Waarom neem geen ander teoloog standpunt in nie?

*******

Waarom neem geen ander teoloog standpunt in nie? | Kerkbode

Kerkbode, 15 Oktober 2010

Ek verwys na die artikel van prof Johan Janse van Rensburg in Kerkbode (16 April 2010).

Na aanleiding van prof Julian Müller se verklaring oor postteisme, maak prof Janse van Rensburg die volgende stelling: “Dit is sekerlik ongekend in die Gereformeerde wêreld dat ’n predikant en teoloog so radikaal en so finaal van God afskeid neem. Daarmee distansieer prof Müller hom immers van die wyse waarop die Godsopenbaring oor God praat asook van die belydenis van die kerk”

Prof Janse van Rensburg vra dan hoe so iemand kan voortgaan om die Apostolicum en artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis te bely.

As lesers van Kerkbode wag ons almal op ’n antwoord van prof Müller.

As lidmaat en emeritusleraar van die NG Kerk ontstel dit my dat geen ander teoloog na vore kom om standpunt in te neem teen die verkondiging van dwaalleer nie. Wat is die toekoms van die NG Kerk as teoloë en predikante toegelaat word om verwarring onder lidmate te saai?

Watter Evangelie sal deur aspirantpredikante verkondig word as hulle geloofsfondament in die opgestane Christus en God soos in die Bybel en ons belydenisskrifte ondergraaf word? Waak die kuratoria van die teologiese fakulteite nog oor die leer wat aan studente oorgedra word?

My gebed vir die kerk is dat prof Janse van Rensburg sal voortgaan met sy stryd vir die waarheid, en dat teoloë wat sy siening deel, tot die stryd vir die waarheid sal toetree.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui