NGKA oor Belhar

Kyk ook:

{jcomments on}Die volgende is geskryf deur Andries Hoffman en het verskyn in Die Kerkstoep van 4 April 2014:

*******

Die standpunt van die moderatuur van die NGKA[NG Kerk in Afrika] Algemene Sinode oor die verenigingsproses is oorhandig by ’n vergadering van die vier moderaturemet dr Jerry Pillay in 2013. Kortliks kom dit op die volgende neer:

Ten spyte daarvan dat die skeuring en voortspruitende hofsake verhoudings onder groot drukgeplaas het, het die NGKA nooit sy besluit herroep dat eenheid al vier kerke moet insluit nie en verskeie sinodes het beklemtoon dat versoening bewerk moet word.

Die NGKA het egter ook tot die oortuiging gekom dat vereniging nie die NGKA moet insluk of vernietig nie. Vereniging moet ook nie ’n negatiewe nie maar positiewe impak hê op die bediening van al die lidmate van die NGKA, van wie baie nie goed in Engels of Afrikaans is nie. Verder het die NGKA dit duidelik gemaak dat eenheid net waarde het as dit op plaaslike vlak realiseer. Om dit alles bymekaar te bring het die NGKA in 2011 gevra vir ’n PROSES waar, aanvanklik, die NGKA sy eie strukture tot op streeksinodale vlak wil behou terwyl daar op alle vlakke ook gesamentlike vergaderings met die res van die NG familie gehou moet word waar ons reeds die werk van die Here (barmhartigheidsdiens en getuienis) saam kan begin doen. So kan ons saam ontdek watter verenigde of gesamentlike strukture uit die proses moet groei.

Wat die ooreenkomste tussen die NGK en VGKSA betref, het die NGKA by ’n vergadering van die moderature in 2013 dit duidelik gemaak dat hy dit respekteer as besluite van daardie twee kerke. Daar is versoek dat dr Pillay ’n afsonderlike MOU met die NGKA bemiddel in die lig van die NGKA se eie omstandighede, behoeftes en sinodale besluite. Die versoek is aanvaar.

Wanneer ons so versigtig weer brûe na mekaar bou, doen ons dit op grond van die evangelie: Deur sy kruisdood het Jesus reeds die middelmuur van skeiding afgebreek en ons deel van een huisgesin gemaak (Ef 2:14, 19).

Boonop het God reeds sy Gees op ons uitgegiet wat ons in een liggaam saambind. Hierdie eenheid moet ons lidmate weer ontdek, beleef en sigbaar maak.

Dit sal veral gebeur wanneer hulle saam die werk van die Here (diens en getuienis) doen. Al vier die moderature het reeds die groen lig hiervoor gegee. Hierdie diakonia en marturia moet begelei word deur egte koinonia (omgee) en leitourgia (aanbidding).

Ons motief vir die vereniging moet dus nie wees om op grond van groter getalle, groter mag of invloed te bekom nie. Ons motief en dryfkrag moet die liefde van ons Here wees, liefde wat onvoorwaardelik vergewe, aanvaar en respekteer.

Die seisoen van menswaardigheid, waarvoor al vier moderature ook die groen lig gegee het, wil ons lidmate hierin begelei. Oral waar ons lidmate opreg die liefde van die Here teenoor mekaar en ander uitleef, sal hulle ’n helende impak op ons verskeurde land hê. Dit moet ons motief wees. En niks keer ons om dadelik daarvan werk te maak nie!

–> Dr Andries Hoffman is skriba van die NG Kerk in Afrika se Algemene Sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui