deur beswaardes nie,” aldus Claassen.

In die breër kerk is daar vrae oor die KN-pleidooi aan streeksinodes, wat as ’t ware die NG Kerk sal herskik van tien samestellende kerke (streeksinodes) wat hoofsaaklik geografiese relevansie het na elf sinodes wat dan ook teologiese implikasies het. (Sien Artikel 37 hieronder).

Prof Nelus Niemandt, rektor van Hugenote Kollege op Wellington, meen daar “mag voordele wees om ’n klomp eendersdenkendes bymekaar te bring, maar dit kan ook ontaard in ’n neulpot van ontevredenes wat uiteindelik nie oop is vir reformasie nie. Dit is soms moeilik, maar ons kan gerus leer om met al ons verskille saam te werk. My vermoede is dat hierdie eerder net die grondslag lê vir kerkskeuring.”

KN ontken deurgaans aantygings dat hulle die NG Kerk wil skeur en gee eerder aanduiding van ’n soort bearbeidingsveldtog teenoor medelidmate van die kerk waarin hulle dien. Die Sentrale Werkgroep het na ’n vergadering vroeg in Februarie laat hoor dat hulle “onderneem om pastoraal en in gebed in te tree vir aan die een kant radikale reformasie, en aan die ander kant vir kerkleiers, predikante en teologiese dosente, wat in die waan om deel van die tydsgees te wees, nie meer ten volle ywer vir die eer van God en die kern van die evangelie soos saamgevat in die Woord van God nie.”

Wat behels ’n Artikel 37-proses?

Lidmate en gemeentes wat “doleer” dui aan hulle is ongelukkig oor die 2019-besluit wat afgevaardigdes by die Algemene Sinode geneem het om vir gemeentes ruimte te laat oor die hantering van selfdegeslagverbintenisse.

Maar met dié dat daar naas teologiese verskille, ook bates en kerkgeboue ter sprake is in hierdie stryd binne die kerk, is die fokus nou opnuut by die deel van die Kerkorde wat leiding daaroor bied.

Artikel 37 lui as volg:

Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.

’n Voetnota daarby lees as volg:

[1] Die ATR interpreteer Artikel 37 soos volg: Artikel 37 is nie van toepassing op gemeentes nie; en die samestellende kerke waarna Artikel 37 verwys, is tans die 10 sinodes waaruit die Algemene Sinode saamgestel is.

Dit beteken die volgende, volgens dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode:

  • Slegs ’n sinode (as geheel) sal die besluit moet neem om uit algemene sinodale verband te tree – geen gemeente kan uittree nie.
  • Dit sal uiteraard tydens ’n wettig gekonstitueerde sinodevergadering moet gebeur.
  • Alvorens die besluit geneem kan word sal die bepaalde sinode so ’n stap moet regverdig in die lig van God se Woord.

“Verder bepaal Artikel 38 dat wanneer ’n samestellende kerk (sinode) wel so ’n stap sou kon regverdig, hulle as sinode alle regte, voorregte, besittings en naam behou. Dit beteken dat die sinode wat uittree, as geheel nou as selfstandige sinode van die NG Kerk sal bekend staan met al die implikasies soos Artikel 37 uitstippel.”

Die kerkhistorikus ds Jan Lubbe waarsku Art 37 is meer as ’n kerkordelike bepaling wat juridies nagekom moet word: “Kerkverband is ’n (plaaslike) uitdrukking van ons belydenis oor die ‘een, heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van gelowiges’ waarvan ons op grond van die Skrif ook glo dat dit die gestalte, die liggaam van Christus op aarde is. Wie dus tot die oortuiging kom dat die kerk, waarvan hy of sy deel is, afwyk van die belydenis of die Skrifte tot só ’n mate dat dit ‘vals’ geword het – só lui die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 27-29) – moet hom / haarself ‘afskei’ en by ‘die ware kerk aansluit’.”

Vir Lubbe is die vraag wat dan beantwoord moet word dít: Het die NG Kerk ’n “valse kerk” geword? Indien wel, meen hy moet daar volgens die belydenis gehandel word. “Maar, sodanige ‘afskeiding’ is ook nie in die eerste of laaste instansie iets wat ten opsigte van ’n kerkvergadering soos die Algemene Sinode gebeur nie; dit voltrek sigself op die grond, rondom die Nagmaalstafel, tussen broers en susters in die geloof, tussen kollegas in die bediening, tussen buurgemeentes in ’n ring …”

Daarom stel Lubbe voor dat lidmate liewer met gesprek voortgaan op gemeentevlak én in ringe.


Ter agtergrond

Die 2019 Algemene Sinode-besluit laat kerkrade en predikante toe om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig. Die Algemene Sinode erken ook dat daar kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie. Lees die volledige besluit HIER. En luister na die onderhoud hieronder waar dr Bernice Serfontein vir dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode, uitvra oor die kern van dié besluit.

Meer oor hierdie videoreeks: Die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het ’n reeks van meer as 13 video’s gemaak waarin lede van die Moderamen, asook dosente van die NG Kerk aan die ekumeniese fakulteite bydraes lewer onder die tema: So glo, leer en getuig ons.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui