Kan ons maar nie net saambly nie? (Chris Jones)

Hierdie boek en hierdie mense het waarskynlik bygedra tot die feit dat die NG Kerk tydens die 2011 Algemene Sinode ruimte gemaak het vir saamwoonverhoudings – kyk 2011 NGK huwelik- en saamwoonbesluit.

********

Titel: Kan ons maar nie net saambly nie?

Subtitel: Die Bybel oor liggaamlikheid, seks, en die huwelik in nuwe tye

Bladsye: 112

Beskikbaar: 17 Junie 2010

Skrywers: Chris Jones (red), Christina Landman, Louis Jonker, Jeremy Punt, Julie Claassens, Adrio König, Antoon de Klerk en Gerda de Villiers

Waaroor gaan die boek?

Die skrywers is almal liberaal en postmodernisties, dus is dit nie moeilik om te raai wat die boodskap is wat die skrywers wil oordra nie. Dit word bevestig in ’n resensie van Elize Morkel hieronder, waarin sy sê:

Chris Jones bevestig dat hy die huwelik steeds beskou as die mees ideale ruimte om seksualiteit in uit te leef en kinders groot te maak. Hy vra egter dat ons na waardegedrewe verhoudings sal kyk eerder as om die huwelik as struktuur te verafgod.

Inhoud

  • Voorwoord Anton Pienaar
  • Inleiding Chris Jones
  • 1 Saambly – moet ons vandag anders dink? Chris Jones
  • 2 “Die situasie is hopeloos, maar nie ernstig nie”: Die geskiedenis en toekoms van die huwelik Christina Landman
  • 3 ‘n Slavin as plaasvervanger, of eerder 700 vroue en 300 byvroue? – Louis Jonker
  • 4 “Die huwelik is belangrik, maar moenie trou nie. Hoe nou?” – Jeremy Punt
  • 5 Gevare wat die huwelik bedreig – Julia Claassens
  • 6 Heers die waardes van die huwelik ook in saambly? – Adrio König
  • 7 (Postmoderne) redes vir saambly: Ek, hier, nou – Antoon de Klerk
  • 8 En as dit nie uitwerk nie? – Gerda de Villiers
  • 9 Saambly-verhale
  • 10 Waarheen nou?

Resensie

Resensent: Elize Morkel

Met die lees van hierdie boek dink ek onwillekeurig aan hoe my familie al langer as dertig jaar lank tong-in-die-kies vir mekaar sal vra of ’n sekere paartjie “onderverhuur”. Jare gelede het ’n pa van een van ons vriende doodernstig en waardig verduidelik dat sy seun nou ’n huis betrek het en “onderverhuur” aan sy meisie. Saambly was vir hom onnoembaar en dalk selfs ondenkbaar. Maar, “die vlieër van saambly is in die lug”, haal Chris Jones in sy inleiding vir James Kirkpatrick aan en motiveer die onvermydelikheid en noodsaaklikheid van ’n gesprek hieroor, veral binne die kerk.

Terwyl ek lees, voel dit asof ’n stowwerige, vasgeroeste en onder die bed weggesteekte ou koffer oopgemaak en bietjie lug gegee word. Chris Jones bevestig dat hy die huwelik steeds beskou as die mees ideale ruimte om seksualiteit in uit te leef en kinders groot te maak. Hy vra egter dat ons na waardegedrewe verhoudings sal kyk eerder as om die huwelik as struktuur te verafgod. Presies hoe broos en selfs gevaarlik huwelike kan wees, word vernuftig en kreatief deur Julie Claassens belig. Christina Landman se aanslag met die aanbieding van die geskiedenis van die huwelik is terselfdertyd interessant, slim, duidelik, padlangs en humoristies geskryf. Plek-plek lekker uit my maag gelag, dankie, Christina! Die perspektiewe wat Louis Jonker en Jeremy Punt vanuit die Ou en Nuwe Testament bring, gee ’n klomp ou idees oor die huwelik, liefde en seksualiteit bietjie nuwe lug en help belig die waardes relevant tot hedendaagse verbintenisse. Party van daardie Ou Testamentiese huweliksgebruike laat my oë weer rek vir die kulturele konteks van die tyd. Wanneer ek Adrio König en Antoon de Klerk se twee hoofstukke so na mekaar lees, voel dit asof ek eers op my ouers se bed gesit en gesels het en daarna gang-af by my seun se kamer gaan inloer het. Die ouer generasie se stem is helder en duidelik oor die waardes van selfbeheersing, respek en sekuriteit. Die jong man praat oor ek, hier en nou. Kompleks, stimulerend en uitdagend – soms moet ek weer lees om te probeer verstaan.

Die storie waarmee Gerda de Villiers haar hoofstuk begin, is vir my oorbekend, want ek is byna daagliks in my spreekkamer ’n getuie van die pyn van verhoudings wat verbreek word. “Die pyn van ’n saambly-verhouding wat skeefgeloop het, is nie minder intens as die pyn van ’n huwelik wat op die rotse beland het nie,” skryf sy. Haar voorbeeld van ’n saambly-ooreenkoms gee waardevolle riglyne en verhoog ook ons bewussyn oor wat alles op die spel kan wees wanneer mense besluit om in ’n saambly-verhouding te gaan. Die vyf stories waarmee die boek afsluit, verteenwoordig die uiteenlopende stories wat ek mense al dikwels hoor vertel het.

Ek is geweldig dankbaar oor hierdie boek wat ek binne ’n aand deurgelees het. Dit bied vir my as hedendaagse Christen, getroude vrou, ma, vriendin van mense wat tweede verbintenisse aangaan, en tannie van ’n string niggies en nefies ’n wonderlike geleentheid om oopkop en verantwoordelik oor hierdie baie belangrike saak te besin vanuit ’n Bybelse waardeperspektief.

Chris Jones en sy medewerkers slaag daarin om teologiese insig op ’n baie toeganklike en uiters onderhoudende manier na lesers van alle ouderdomsgroepe te bring. As sielkundige beveel ek die boek met sy inhoud en praktiese vrae vir refleksie met groot vrymoedigheid aan.

Julle help ons ook hiermee om binne die groter kerk verantwoordelik gesprek oor hierdie sensitiewe saak te voer. Almal weet die ding is daar, nou is die muwwe koffer onder die bed uit, oopgemaak en bietjie uitgepak. Knapgedaan en baie dankie!

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui