Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats

Kyk ook:

Die volgende artikel van Jean Oosthuizen het op 19 April 2015 in Rapport verskyn.

Op party plekke wys dit duidelik Jean se geloofsoortuigings. Hy wil voorgee dat die NGK te veel in die verlede vir sy lidmate gelieg het oor dinge soos apartheid, homoseksualiteit, evolusie, skrifgesag ens. Daarom is daar nou wantroue in die NGK leierskap. Ek glo die wantroue se oorsprong is dat lidmate nie meer die leierskap se teologie vertrou nie. Waaroor Jean egter baie reg is, is dat die lidmate van die NGK vertroue in die leierskap verloor het.

Ek glo dat die deursnit lidmaat die feit dat die NGK verkeerd was oor apartheid, reeds lankal verwerk het. Die NGK se probleem vandag is dat die leierskap van die Bybel wil afwyk. Dit gaan nie oor Belhar nie, maar oor die feit dat allerhande ander dwalinge in die kerk ingesleep wil word.

Kommentaar is in [blokhakies] bygevoeg.

Kyk ook die langer kommentare van Daniel Louw, Henrietta Klaasing, Gideon Aggenbag en Johan Kriel in Briewe oor Belhar 2015-04.

Kyk ook Twee kerke by kruispad oor Belhar waar Mary-Anne Plaatjies van Huffel, moderator van die VGK, kommentaar lewer oor hierdie artikel.

************

Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats

Sondag 19 April 2015

Die NG Kerk se uitdagings is baie groter as wat selfs die kerk self besef, skryf Jean Oosthuizen.

Midde-in die apartheidsjare het die voormalige staatspresident PW Botha Suid-Afrikaners gewaarsku om aan te pas of te sterf. Twee weke gelede waarsku die moderator van die NG Kerk, Nelus Niemandt, die NG Kerk is aan die begin van óf ’n geweldige aanpassing óf om stadig net irrelevant te raak. [Kyk Vrystaat stem nee vir Belhar.]

“Daardie keuse sal ons moet maak,” het Niemandt in ʼn media-onderhoud gesê.

As ’n mens kyk na die Belhar-nagmerrie ná die NG Kerk se sinodebesluit hieroor wat landwyd besig is om te boemerang, lyk dit of groot getalle van die kerk se lidmate nie bereid is om die aanpassings te maak waarvan Niemandt praat nie.

Die NG Kerk van 2015 is ʼn diep verdeelde kerk. Die huidige stemmery in die kerk om die Belharbelydenis as opsionele belydenis by die agterdeur te probeer inglip, kry die wind al hoe meer van voor. Gemeentes en sinodes is besig om dié voorstel in groot dele van die land met mening te verwerp. Drie van die kerk se streeksinodes, Namibië, Noord-Kaapland en die Vrystaat, het reeds hard en duidelik nee gesê. [Op Saterdag 18 April 2015 het die Hoëveldse sinode ook nie met tweederde meerderheid ja gesê nie – 138 ja-stemme en 133 nee-stemme.]

Selfs die NG Kerk se eie mondstuk, Kerkbode, bevestig die verdeeldheid in die kerk. Die koerant se redakteur, Neels Jackson, skryf in ʼn hoofartikel die huidige stemproses in die NG Kerk oor die voorgestelde wysiging van die kerk se belydenisgrondslag het diep verdelingslyne binne die kerk blootgelê.

Die Belharbelydenis is slegs die seekoei se oortjies wat uitsteek.

Later vanjaar wanneer die algemene sinode besin oor die kerk se siening oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, sal ons nog dieper verdelingslyne sien. [Kyk Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch.]

Voeg hierby die diep verdeeldheid wat in die NG Kerk bestaan oor Skrifgesag en Skrifbeskouing en die tafel is gedek vir nog lang en uitgerekte debatte in ʼn kerk wat veg om sy identiteit in ʼn snel veranderende samelewing.

Hoe het dit gebeur dat die eens magtige NG Kerk ʼn huis geword het wat teen homself verdeeld is? Daar is geen enkelvoudige antwoord hierop nie.

[Nee, die antwoord is baie eenvoudig. Dit was toe daar besluit is om af te wyk van die Bybel. Daar is sekere dinge in die Bybel wat net eenvoudig nie interpreteerbaar is nie, bv homoseksualiteit. As die leierskap hierdie kwessie dus in die kerk wil indra, moet hulle teenkanting te wagte wees. Dit is byvoorbeeld die rede vir boeke soos Die Trojaanse Perd in die NG Kerk. Hierdie het waarskynlik daartoe bygedra dat die voorstel om Belhar te aanvaar met skeptisisme ontvang is.]

Om agter die kap van die byl te kom waarom die NG Kerk vandag so ’n diep verdeelde kerk is, moet ’n mens so ’n bietjie in die kerk se verlede terugblaai.

In die laat 1980’s het Ferdinand Deist eenkeer gesê wanneer apartheid gaan, sal dit ook die einde van die NG Kerk wees. Of hy reg was, sal die geskiedenis moet leer.

Dit is die verhaal van ʼn kerk wie se mag en invloed al hoe meer taan in die nuwe wêreld waarin hy staan. ʼn Kerk wat al hoe meer sydelings gerangeer word teen die agtergrond van sy allesoorheersende mag en invloed van skaars 20 jaar gelede. Nie net in eie kring nie, maar in die hele land is die proses besig om hom te voltrek op sowel leerstellige as maatskaplik-politieke gebied.

Laat ons maar eerlik wees: Die teenkanting wat die NG Kerk nou van sy eie lidmate kry, is grootliks die gevolg van die politieke en teologiese hongerdieet wat die kerk sy lidmate self oor dekades heen gevoer het.

As ’n mens kyk hoe die NG Kerk sukkel om Belhar aan sy lidmate te verkoop, kan jy nie anders as om te dink aan die storie van die Sap en die Nat wat oor die politiek gestry het in die dae toe die Nasionale Party nog op sy kruin was nie. Skielik het die Sap onverwags kliphard uitgebars van die lag. Wat is so snaaks? wou sy NP-vriend by hom weet. Nee, sê die Sap, ek lag omdat ek dink hoe julle nog eendag gaan sukkel om jul eie mense te oortuig om ontslae te raak van die apartheidswette wat julle so geesdriftig geskep het.

Net so sukkel die NG Kerk vandag om sy lidmate te oortuig baie dinge wat hy dekades lank as die evangelie verkondig het toe nooit die evangelie was nie. Apartheid, evolusie, die sogenaamde sondeval in die paradys, Sondagsport, gay-verhoudings en Belhar is maar enkele van vele sake waaroor die kerk jare lank met groot stelligheid sterk behoudende uitsprake gemaak het – en nou omgeswaai het.

[Hier wys Jean Oosthuizen sy ware kleure. Hy is altyd vreeslik lief daarvoor om te spot oor die pratende slang in Genesis: het hy Hebreeus gepraat? Belhar het niks met hierdie ander kwessies te doen nie. Die NGK is alreeds van so vroeg as 1984 gekant teen apartheid. Dit is egter jammer dat die NGK nie die moed het om standpunt in te neem vir Bybelwaarhede soos die sondeval, homoseksualiteit en die duiwel nie. Lidmate is nie lus vir Belhar nie, want ons is moeg daarvoor om jammer te sê oor apartheid.]

Natuurlik is dit nie verkeerd wanneer ʼn kerk met nuwe insigte progressief vorentoe beweeg en nie op absolute sekerhede staatmaak nie. Dit is deel van ʼn gereformeerde kerk se karakter om te reformeer. Dit kan selfs nuwe lewe tot gevolg hê as hy openlik erken hy was verkeerd oor bepaalde sake en ʼn nuwe koers inslaan.

[Geen probleem om te reformeer nie, mits dit nader aan die Bybel beweeg. Apartheid kon nog nooit met integriteit uit die Bybel regverdig word nie, dus het die NGK in die regte rigting gereformeer toe hulle hul uitgespreek het teen apartheid in ongeveer 1984. Dit is egter jammer dat die NGK nou so gereeld van die Bybel afwyk in die naam van gereformeerdheid. Ek glo dat dit die rede is hoekom lidmate nie meer vertroue het in die NGK leierskap nie.]

Die manier en oortuigingsvermoë waarmee daardie koersaanpassing gemaak word, speel egter ʼn deurslaggewende rol om te bepaal of sy lidmate hom gaan glo of nie. Die NG Kerk slaag op die oomblik nie daarin om sy mense te oortuig nie.

ʼn Groot aantal lidmate vertrou nie meer die kerk se leiers nie. Die kerk se geloofwaardigheid is by baie lidmate onder ernstige verdenking.

Sedert 1985 het die NG Kerk byna ʼn halfmiljoen, of  ʼn derde, van sy lidmate verloor. Genoeg om meer as 900 gemeentes van 500 lidmate elk vol te maak – meer lidmate as wat die ander twee Afrikaanse susterkerke saam het. Sommige sluit hulle by evangeliese of charismatiese kerke aan, maar groot getalle lidmate verdwyn eenvoudig stil-stil in die sekulêre wêreld, omdat hulle die kerk al hoe meer wêreldvreemd vind. Hulle het nie noodwendig hul geloof verloor nie, maar voel hulle eenvoudig nie meer tuis in die kerk se amptelike strukture nie.

[Ek glo die rede vir die verlies aan lidmate is omdat die NGK nie meer die geestelik leier in SA is nie. Ander soos Isak Burger, Angus Buchan, ens het hierdie rol oorgeneem. Die NGK het ’n grap geword. Ons is vir al die verkeerde redes in die nuus. Die NGK gaan van die een kwessie na die ander.]

Hoe diep die kommunikasiegaping in die NG Kerk strek, blyk uit die dubbele boodskappe wat die kerk self aan sy lidmate uitstuur. In die Wes-Kaap maak dié sinode se moderator, Braam Hanekom, lidmate wys die voorgestelde wysiging van die kerkorde maak nie van Belhar ʼn opsionele belydenis nie.

Die NG Kerk in Noord-Kaapland se sinode stem op sy beurt oorweldigend teen presies dieselfde wysiging van die kerkorde omdat dit volgens hulle onder meer wel van Belhar ʼn opsionele belydenis maak. En hulle is natuurlik reg wat dit betref.

Dieselfde dubbelpratery sien ’n mens in die kerk se besluite oor gay-verbintenisse. Aan die een kant sê die kerk hy aanvaar gay lidmate as volwaardige lidmate van die kerk. In dieselfde asem word gay predikante verbied om gelegitimeer te word tensy hulle selibaat is. En die “volwaardige” gay lidmate mag nie soos heteroseksuele lidmate verbintenisse van liefde en trou aangaan nie. Intussen word verskeie gay egpare se kinders openlik in sommige NG gemeentes gedoop, maar ʼn NG predikant mag nie ʼn burgerlike verbintenis tussen twee mense van dieselfde geslag bevestig nie.

[Vat hierdie van wie dit kom.]

So val die pap op die grond tussen die hand en die mond.

Die wantroue teenoor die NG Kerk se leierskap is nie net tot sy eie lidmate beperk nie. In ʼn gesprek op Facebook vertel ʼn teoloog van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), Christina Landman, van ʼn gesprek wat sy met een van die lede van die moderamen van die algemene sinode van die VGK gehad het.

“Ek vra hom toe hoekom haal ons nie maar Belhar van die tafel af nie. Toe sê hy gewoon: ‘Dan sal hulle (die NG Kerk) wel iets anders kry om vereniging te blokkeer.’ ”

Noord-Kaapland se NG sinode het die verdeeldheid in die NG Kerkfamilie verder op die spits gedryf toe hulle verlede maand besluit het die VGK is nie langer deel van die nouste kring van die NG Kerkfamilie nie.

Die moderator van die VGK, prof. Mary-Anne Plaatjies van Huffel, bevestig die warboel in die NG Kerk. “Die huidige formulering van die NG Kerk se kerkorde maak belydeniswysiging in die NG Kerk bykans onmoontlik,” sê sy.

[Hierdie kerkorde is alreeds baie jare die grondwet van die kerk. Dit is juis daar om te verhoed dat dwaling in die kerk ingedra word (nie dat ek sê Belhar is noodwendig ’n dwaling nie). In elkgeval, dit sal baie jammer wees as ’n verhouding tussen die NGK en die VGK afhang van die aanvaarding van Belhar. Ek glo daar kan goeie samewerking wees tussen die twee kerke sonder dat dit nodig is vir die NGK om Belhar te aanvaar. ’n Mens kan verstaan dat die VGK sentimentêle waarde aan Belhar heg, maar hulle moet ook verstaan dat NGK lidmate nie dieselfde sentiment daaroor het nie.]

Sy is huiwerig om haar uit te spreek oor die pad vorentoe. “Met betrekking tot die Noord-Kaap, asook ander sinodes se besluite oor die insluiting van die Belharbelydenis in die belydenisgrondslag van die NG Kerk, behou die VGK hom die reg voor om ná die bilaterale gesprek met die NG Kerk op 23 en 24 April amptelik kommentaar te lewer daaroor.”

Dit sal die eerste keer wees ná die drie NG sinodes se afwysende stem oor Belhar dat dié twee kerke vergader, en dit gaan beslis nie ’n maklike vergadering wees nie.

Kerk- en politieke leiers moes oor die eeue dikwels leeuemoed aan die dag lê om verandering te bewerkstellig. Dit het ʼn Martin Luther gekos om te sê: “Hier staan ek, want ek kan nie anders nie.” Daarmee het hy die Hervorming ingelei. [Terloops, Martin Luther en Jean Oosthuizen sou vandag definitief nie langs dieselfde vuur gesit het nie.] Op 2 Februarie 1990 was dit FW de Klerk wat die waagmoed aan die dag gelê het om die weg te baan vir ’n nuwe Suid-Afrika en die land van ’n gewisse bloedbad te red.

As die NG Kerk nie baie vinnig duidelikheid kry oor die koers wat hy wil loop nie, kan hy dalk vinniger irrelevant raak as wat sy moderator vrees. [Nee wat. Die NGK sal irrelevant word as sy van die Bybelwaarhede afwyk, nie omdat sy nie Belhar wil aanvaar nie.] ’n Kleiner NG Kerk met ’n duidelike visie wie hy is en waarvoor hy staan, het dalk ’n beter kans op oorlewing as ’n kerk wat al hoe meer skoorvoetend vorentoe beweeg omdat hy bang is vir skeuring en só sy profetiese stem kan verloor.

[Ek stem saam. Dit is tyd dat predikante wat nie meer by hulle legitimasie-eed kan hou nie, afstig en hulle eie kerk stig.]

Die huidige proses het geboemerang. Die NG Kerk sal ʼn manier moet vind om sy lidmate te oortuig Belhar is nie ʼn stok waarmee die Afrikaner geslaan word nie, maar ’n staf om almal na eenheid, geregtigheid en versoening te lei.

[Sterkte daarmee. Soos reeds gesê, het die leierskap te veel respek verloor. ’n Groot aantal lidmate volg nie meer die leierskap nie.]

Kommentare

A VAN JAARSVELD

Die eintlike probleem? Die NGK is laaaaaaankal irrelevant. Hoeveel mense steur hulle werklik nog aan hoe die NGK voel of nie voel oor sekere sake nie. Bitter min.

Cathy Kotze

Lidmate het oor die afgelope dekades gesien dat beide “bevryding” en die bevrydingsteologie hersenskimme is. Hulle is moeg om onverpoos daarvan beskuldig te word dat hulle die vlieg in die salf is, terwyl die teendeel waar is.

Daar is ’n Engelse gesegde: No good deed goes unpunished.

Eeue se barmhartigheidsdiens, opheffingswerk, opleiding, fondsinsameling en ondersteuning van al die land se gemeenskappe word ge-ignoreer. Dit word met minagting afgemaak deur diegene wat net nie kan insien dat die Belhar belydenis niks met God uit te maak het nie en alles met ’n politieke agenda wat in die huidige geweldsatmosfeer in die land nie meer relevant is nie.

NG lidmate het so ver agteroor gebuig as wat hulle kon. Hulle sal mettertyd die sinkende skip van ’n voorskriftelike Verenigde kerk verlaat en terugkeer na die aanbidding van God. Dis waar hulle heil lê, nie by diegene wat alles weet van verdeel en nie ’n aks omgee vir die koestering van dit wat al die gemeen

Matthys C.J De Beer

Toe politieke invloed verdwyn het, kon die NG Kerk nie herdefinieer nie. Lidmate is indirek gedwing om op die kerkraad te dien en om die dominee ter wille te wees want jy moes ’n getuigskrif bekom om ’n werk te kon kry. En toe verander dit. En toe is die NG Kerk in die moeilikheid. Maar hulle verstaan dit nou nog nie! En die lidmate vind uit dat die kerk vir hulle oor baie ander dinge gelieg het. En hulle loop!

Rudie Thirion

Die kerk raak regtig al meer irrelevant, nie oor Belhar nie. Selfs in die liberaalste sin word die Skrif en liefde van God nie meer verkondig nie. Die gesag van God word deur die lidmate ondermyn en min onderwerp hulle aan daardie gesag. Die liefdeloosheid binne die kerk het ook onuithoudbaar geword. Om die kerk te verlaat beteken nie noodwendig dat God en geloof in God verlaat word nie. Elize Thirion

Stanus Cloete

Vanwaar kom die idee dat die Kerk mag en invloed moet hê? Die Kerk moet ’n verskil maak aan ’n stukkende wereld. Is dit nie juis die kerk se rol om wêreldvreemd te wees nie? Die kerk vorm myns insiens juis ’n kontrakultuur tot die wereld. Is die storie wat vertel word nie ’n gevaarlike enkel storie nie? Waar is die stories van klein gemeentes wat in ’n veranderende Suid Afrika ’n positiewe verskil aan duisende arm en honger mense se lewens maak? Dat die NG Kerk sukkel om sy identiteit te herdifinieer in ’n nuwe Suid Afrika is waar. Ons leef in nuwe tye met nuwe uitdagings. Maak dit die NG Kerk noodwendig irrelevant? Waar leef die kerk, in sinodale vergaderings of op voetsoolvlak? Wonder maar net.

C Du Plessis

Daar is beslis ruimte vir verandering. Ek het ’n swart aangenome seun; ’n afrikaanse seun, wat ek saam geneem het kerk toe soos my ander kinders en as lidmaat wou laat katkiseer en voorstel. Hy is my kind wat die Here vir ons gegee het. Wat n disaster! Die gevolg is dat hy baie kwaad is vir God en ons nou vervreemd is van die kerk. Dit is ’n groot hartseer in my lewe.

Pieter van Jaarsveld

Dan wil die Kerk met sy probleme oor Belhad met my Kerk in gesprek tree rondom die belydenisskrifte. Wat is daar te sê oor die belydenisskrifte wat die tyd van 500 jaar deurstaan het. Of is dit weer ’n bedekde poging (Lees oneerlik) om die Belharbelydenis by my Kerk se agterdeur te laat inglip. Gaan weg van my …

Koos Roos

Kerkvervreemding is nie slegs ’n NGK verskynsel nie. Die probleem is die inligtingsera. God se wegkruipplekkies raak al hoe minder.

Geen rasionele, ingeligte mens is meer in staat om te kan glo in loop op water, water in wyn toor, pratende bosse, slange en donkies, ry op ’n wolk, geeste, spoke, engeltjies en die Tandemuis nie.

Om te glo soos ’n kind is nie vir moderne, rasionele mense ’n opsie nie.

[Ai jai jai. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap en Loving God with all your mind: logic and creation.]

Cobus Botha

Jean, jy mors darem baie ink en papier net om by die doelwit van jou gebrabbel uit te kom – die bevordering van die stuk Belhar gemors. Hoeveel verkiesings wil julle nog reël voordat julle die boodskap verstaan: die lidmate glo nie julle bogstories oor die Belhar nie. Hulle wil dit nie hê nie. Dis ’n stuk Boesak geskrif. Dit het nie plek in die NG Kerk nie. Ten spyte van julle propaganda is dit inderdaad ’n stok om die Afrikaner te slaan.

Terloops, julle gogga-maak-vir-baba-bang storie dat die kerk nou skielik irrelevant gaan raak en ten gronde gaan as Belhar verwerp word, raak nou erg afgesaag. Dis ’n mite.

Henning Viljoen

Die NG Kerk was nie verniet die “Nasionale Party in gebed” genoem nie. Soos wat die Nasionale Party verdwyn het as gevolg van sy uitgediende ideologie, staar dit nou die “party in gebed” ook in die gesig, omdat dit nie die nuwe uitdagings van ’n veranderde wêreld in die gesig wil staar nie. Dit het niks met liberalistiese/ humanistiese teologiese waardes te doen nie net, maar net met gesonde verstand. Die wêreld is rond en nie plat soos “geglo en verkondig” is nie!!!! [Kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui