NG Kerk sê nie ja óf nee vir evolusie

NG Kerk sê nie ja óf nee vir evolusie | Kerkbode

3 Oktober 2010

http://www.kerkbode.co.za/VoorbladartikelArgiefLees.asp?id=30

Die NG Kerk ondersteun die geloofsuitspraak dat God die Skepper van hemel en aarde is, maar is nie bevoeg om enige gesaghebbende uitspraak te maak oor wetenskaplike teorieë soos evolusie nie.

Dié standpunt van die NG Kerk se moderatuur word herbevestig in ’n verklaring na aanleiding van mediaberigte en internetgesprekke, oor die verhouding tussen kerk en wetenskap.

Die NG Kerk ondersteun die geloofsuitspraak dat God die Skepper van hemel en aarde is, maar is nie bevoeg om enige gesaghebbende uitspraak te maak oor wetenskaplike teorieë soos evolusie nie.

Dié standpunt van die NG Kerk se moderatuur word herbevestig in ’n verklaring na aanleiding van mediaberigte en internetgesprekke, oor die verhouding tussen kerk en wetenskap.

Dit volg nadat die moderator van die Algemene Sinode, prof Piet Strauss, betrek is by die evolusiedebat na ’n onderhoud wat die Christelike tydskrif Juig met hom gevoer het oor moraliteit. In die onderhoud wat volgens die tydskrif se redaksionele bestuurder, Toi Nel, skriftelik per e-pos met hom gevoer is, verduidelik prof Strauss kortliks sy persoonlike siening oor evolusie. Die paleontoloog dr Jurie van den Heever van die Universiteit Stellenbosch, het skerp in die media van prof Strauss verskil.

In die moderamen se jongste standpunt oor teologie en wetenskap, wat op 20 Junie verlede jaar geneem is, sê hulle dit is jammer dat daar dikwels vanuit beide die kerklike, sowel as die wetenskaplike konteks, uitsprake gemaak word wat dui op ’n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap. Asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie. Dié standpunt is tydens die afgelope moderamenvergadering bevestig. Dit is ook deur die kerk se elektroniese kommunikasienetwerk na alle predikante en kerkkantore gekommunikeer.

Hulle sê dit lê ten grondslag van die gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy lidmate te begelei tot verwondering oor God.

“Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook ’n bepaalde openbaarmaking van die misterie en wonder van God self. Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis, lui die verklaring.”

Die moderamen sê as sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. “Ons beskou dan ook nie die Bybel as ’n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks lê nie. Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.”

Wat die kerk wel ondersteun en bely, is ’n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde (heelal/veelal) is. “Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder. Veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou,” aldus die moderamen van die NG Kerk. – jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar:

NGK, evolusie en natuurwetenskap
2010/08/03

Hierdie is ’n pragtig gebalanseerde en nugtere standpuntstelling oor die verband tussen geloof en natuurwetenskap. Dit verteenwoordig groot en belangrike vordering ná die primitiewe standpunt oor evolusie wat in ongeveer 1970 deur die Algemene Sinode geformuleer is. Stephen Hawking, briljante Britse fisikus en self duidelik geen gelowige nie, sê in sy boek, A Brief History of Time, as God wel bestaan, het hy sedert die ontstaan van die heelal in die sogenaamde Oerknal min te doen gehad. Dáár is nou ’n omskrywing van ’n waarlik AL-magtige God: een wat in ’n skeppingsoomblik ’n heelal tot stand kan roep waarin al die elemente, kragte en natuurwette teenwoordig is sodat dit sonder verdere goddelike ingryping kan voortgaan. – Louis van Ryneveld

Middeweg is maklike weg uit
2010/08/03

Deur op die draad te sit kies die kerk die maklike manier uit. Mens moet onthou dat hier salarisse en pensioene moet betaal word. Ten minste is die Rooms Katolieke meer verlig (ek praat nou nie van die seuntjie skandes nie). Ek dink darem nie dat die kerk te bekommerd hoef te wees nie. Die meeste van ons skepsels hou daarvan om nie te veel te dink nie, ’n ou krukkie te he om op te leen en dan natuurlik die ou troosie dat ek eendag weer vir Mammie en Oupa in die hemel sal sien. Adrio Konig het so pas sy naam krater in die beeld gemaak deur ’n ou stukkie intelligente ontwerp te probeer insmokkel in sy “geniune” evolusie leer in. Gelukkig vir hom sal 99% van die mense dit nie agterkom nie. Die oog nogal. Mens hoef nie eers ’n vreeslike stuk wetenskap te gaan opsoek in Nature tydskrif nie. Kyk sommer na ’n youtube video wat nie apologeties van aard is nie. Of lees Creation.com soos almal hier graag doen. Ek verstaan nou hoekom party mense “Professors” is. In teologie nogal.

Groetnis – Kettiekop

Gedagtes oor die “Wat is”
2010/08/04

“Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder. Veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.” [Ex NG Kerk sê nie ja óf nee vir evolusie, Kerkbode Aanlyn, 4 Augustus 2010].

Wie weet vir seker of die “Wat is” nie toevallig of spontaan gebeur het nie? Wie weet vir seker wie of wat die “Wat is” tot stand gebring het? Wie weet vir seker deur welke proses die “Wat is” tot stand gekom het? Wie weet vir seker wat die “Wat is” alles behels?

Dit bring ons by die vraag: Is daar ’n Wese wat die “Wat is” tot stand gebring het of is daar nie so ’n Wese nie? En indien daar so ’n Wese is, hoe en aan die hand waarvan kan ons dit vir seker weet? En wat is die proses wat so ’n Wese volg om die “Wat is” “nog steeds (te) ontwikkel en (te laat) funksioneer”? Hierdie vrae bring mens by die begrip “geloof” as ’n vertroue in ’n bepaalde siening of geloofsoortuiging. En dit is hier waar ons in nederigheid en met wedersydse respek gedagtes behoort te ruil oor die kwelvrae waarop ons antwoorde soek. Niemand het al die wysheid in pag nie. Die Internet kan ’n waardevolle gespreksplatform wees. Ons het die voorreg om in interessante tye te leef! Maar ons behoort ook te fokus op die toekoms en welke sinvolle bydrae ons kan lewer. Bydraes tot wat? Kom ons ruil gedagtes hieroor … – Johann Basson

Bybel en wetenskap
2010/08/04

Ek wonder wat Kettiekop se eie standpunt is. Hy skiet net ander se standpunte af, en daarby glad nie juis beskeie of sonder beledigings nie. Dis gewoonlik die maklike uitweg.

Dis tog, anders as wat Johann Basson beweer, duidelik dat die Bybel ’n klomp antwoorde gee oor die soort vrae wat hy opper. Die Bybel bevraagteken nie die bestaan van God as Skepper nie, maar beskou dit as ’n gegewe. Wie dít bevraagteken en vra “Wie weet?” het alle geloofsekerhede prysgegee; m.i. het hy daarmee te veel prysgegee. En die Bybel is baie duidelik daaroor dat dit wat is, nie toevallig ontstaan het nie, maar die resultaat van God se skeppingshandeling. Hoe Hy dit gedoen het, gaan ons verstand te bowe, maar dat Hy dit gedoen het, dit glo ek verseker. – Jaco Thom

2010/08/06

Is dit nie ironies dat die gelowiges hulle so verwonder aan die natuur, maar nie kan wag dat dit in vlamme opgaan nie? Die bybel was ons eerste poging om ons bestaan te verduidelik, en duidelik ook ons swakste poging.Ek kan nou nog nie verstaan dat so ’n belangrike boodskap so VAAG geskryf is dat ek ’n teoloog of aartappelboer nodig het om dit aan my te verduidelik nie. Een van ons gaan hierdie argument wen, en ek weet op wie ek my geld en lewe sal verwed- DIE WETENSKAP! – Pieta van den Heever

Gaan ons verstand te bowe
2010/08/11

Ek dink die Kerk het heeltemal tred verloor met die werklikheid . Eerder , die Bybel is ’n verleentheid vir die werklikheid.

Jaco Thom beweer die volgende :” Hoe Hy dit gedoen het, gaan ons verstand te bowe, maar dat Hy dit gedoen het, dit glo ek verseker “

Eerstens Jaco , puzzel elektrisiteit jou nie ook nie. Dis vir jou so gerieflik om ’n skakelaar te druk en daar skyn ’n lig of ’n stoof word warm. Het jy al elektrisiteit gesien? Gaan dit nie jou verstand ook te bowe nie. Die onsigbare elektrisiteit is absoluut wetenskaplik verklaarbaar, bewysbaar , meetbaar en toetsbaar.

Evolusie is absoluut wetenskaplik verklaarbaar , meetbaar , bewysbaar en toetsbaar.

Dit gaan eerder my verstand te bowe dat jy so siende blind is.

– Dirk van der Walt

2010/08/11

Ek kan nie hierdie soetsappige kommentaar deur Louis van Reyneveld alleen los nie.

Louis maar die stelling :” Dáár is nou ’n omskrywing van ’n waarlik AL-magtige God: een wat in ’n skeppingsoomblik ’n heelal tot stand kan roep waarin al die elemente, kragte en natuurwette teenwoordig is sodat dit sonder verdere goddelike ingryping kan voortgaan”

Verklaar die maagdelike geboorte aan die hand van die natuurwette sonder verdere goddelike ingryping. Iewers is daar ’n kortsluiting in jou relaas om ’n god in die evolusieteorie in te skryf. – Dirk van der Walt

Skrifbeskouing en gesag
2010/08/11

Die kwessie oor Skrifbeskouing en die gesag wat mens daaraan koppel, asook die gesag wat mens aan die sekulêre wetenskap koppel, is van deurslaggewende belang in hierdie gesprek. Wat ook al die NG Kerk se standpunt hieroor is, het te doen met watter een van hierdie twee gesagsbronne (die bybel en die sekulêre wetenskap) die meeste gewig dra. Die kerk moet homself ook verantwoord teenoor skeppingswetenskap. Ek dink nie dat die kerk vir ewig neutraal kan staan hieroor nie. Trouens, die gesag van die Skrif is dieselfde dieperliggende saak wat die Evangeliese Inisiatief implisiet meer na die voorgrond begin bring het. Ek sou sê dat die NG Kerk een of ander stadium die gesprek oor Skrifbeskouing ernstiger moet begin opneem. Bevordering van diversiteit op die manier wat hulle dit tans doen op die Diversiteitsforum bring net ’n groter skeiding tussen ’n wesenlik sekulêr humanistiese skrifbeskouing en ’n behoudende skrifbeskouing. – Philip du Toit

Skrifbeskouing en gesag
2010/08/11

Philip du Toit , is dit jy wat so ’n rooi gesig gekry het op Kletskerk oor homoseksualiteit.

Ek dink jou vergesogte uitdrukking van “skeppingswetenskap” gaan jou dieselfde rooigesig gee.

Is die Wetenskap ’n groot verleentheid vir jou Bybelsesiening oor die skepping en homoseksualisme?

– Kaptein

@Pieta
2010/08/16

Jy slaan die spyker oppie kop, Pieta. Selfs meer ironies is dit dat die samelewing geen probleem hoegenaamd het met die wetenskap wanneer dit kom by die vooruitgang wat dit teweeg bring en waarby almal in hul alledaagse bestaan voordeel trek nie. Dink aan die gebiede van elektronieka, medesyne, chirurgie, kommunikasie en vele meer. Nee, hier word wetenskaplike vooruitgang sonder slag of stoot omarm, maar behoede dit wanneer die toepassing van dieselfde wetenskaplike beginsels wys dat hul dogma op wankelrige bene staan. Dan word hul skielik kenners wat “bewyse” gaan haal uit lawwe apologetiese webtuistes soos “creation.com”. Ek dog lieg is sonde, of is dit net ek wat die oneerlikheid hierin raaksien? – Malherbe

Dis ’n skande!
2010/08/17

Dis ’n skande dat die NG Kerk nie kan standpunt inneem nie. Persone aan albei kante van die debat weet dat ’n middeweg nie bestaan nie. Jy kan nie in die Bybel en in evolusie glo nie. Een van die groot voorstanders van die evolusie byname Thomas Huxley (Darwin’s bulldog) het mooi verduidelik waarom ’n geloof in beide nie moontlik is nie. Dit word beaam deur die Pous van die Atei”sme (en aartsvyand van die Christendom), Richard Dawkins. Die NG Kerk beweer dat hy nie genoeg kennis het om ’n uitspraak te lewer nie. Hoekom raadpleeg hulle nie die wetenskaplikes by “Creation Ministries International” vir leiding nie? Hier het ons ’n groep Christen manne en vroue wat die teorie van evolusie op ’n daaglikse basis aan flarde skeur. Hulle kan dit doen want hulle wetenskaplike kennis is uitmuntend. Dis natuurlik ’n totale wanpersepsie dat daar geen wetenskaplike bewyse vir die Genesisgebeure is nie. Die evolusieteorie is ’n blatante aanval op ons Verlosser en Saligmaker, Onse Here Jesus Christus. Dit is hartseer dat die NG Kerk nie kans sien om op te staan vir Jesus nie. Ek is egter nie verbaas nie. Dit is dieselfde kerk wat in die verlede te rugraatloos was om op te staan teen Apartheid. Hulle is nou weer te rugraatloos om standpunt in te neem en die heilige Naam van ons Here Jesus Christus te verdedig – Dr van der Ventel

Evolusie
2010/08/18

Ek daag enige kreasionis uit om die volgende te verklaar:
1 DNS verwantskappe
2 Genetiese mutasies.

Ek sal dit dadelik onder Wits se paleontologiese departement se aandag bring. Sê net wie het die navorsing gedoen en waar is dit gepubliseer.

– Neander

Van der Ventel se skandes
2010/08/19

Ai, dr Van der Ventel, dat u mense nou verwys na ’n verspotte spul soos Creation Ministries International (=Creation.com)! Hulle artikels waaroor u so opgewonde raak, bevat omtrent sonder uitsondering leuens, verdraaiings, halwe waarhede. ’n Australiese natuuwetenskaplike het ’n boek geskryf waarva due titel vertaal kan word as “Lieg tot eer van God.” Dit pas CMI knus. Ek het hulle daaglikse artikel op die webwerf elke dag gelees totdat ek sat geraak het vir hulle oneerlikheid. Dit is waar dat Dawkins en talle ander natuurwetenskaplikes die Christelike (en enige ander) geloof verwerp en skerp aanval; dit is ewe waar dat talle ander natuurwetenskaplikes, en meer spesifiek bioloë, inspirasie put uit die evolusieteorie en die mate waarin dit die wonder van die skepping ontbloot. Ek sou u kon verwys na Talkorigins.com, maar dit sal tydmors wees; u vooroordeel is duidelik oorweldigend. – Louis van Ryneveld

Ek daag Neander
2010/09/02

Neander, ek daag jou uit om die volgende te verklaar:
1. Hoe mutasies wat DNS kopieer FOUTE is, genetiese inligting laat vermeerder het (bv jy tik ’n boek oor en maak ’n paar foute en op die ou end het jy perongeluk ’n nuwe hoofstuk geskryf.)
2. Waar is al die oorgangskakels? (kyk wat evolusioniste self sê https://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/153-aanhalings-vermiste-skakels.html)

Om jou vrae te beantwoord:

1. DNS ooreenkomste is nie noodwendig bewys vir ’n gemeenskaplike voorvader nie. Dit kan ook bewys wees vir ’n gemeenskaplike ontwerper (kyk http://creation.com/human-ape-dna).
2. Ek dink jy moet daardie een verklaar. Kyk vraag 1 hierbo. – Daniel

NGK nie konsekwent nie
2010/09/03

Met hierdie verklaring is die NGK glad nie konsekwent nie: aan die een kant wil hulle nie standpunt teen evolusie inneem nie, want hulle voel nie bevoeg om saam te praat oor die wetenskap nie. Hulle is wel egter bereid om te sê: “Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie.” Die probleem is dat evolusie ’n hipotese is wat juis gebaseer is op toevallige en spontane “skepping”. Is hierdie stelling van die NGK dan nie in elk geval ’n wetenskaplike uitspraak nie? Dus voel die NGK homself tog bevoeg om “wetenskaplike” uitsprake te maak. Om by hierdie probleem verby te kom, noem hulle hierdie stelling ’n “geloofsuitspraak”, maar as hulle kan glo dat God geskep het, hoekom kan hulle nie ook glo dat God sonder evolusie en in 6 dae geskep het nie?

Die NGK verwar ook operasionele wetenskap met historiese wetenskap (kyk http://creation.com/its-not-science): hulle wil nie evolusie afmaak nie, want hulle het respek vir die wetenskap (daar word genoem dat hulle gehelp het om skole op te rig). Maar hulle begryp nie die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap nie. Dit stel hulle onkunde net nog soveel te meer ten toon.

Die NGK sit duidelik op ’n draad en niemand word hierdeur beïndruk nie: Ateïste gaan nie op hierdie manier vir God gewen word nie, en die gevaar bestaan om gelowiges van die Bybel te vervreem (kyk https://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/52-hoe-evolusie-mense-se-geloof-beinvloed.html). – Pieter

@Dr van der Ventel
2010/09/13

Dr Van der Ventel is heeltemal korrek wanneer hy noem dat “Dit is dieselfde kerk wat in die verlede te rugraatloos was om op te staan teen Apartheid.” Dieselfde kerk wat ons langs die pad van apartheid gelei het, het ons ook vir baie lank die vlg leuens vertel:

1) Evolusie is van die duiwel, is sondig, en Darwin sit in die hel, 2) Homoseksuele is verdoem tot die donkerste duisternis, 3) Egskeiding is sonde en die wat skei is dan ook onder kerklike sensuur geplaas. Daar is vele meer voorbeelde, Dr van der Ventel, maar terug na apartheid. Toe was daar slegs ’n kleine minderheid van brawe stemme wat opgestaan het en die Kerk se dogma teengestaan het. Hierdie minderheid het verkies om gesonde verstand te laat seëvier en nie toegelaat dat dogmatiese indoktrinasie die oorhand kry nie. Nou is my vraag aan u, Dr van der Ventel: Maak u nie vandag dieselfde fout as die destydse kerk nie? Die blote feit dat u na die grappige webtuiste “creation.com” verwys as legetiem, laat my verstom. Ek kan dit nog verstaan komende van oom Sesdag, Doom Aggies(of Daniel en Pieter hierbo), maar mens sou eerlikwaar dink dat u ondervinding van diskriminasie op grond van ras en gebaseer op bybelversies, vir jou rooi ligte sou laat flikker wanneer die letterlike interpretasie van sekere dele van die Bybel gepleeg word. U stellings bewys ongelukkig dat u baie gerieflik dubbele standaarde toepas wanneer dit u saak pas. Na my mening is u dus net so skynheilig en oneerlik soos die kerkvaders van ouds. Al wat dit vra is bietjie eerlikheid teenoor jouself. U weet, dieselfde tipe eerlikheid wat u van uself vereis wanneer u ’n fisika probleem aanpak… – Malherbe

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui