Persverklaring: Kairos Netwerk vergadering 7-8 Februarie 2022

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk (KN) het die persverklaring hieronder uitgereik ná hulle vergadering op 7 en 8 Februarie 2022.

Oor presies wat die KN beplan vir die toekoms laat hulle hulself nie uit nie.

Hulle skep die indruk dat hulle die NGK wil omkeer eerder as om te skeur deur die volgende te sê:

“Die KN ywer nie vir ‘n skeuring in die NGK nie maar vir omvattende en radikale reformasie terug na die Woord…”

“Hulle wat valse leringe verkondig, is inbrekers in die NGK en nie die wettige inwoners nie.”

Wat hierdie reformasie (om die NGK om te draai) behels is onseker.

Tog wil die KN hulleself los maak van die Algemene Sinode deur ’n Artikel 37. Indien hulle die NGK wou omdraai sou ’n mens verwag dat hulle dit by die volgende Algemene Sinode sou doen, nie deur weg te breek van die Algemene Sinode nie.

Die KN sê verder:

“Indien hierdie Reformasie nie realiseer nie, is dit effektiewelik die huidige leierskap van die NGK wat die NGK finaal gaan skeur.”

‘n Mens lei af dat indien hierdie reformasie nie realiseer nie die KN wel kerkskeuring sal inisieer.

Die volgende artikels word gepubliseer in reaksie op hierdie persverklaring:

***********

Persverklaring: Kairos Netwerk vergadering 7-8 Februarie 2022

9 Februarie 2022

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk het op 7 en 8 Februarie in Pretoria vergader. Na ‘n baie vrugbare en eensgesinde vergadering verklaar die Kairos Netwerk soos volg:

Die Kairos Netwerk(KN) meen dat die oomblik van waarheid (die Kairos) vir die NGK aangebreek het, en verbind sigself opnuut daartoe om op te staan vir die Waarheid van die Evangelie, en vir die Eer van God. Die KN ywer nie vir ‘n skeuring in die NGK nie maar vir omvattende en radikale reformasie terug na die Woord en die belydenis as ons hoogste prioriteite. Dit behels innerlike reformasie van die gelowige om na God terug te keer, sowel as uiterlike reformasie van die kerk om alle aspekte van kerkwees (onder andere verkondiging, evangelisasie, toerusting, jeug) wat verwaarloos geraak het, aan te spreek.

KN het ‘n ernstige probleem daarmee dat die ASM nie erns maak met die huidige glybaan-krisis in die NGK nie, vertragings- en ontwykingstegnieke toepas, en byvoorbeeld onwillig is om met KN in gesprek te tree. Die Algemene Sinode(AS), die Algemene Sinodale Moderamen(ASM) asook bepaalde dosente aan die kerklike teologiese fakulteite en predikante het hulle sodanig aan ‘n oordrewe menseregte-kultuur uitverkoop dat nie meer God nie maar die mens sentraal te staan gekom het in die NGK. Dit het gelei daartoe dat die AS in 2019 tot die besluit gekom het dat die NGK in ‘n “vasgelooptheid” met die Skrif beland het, wat beteken dat hulle deur hierdie erkenning hul eie ondergang vooruit geloop het.

KN stel voor dat wanneer vier streeksinodes binne die volgende maande vergader, hulle voorkeur sal gee daaraan dat hierdie sinodes ‘n sg Kerkorde Art 37-oplossing sal nastreef waarvolgens hierdie sinodes hulle sal losmaak van die Algemene Sinode, om so ‘n selfstandige sinode te skep wat hom vrymaak om die pad van Radikale Reformasie ongehinderd te bewandel. Hulle wat valse leringe verkondig, is inbrekers in die NGK en nie die wettige inwoners nie.

KN het eenparig besluit om ‘n nie-formele “Familie van Reformerende NG Kerke” teen Julie 2022 te skep. Dit het ten doel om alle bestaande Skrif-behoudende en Skrif-waarderende lidmate, gemeentes, ringe en sinodes van die NGK saam te groepeer om te ywer vir die radikale Reformasie van die NGK terug na die Woord. Indien hierdie Reformasie nie realiseer nie, is dit effektiewelik die huidige leierskap van die NGK wat die NGK finaal gaan skeur.

KN verklaar eenparig dat teologiese opleiding in die NGK waar Skrifontwyking en belydenis-ontrou almeer na vore kom ‘n ernstige probleem is. Daar is dus visionêr besluit om met aanbevelings te kom oor verskillende alternatiewe teologiese opleidings asook alternatiewe mentor-programme. Gespreksgenote in hierdie ondersoeke is onder andere die Teologiese Fakulteit van die NWU, die Afrikaanse Protestantse Akademie asook Veritas en Mukhanyo.

KN voel te midde van die toenemende agteruitgang in betrokkenheid by die NGK, daar ook sterk aan dissipelmaking en kerkplanting aandag gegee behoort te word. Alle gemeentes en lidmate wat hulself kan identifiseer met die terugkeer na die Woord van God as die sentrale dryfveer, word genooi om entoesiasties hierdie suiweringspoging te ondersteun en betrokke te raak by dissipelmaking en kerkplanting twv die Koninkryk van God, met ‘n gesuiwerde NGK as die voertuig.

Ten slotte onderneem ons om pastoraal en in gebed in te tree vir aan die een kant radikale reformasie, en aan die ander kant vir kerkleiers, predikante en teologiese dosente, wat in die waan om deel van die tydsgees te wees, nie meer ten volle ywer vir die eer van God en die kern van die Evangelie soos saamgevat in die Woord van God nie.

Anton Knoetze

Namens Kairos Netwerk bestuur

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui