Kerk het ruimte vir verskillende standpunte oor Satan

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn en wys dat Braam Hanekom, moderator van die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode, saamstem met die besluit dat daar ruimte gemaak moet word vir mense wat nie aan die duiwel glo nie. Verdere kommentaar is in [rooi-bruin blokhakies].

**********

‘Kerk het ruimte vir verskillende standpunte oor Satan’

Oktober 2011

KAAPSTAD. – “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, sowel as vir lidmate wat nie aan die bestaan van die duiwel en demone glo nie, maar wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Met hierdie deel van sy besluit oor die bediening van bevryding het die onlangse Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode lidmate opnuut aan die gis oor die duiwel se bestaan en die bose in die algemeen.

Die moderator van die pasafgelope Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode, dr Braam Hanekom, sê dit is noodsaaklik om die hele besluit te lees en nie net enkele sinne daaruit te neem nie. “Mense wat net op ’n deel van die besluit fokus herinner my aan die manier waarop fundamentaliste ’n teksteologie gebruik sonder om die ruimer konteks van die teks in ag te neem”, het dr Hanekom aan Kerkbode gesê. [Interessante stelling. Ek wonder watter sieninge word volgens hom as “fundamentalisties” gesien? Kyk Die verskillende genres van die Bybel.]

Dr Hanekom sê vir hom wil die kern van die besluit onomwonde die heerskappy en die oorwinning van Christus oor die Bose of Satan (of watter naam iemand ook al daaraan wil heg) bely. “Op géén manier mag enige gesprek oor die persoonlike aard van die Bose al dan nie, die indruk of persepsie skep dat die sinode gesê het dat die Bose nie bestaan nie of dat hy selfs onseker is oor die bestaan en werklikheid van die Bose nie,” het dr Hanekom aan Kerkbode gesê.

[Niemand het gesê dat die nuwe besluit die bose bevraagteken nie en Hanekom weet dit. Die nuwe besluit skep ruimte vir mense wat nie aan die persoonlike aard van die duiwel glo nie. Die gedagte dat die duiwel nie werklik bestaan nie en ook nie ’n persoonlike wese is nie, is pertinent in stryd met die duidelike en deurlopende getuienisse in die Bybel. Die Evangeliste berig dat Jesus met die duiwel in gesprek was in die woestyn en dat die duiwel Hom daar versoek het. Dus gaan dit oor skrifgesag. Vir meer hieroor, kyk Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding.]

Hy het ook gesê hy is bekommerd dat daar oor die persoonlike aard van die Bose al dan nie gekibbel word, terwyl daar brandende kwessies in die land is om te hanteer.

[Dus sien hy hierdie as ’n baie onbelangrike debat. Landskwessies is dus belangiker as Skrifgesag. Drie jaar na hierdie artikel het die NGK leierskap ’n groot en duur inisiatief gelanseer sodat die NGK die Belydenis van Belhar aanvaar (kyk Waaroor gaan die Belhar stemmery?) Interessant dat Skrifgesag vir Hanekom en die res van die kerkleiding minder belangrik is as dat die NGK die Belydenis van Belhar aanvaar.]

Dr Evard Huisamen, wat meer as 30 jaar oor Satan en sy demoniese magte nagelees het en ook betrokke was by die bediening van bevryding, skryf in ’n onlangse boek, Dieper as Satan (uitgegee deur Griffel Media), dat heelwat dinge rakende die bose met verloop van tyd vir hom duideliker geword het.

Huisamen sê hy wil dit onderstreep dat die Bybel nêrens aan mense vra om in die bestaan van Satan en sy demone te glo nie. “Daar is nie ’n enkele teks wat hierop dui nie. Met ander woorde, om aan Satan of die demone te glo, is nie ’n voorvereiste om ’n Christen te wees nie,” skryf Huisamen. Hy gee egter toe dat daar wel ’n vorm van boosheid in die wêreld aanwesig is en verduidelik sy standpunt aan die hand van sowel die Ou as die Nuwe Testament.

[Hierdie is nie ’n geldige argument nie. Hy is natuurlik reg – ’n mens hoef nie aan die duiwel te glo om gered te word nie, maar die hele Evangelieboodskap is sinneloos as jy nie aan die duiwel glo nie. Jy kan nie die twee skei nie. En as die Bybel verkeerd is oor die duiwel as persoonlike wese of as hierdie feit bevraagteken kan word, watter dele in die Bybel is dan nog oop vir interpretasie? En hoe besluit ’n mens oor die geldigheid van dele in die Bybel?]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui