Perdekoop is reeds lankal nie meer ál opsie nie

Die volgende artikel sê iets oor die nuwe boek Kan ons maar nie net saambly nie?.

Die skrywers is almal liberale teoloë, dus is dit nie moeilik om te raak wat die boodskap van die boek is nie.

Kyk ook die kommentaar onderaan die artikel.

**********

Perdekoop is reeds lankal nie meer ál opsie nie

(Boekbekendstelling)

Kan ons maar nie net saambly nie?
Chris Jones (red)
Medewerkers:
Christina Landman, Louis Jonker, Jeremy Punt, Julie Claassens, Adrio König, Antoon de Klerk en Gerda de Villiers

Beskikbaar: 17 Junie 2010

Saambly is ’n verskynsel wat reeds vir dekades in die samelewing en selfs onder sogenaamde kerkmense voorkom. Die rebelse gees van die laat sestigerjare het aanleiding gegee na vrae oor die instelling van die huwelik. Wie het gesê ons moet trou om mekaar lief te hê? Die vraag het ’n domino-effek gehad.

Talle jongmense het die huwelik as tradisionele kerklike instelling geïgnoreer en begin saamwoon. En toe die respektabeles van die samelewing sien die wilde ouens kom niks oor nie, toe begin hulle dit nadoen. En die gepensioneerdes, wat deur patriargale wetgewing hulle pensioene sou verloor as hulle weer trou, het ’n sug van verligting geslaag, die skande is versag. En mense wat deur slegte eerste huwelike gegaan het, was dankbaar dat saamwoon ’n sosiaal aanvaarbare opsie geword het. En toe kom die oppurtuniste, en toe word dit ’n algemene ding. Behalwe, dit lyk of die kerk dit nie raakgesien het nie. Of nie wou raaksien nie.

Uiteindelik weet die kerk nou daarvan. En het selfs besluit om daaroor te praat. Dit is waarom hierdie publikasie so belangrik is.

Chris Jones en ’n uitgelese groep kundiges bedien die samelewing en die kerk in Kan ons nie maar net saambly nie? met ontledings, prinsipiële nadenke en soeke na verantwoordelike oplossings. Dit is nie ’n poging om die huwelik eenkant toe skuif nie. Dit is ’n poging om goeie kwaliteit huweliksverhoudings te bevorder en waar dit van toepassing is, waardige saamwoonverhoudings.

Vir ’n goeie gesprek om in die kerk tot stand te kom, moet ’n mens weet wat die standpunt van die kerk rakende die spesifieke saak is waaroor jy wil praat – in hierdie geval saambly. Ons weet die amptelike standpunt kom uit 1966/1970 en lui soos volg: “Na aanleiding van ’n versoek van die Ring van Uitenhage en ander klagtes wat ontvang is oor die sondige verskynsel van ongehude persone wat openlik as gehudes saamlewe en ergernis verwek in die Christelike samelewing, versoek die Sinode die Minisiter van Justisie beleef om wetgewing in te dien wat die saamwoon van ongehude persone as gehudes met of sonder die verwekking van buite-egtelike kinders, strafbaar sal maak.” Die regering het geweier om dit te doen, maar hierdie besluit is toe in 1970 deur die kerk herbevestig.

Bitter min (indien enige) NG Kerk-lidmate sal vandag hulle hand vir so ’n besluit opsteek. Dit is waarom ’n moeilike kwessie soos saambly onvermydelik op die kerklike agenda is. Natuurlik ook omdat al meer mense, ook gelowiges, hulle in saamwoon-verhoudings begeef. En ons weet, kompleksiteit beteken feitlik sonder uitsondering moeilikheid. Maar dis nie genoeg rede om daarvan weg te skram nie. Die wêreld is dinamies en ontwikkelend. Dit vra kritiese en tergende vrae. Die kerk moet daarop reageer as dit enigsins relevant wil bly.

Die skrywers van Kan ons nie maar net saambly nie? sê dat hulle veral teologies nuut, maar verantwoordelik, oor hierdie saak wil dink. Hulle stem nie noodwendig met mekaar saam nie, maar hulle respekteer mekaar se oortuigings en hoop dat hulle ’n klompie parameters oor waardegedrewe verhoudings kan aanbied.

Dit is ook belangrik om uit te wys dat hierdie publikasie nie net óór saambly wil praat nie, maar ook mét saamblyers. Hulle insette is onontbeerlik vir ’n sinvolle gesprek hieroor, aangesien Kan ons nie maar net saambly nie? op die 20-plussers gemik is. Daarom is daar ’n klompie saamblyverhale ingevoeg en is daar ook na stemme vanuit ons post-moderne samelewing geluister.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit lyk my die hoofrede waarom daar weer na saamwoon gekyk word slegs is om die kerk “relevant te hou”. Daar word gesê: “Talle jongmense het die huwelik as tradisionele kerklike instelling geïgnoreer en begin saamwoon.” Dus is dit om hierdie rebelse jongmense terug in die kerk te kry.

‘n Vraag wat ek het is waar die idee vandaan kom dat ’n mens nie seks voor die huwelik mag hê nie. Was dit maar slegs ’n kultuur wat vir een of ander rede ontstaan het? Of is dit iets wat deur God aan die mense gesê is en tot vandag toe nog bestaan?

Hierdie kwessie wil vergelyk word met vrouens wat hoede dra (kyk egter Vrouens en Hoede).

Dus moet mense wat saamwoon voorstaan werklik hulle motiewe bevraagteken: Gaan dit nie maar op die ou end om die kerk meer aantreklik te maak vir mense wat die kerk verlaat het nie of die vrees om lidmate en spesifiek die jeug te verloor? En hoe ver moet ’n mens hierdie beginsel neem? Karen Armstrong bv het haar hele siening oor (G)god verwater sodat ook ateïste daarby aanklank moet vind (kyk The Case for God – Karen Armstrong).

Die vraag is: help so ’n benadering?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui