Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch

Kyk ook:

Die NGK het ’n taakspan vir homoseksualiteit saamgestel aan wie mense skriftelike insette kon stuur of mondelings insette gee tydens verskillende sessies (kyk NGK se taakspan oor homoseksualiteit 2015). Ellison Mouton het self ’n skrywe ingestuur en een van hierdie taakspansessies bygewoon. Hieronder volg terugvoer oor die sessie wat sy bygewoon het. Sy het spesifiek nie enige name genoem nie, maar wou eerder net weergee wat gesê is.

Baie dankie aan Ellison wat tyd afgestaan het om hierdie byeenkoms by te woon en om hierdie op te skryf.

Kyk Die Bybel oor homoseksualiteit vir weerleggings van progay opinies. Let daarop dat die “progay” siening is dat homoseksuele mense nie kan verander nie, en dat die kerk hulle moet aanvaar nes hulle is. Die progay siening staan nie noodwendig promiskue gedrag voor nie.

************

Taakspanopdrag: Wat is die etiese en juridiese aspekte wat ter sprake is by selfde geslag verhoudings?

In Oktober 2015 is dit weer tyd vir die Algemene Sinode. Met die vorige sinodesitting in 2007 is daar ’n taakspan aangewys wat na die etiese en juridiese kwessies rondom homoseksuele verhoudings moes kyk.

Die taakspan het ’n byeenkoms in Stellenbosch gehou wat ek gaan bygewoon het. Ek was nie baie lus om dit by te woon nie, maar het tog beleef dat die Here my lei om dit tog maar te doen. Ek het voorbereid gegaan. Ek sou graag die taakspan bewus wou maak van die feit dat daar wel mense is wat die behoefte het om te verander. My doel was om hulle te vra om ook teenoor daardie mense eties korrek op te tree deur programme in plek te stel wat verantwoordelike hulpverlening aan diesulkes kan bied. Maar dit was vir my nog meer belangrik om net te praat as die Here my duidelik lei om dit te doen. Daar was ’n paar geleenthede waar ek gewonder het of ek nie op ’n stelling moes reageer nie, maar ek het beleef dat ek niks moet sê nie. En, snaaks genoeg, nie een van hulle het gevra of ek iets wou deel nie. Buiten myself, was almal wat die byeenkoms bygewoon het, insluitend die taakspan, progay.

Skrifbeskouing

Daar was ten minste twee “skrifgeleerdes”. Een ’n Ou Testamentikus en die ander ’n kenner van die Ou en Nuwe Testament. Daar is nie baie oor die Woord gepraat nie. (Daar is ook nie met Skriflesing en gebed geopen nie. Ook nie afgesluit nie.) Hulle het in breë trekke na die Skrif verwys. Eintlik net in verbygaande sin. Die Skrif is nooit gebruik om die wil van die Here aan te toon nie. Die een persoon het eintlik net vinnig, sonder veel verduideliking, gesê dat Levitikus [18:22 en 20:13] se veroordeling nie van toepassing is nie, want die woord homoseksualiteit is ’n moderne woord wat later daar invertaal is. En Genesis 19 gaan oor ongasvryheid. Hy het niks oor die ander tekste gesê nie [Romeine 1:27, 1 Korintiërs 6:9-10 en 1 Titus 1:9-10].

Hulle siening is dat ’n eksklusiewe hermeneutiek neerkom op onverantwoordelike Skrifgebruik. Daar behoort inklusief na die tekste gekyk te word. Daar moet gekyk word na die omstandighede en die gehoor van die dag vir wie dit geskryf is, hoe het die vroeë christene op daardie teks gereageer, watter nuwe insigte bring die moderne wetenskap ens. “Daar kan nie met ’n vervlakte hermeneutiek omgegaan word waar dit gaan om homoseksualiteit nie.”

Ek het die indruk gekry dat die verstaan van die tekste vir hulle bepaal word deur die mens se ervaring en belewing van die praktyk. Dit voel vir my asof hulle dink dit sou onverantwoordelik wees as die teks eintlik gebruik word om te sê hoe korrekte gedrag in God se oë behoort te lyk.

Die een sielkundige het baie sterk opinies oor fundamentaliste. Hy meen hulle is die grootste probleem in die kerk. En hy meen 70% van die kerk is fundamentalisties. Hy sien hulle as wrede mense wat een vers uit konteks ruk. Hy sê alle fundamentaliste loop met maskers rond. Veral predikante en ouderlinge en diakens. Hulle projekteer dan hulle seer op gays. Fundamentaliste vereer God vanuit hulle woede. Jesus het baie sterk gepraat teen fundamentaliste en gesê dat hulle die kindertjies mislei. Hy meen ook dat fundamentaliste die mense van Jesus vervreem. En dat ex-gays deur die Woord opgefoeter is (hy het ’n ander woord gebruik).

Een van Stellenbosch se teoloë het die volgende te sê gehad oor die rede vir die vervlakking in die kerk se spiritualiteit:

“Luther het destyds gesê seksualiteit is soos medisyne vir die siel. Daarom moet ons besef dat spiritualiteit en seksualiteit nie van mekaar te skei is nie. Die rede vir die vervlakking in ons kerk se spiritualiteit is te wyte daaraan dat ons die verband tussen die twee nie meer verstaan nie.”

Hy sê verder: “Hoe gaan die proses en kommissieverslag radikale transformasie tot gevolg hê as die lat nie meer werk nie en die wortel ook nie? Mag ons met minder as radikale transformasie tevrede wees?”

Uitgangspunt

Die uitgangspunt van almal wat daar was, myself uitgesluit, was dat homoseksuele verhoudings reg is. Iemand het gesê: “die kerk moet besef dit is jou ingebore identiteit en mense moenie jou menswaardigheid probeer wegvat nie.” Vir daardie persoon is dit uiters belangrik dat daar omgesien moet word na die gay dogtertjies en seuntjies wat in die kerk gebore word. Hy meen hulle loop die gevaar om psigososiale letsels op te doen vanweë hulle ouers en die kerk se siening dat LGBT (lesbian gay bisexual transgender) sonde is. Die kerk sal die kinders opfoeter (hy het ’n ander woord gebruik). Die voorsitter se kommentaar hierop was dat ouers vasgevang is tussen “vermeende gehoorsaamheid aan God en liefde vir sy kind”.

Die een vrou was redelik moedeloos met die gesprekke wat gebeur maar daar is geen uitkomste sover sy kan sien nie. Hierdie is die soveelste gesprek. Sy voel sterk oor die volgende punt: “Mense bly praat oor gays. Ek is moeg om elke keer dankbaar te voel dat iemand my genooi het om deel te wees van ’n gesprek.” Sy voel gay mense het net soveel bestaansreg as ander. Eintlik is dit homoseksuele wat die belangrikste in die gesprek is.

Oor seksualiteit het die een gesê: “Die kerk moet wakker word en besef dat seksuele etiek nie net in die huwelik bestaan nie. Seks is ook in “civil union” betrokke so “civil union” gaan ook nie werk nie. Dit was onduidelik wat hy hier probeer sê het. Verder het hy gesê: “Homoseksuele verhoudings gaan oor monogame verbintenisse met voordurende sorg vir mekaar. Homoseksuele verhoudings stel ’n nuwe model vir verhoudings. Gays is die eksperts op verhoudings. Julle [die heteroseksuele teenwoordig] kan by óns leer….nie anders om nie.”

Dit was vir my baie sleg om te beleef dat daar gepraat word vanuit ’n absolute oortuiging dat homoseksualiteit ’n onveranderbare gegewe is. Ek het net weereens besef dat homoseksuele mense met ’n intense seer loop. ’n Seer waarvoor hulle die kerk blameer en self voel dat hulle geen skuld daaraan het nie. En hulle kry dit reg om die seer en verwerping so oor te dra dat kerkmense skuldig begin voel. En dan later self ook glo dat dit ’n aangebore oriëntasie is. Daar was baie passie en empatie en ’n sterk behoefte van die taakspan en ander teoloë en besoekers se kant af om homoseksuele tegemoet te kom en te ondersteun en hul saak aktief te bevorder. Ek glo ook dat homoseksuele ondersteun moet word, maar dan in waarheid en liefde volgens die Woord en begeleiding na verandering.

So sê een van die teoloë toe: “Seksuele oriëntasie is nie ’n kriteria vir kondonering nie. Dit is nie sonde of ’n afwyking nie. Enige perverse optrede doen afbreek aan God se eer. Die homoseksuele mens moet begelei word in die vorming van ’n menslike identiteit, geloofsidentiteit, volwasse verhoudings en die gebruik van sy gawes.”

Die belewenis van ouers tydens die 2007 sinode is as volg verwoord deur ’n ma wat die vergadering bygewoon het: “’n Stuk of 30 ouers was ter ondersteuning van die gay saak besoekers by die sinode. Mense het steeds veroordeel en op maniere gepraat wat my laat voel het dat daar geen begrip is vir die gevoelens van die familie en ander mense na aan die gay nie. Het ander mense werklik nog ’n bewussyn van ander mense se harte en siele?”

Strategie

Veral die een persoon het baie sterk daaroor gevoel dat daar ’n strategie beplan moet word. Hy het baie duidelik aan die taakspan gesê dat hulle die sinode nou vinnig sover moet kry om hierdie sake af te handel, want daar is nog sake wat hulle wil druk. Hy het gesê dat hierdie nog niks is nie – dat die sinode moet sien wat nog gaan kom. Almal in die byeenkoms het dit heel snaaks gevind.

Die groot ding wat hulle wil regkry is om die huwelik anders gedefinieer te kry. Dit moet nie beskryf word as ’n verbintenis tussen een man en een vrou nie, maar as ’n verbintenis tussen twee persone. Die ander saak waaroor hulle sterk voel is die vereiste wat die sinode aan voornemende predikante stel om selibaat te leef. Hulle voel dat daardie besluite van die 2007 sinode geskrap moet word.

Die strategievoorstelle wat van verskillende mense van die vloer af gekom het, is die volgende:

  • “Sê eenvoudig: “Dis hoe ons die boodskap van die evangelie verstaan. En ondersteun dit dan met getuienisse. Pieter Oberholzer het eenvoudig in die [streek]sinode opgestaan en gesê dat hy gay is en dat hy ’n partner het. En almal het dit so aanvaar. So ’n optrede sal die [algemene] sinode swaai. Moenie gaan vir wat jy dink haalbaar is nie, gaan groot! Waar jy iemand oog tot oog kan sien, aanvaar mense jou makliker. Daar is net ’n handjievol kerkmense wat lawaai maak. Staan sterk en gaan groot.”
  • “Ons moet aandring op gesprekvoering. Dit is ’n belangrike deel van strategie want dit kry die stories uit na ’n groter gehoor. Wees bereid om stories te deel oor seksualiteit en spiritualiteit.”
  • “Die beste strategie is om soveel as moontlik getuienisse van gays te deel. En die magtigste wapen is humor. Vra byvoorbeeld vir iemand wat teen gays is wanneer hy dan gekies het om straight te wees.”
  • Predikante moet genader word om hulle te probeer omhaal om ’n kursus in hulle gemeentes te laat aanbied. Die kursus gaan oor inklusiwiteit en die aanvaarding van LGBT. Dit is ontwikkel deur twee gays wat teologie studeer het. Die een se ouers is reeds besig met hierdie strategie in hul omgewing.
  • Die massas gaan nooit oortuig word nie. “Die woord moet van mond tot mond versprei word. Die probleem is dat ons met predikante en ouderlinge en diakens sit wat met maskers aan loop.” (Hy sien hulle ook in sy spreekkamer.) “Hulle gooi hulle eie probleme op die gays af.”
  • “Ons mense sit met ’n antieke opvatting oor semen. Mense kan nie op rasionele wyse oortuig word nie”.
  • Die sinode moet teruggeneem word na besluite wat hulle in die verlede geneem het. ”Interpreteer die besluit vir hulle in terme van die praktiese implikasies van daardie besluit, en hou hulle daaraan.”
  • Die beste strategie is om eenvoudig te sê wat die Evangelie oor homoseksualiteit sê. “Daar is ’n groepie wat ten minste weet wat die Bybel oor die gays sê. Deel daardie oortuiging reguit. Dit is strategie.”
  • “Daar moenie oor gay verhoudings as ’n aparte soort verhouding gepraat word nie. Daar moet riglyne in die breër omvattende sin gestel word. Dit moet kort en kragtig gestel word, sonder om gays uit te sonder.”
  • Homoseksuele kan ouderlinge en diakens word maar nie predikante nie. Die sinode het aanvaar dat gays hulleself aan dieselfde etiese beginsels as heteroseksueles sal onderwerp. Die sinode het nooit die aanvaarbaarheid van homoseksualiteit bevraagteken nie. (Hulle soek na skuiwergate in besluite.)
  • “Die taakspan moet nou ’n duidelike verslag gee i.t.v. die verstaan van die evangelie en oor die etiek van selfde geslag verhoudings sodat homoseksueles op dieselfde basis as heteroseksueles behandel kan word.”
  • Die sinode besef nie wat hulle al reeds besluit het nie. Hulle moet eenvoudig aan daardie besluite gehou word. Hierdie sinode moet nou die besluit dat ’n huwelik net tussen ’n man en ’n vrou kan wees, uitdaag.”
  • “Daar is in 2007 besluite geneem waardeur daar met hierdie sinode ’n streep getrek moet word. Soos die verpligting om selibaat te lewe en dat ’n huwelik net tussen man en vrou kan wees. Die taakspan moet kyk hoe die etiese beginsels moet lyk waaraan ’n permanenter verhouding moet voldoen. En homoseksuele predikante moet georden kan word ongeag hulle verhoudings.”
  • Die stappies moenie te groot wees nie want “anders haal ons die ‘blinds’ van hulle oë af oor ons seksualiteit.”
  • “Mens moet dalk nie karring aan die definisie van huwelik nie en dan eerder een of ander ander verbintenis naas dit stel. Dit sal minder probleme veroorsaak.”
  • Die proses moet so wees dat die Bybel as transformasie instrument gebruik word en nie as legitimeringsbron nie. Mense se stories moet vertel word. “Maak selfs ’n storie op uit al die stories wat ons gehoor het om die doel te bereik. Ons moet hierdie ding in die mense se koppe afgebreek kry.”
  • “Daar was deur die eeue heen ’n magiese beskerming van die huwelik. Wetlik word dit ook beskryf as ’n verbintenis tussen man en vrou. Die ander saak is dat die kerk die verpligting om selibaat te leef moet skrap. Dit is ook nie genoeg om net ’n etiese riglyn vir ’n verhouding te gee nie.” Sy stel voor dat ’n siviele verbintenis voorgestel moet word. “As daar nie onderskeid getref moet word tussen man en vrou of selfde geslag verbintenisse nie, sal predikante dit makliker voltrek. As die sinode ’n siviele verbintenis goedkeur, moet die kerk ook die selibasievereiste laat gaan want dit sal inkonsekwent wees, aangesien dit mos ook ’n ‘huwelik’ is.”
  • “Dis die praktyk wat baie belangrik is. Nie net woorde nie. Die kursus wat ons ontwikkel het oor homoseksualilteit moet aan predikante aangebied word sodat hulle met hulle gemeentes oor seks en seksualiteit kan praat. Dan kan dit op grondvlak wortelskiet. Daar moet hard probeer word om hierdie kursus, of soortgelykes, goedgekeur te kry by die sinode. Die sinode moet dit ‘sanction’. Predikante wat dit bywoon kan dan ook punte kry.”
  • Aanhoudend gesprekke en toerusting met lidmate moet plaasvind ongeag die vordering met die sinode.
  • Hulle wil hierdie saak by die sinode afgehandel kry, want daar is ander sake wat hulle nou ook wil druk.
  • “Die Presbiteriaanse kerk is ons een voor in die verbreding van die definisie van die huwelik na ’n verbintenis tussen twee mense in stede van tussen man en vrou. En die kerk het nie geskeur deur daardie besluit soos gevrees is nie, al het baie die kerk verlaat. Daar is baie vordering in SA gemaak, maar steeds te min om te vier. Daar is steeds te veel diskriminasie en te veel diskriminerende taal.”

Besprekings van insette aan die taakspan

Daar was geen bespreking van vooraf geskrewe insette aan die taakspan nie, alhoewel ons bewus is van ’n hele paar briewe aan die taakspan wat die progay siening weerspreek vanuit die Bybel, etiese beginsels en die nuutste wetenskaplike navorsing (kyk byvoorbeeld:

Die enigste briewe wat wel kortliks na verwys is en sterk aanbeveel is deur ’n spesifieke persoon aan die taakspan om gelees te word, was progay briewe. By gesê, dit was moontlik nie die doel van die vergadering om geskrewe insette te bespreek nie.

Ligpunte

Ja, sowaar! Daar was uitlatings wat my opgewonde gemaak het. En ek wonder of die Here ons nie daardeur wil bemoedig nie. Mens dink so dikwels dat jy in die minderheid is, dat die stryd klaar verloor is. Maar daar is sowaar goeie nuus!

  • Die ouers waarna hierbo verwys is wat hul gay seun en sy vriend se kursus, oor inklusiwiteit en die aanvaarding van LGBT, in gemeentes in hul omgewing aangebied probeer kry, het sover nog nie eintlik predikante gekry wat wil instem nie. “Hulle moet eers met die kerkraad praat, of die tyd is nog nie reg nie, en so gaan die verskonings aan.”
  • Die ouers van ’n gay seun het opgewonde by die huis gekom na die sinode en aan hulle seun vertel dat hy nou ’n volwaardige lidmaat mag wees. Hy mag selfs op die kerkraad dien. Maar sy seun het nooit beleef dat hy aanvaar word nie. Hulle beleef die gemeentes leef nie die kerkleiding se besluite uit nie.
  • ’n Ander ma se ervaring is dat baie predikante wel oop is vir homoseksuele, maar hulle probleem is dat hulle gemeentes nog oortuig moet word.
  • Een van die plaaslike predikante wat teenwoordig was, het gesê: “Daar is ’n groepie wat ten minste weet wat die Bybel oor die gays sê. Deel daardie oortuiging reguit. Dit is strategie.” Sy krisisvraag is hoe om die lidmate oortuig te kry. Hulle het skynbaar een of ander tyd ’n gesprek met gays by die Wes-Kaap se sinode gehad. “Die predikante is gevra om hulle gesprek net eenvoudig te gaan oordra in hulle gemeentes en net 2% het dit gedoen.” Hulle is geskok oor die predikante se onwilligheid.
  • Hulle is ook onseker oor hoe die sinode gaan besluit: “Mens weet nie wat om te verwag nie, want op die ou end gebeur die proses eers by die sinode op grond van inligtingstukke. Dit hang ook af van hoe die leierskap lyk.

Ek is opgewonde oor hierdie uitlatings. Dit is vir my kosbaar om te besef dat daar nog predikante en lidmate is wat nie sommer oorgegee het nie. Of predikante traag is om mee te doen omrede vrees vir die gevolge in hul gemeentes in terme van lidmaatreaksie of omrede oortuigings weet ek nie. Wat my wel besorgd maak is die feit dat baie van ons leraars nie ’n idee het waaroor homoseksualiteit eintlik gaan nie.

So, hoe nou gemaak?

Eerstens voel ek baie sterk daaroor dat dit nie gaan help om die taakspan, of diegene wat die byeenkoms bygewoon het, direk of indirek oor stellings te konfronteer nie. Josafat moes net die Here loof en uittrek na die geveg om te sien hoe die vyand mekaar uitgeroei het. As ons op die taakspan se uitsprake en werkswyse fokus in terme van presies wie het wat gesê, gebruik ons kosbare tyd wat op ander fronte nodiger is. En boonop gaan hulle net die “fundamentaliste” verder probeer verkleineer, wat dalk net die kanse gaan verskraal dat noodsaaklike inligting wyd gelees word. Ons doel is om mense met die korrekte inligting oor selfde geslag aangetrokkenheid te bemagtig. Nie om spesifieke mense aan te val nie.

Hier volg ’n paar voorstelle:

  • Bid vir die verkiesing van die leierskap van die sinode.
  • Bid vir onderskeiding vir elke afgevaardigde.
  • Bid ook vir die regte afgevaardigdes om die sinode by te woon.
  • Soos Nehemia se strategie met die herbou van die stadsmuur, moet ons by die Here hoor hoe lyk die herstel wat ons voor ons “huis” moet doen. En dan doen ons so met die “swaard” in die een hand en die troffel in die ander.
  • Dit is baie belangrik dat ons veral predikante bemagtig met die waarheid oor homoseksualiteit. Die druk wat deur seerkrymense se getuienisse op ons pastorale ore val gaan al groter word. Mense gaan met die korrekte inligting bewapen moet word om die onderskeidingsvermoë wat nodig is aan die dag te lê.
  • Ons moet ook bid om die Here se hart vir hierdie mense te hê. Dit is maklik om te veroordeel. Maar ons moet besef dat hulle in Satan se net van misleiding ingetrek is. Richard Cohen sê graag dat die een wat die meeste liefde betoon die grootste kans het om die persoon wat geval het terug te wen.
  • Kom ons bid vir die gesindheid van Galasiërs 6:1-3. Dat ons mekaar in nederigheid reghelp met ’n gees van sagmoedigheid want enige een van ons kan ook in sonde val.

Ek sluit graag af met Sagaria 8:6:

So sê die Here die Almagtige: “Net omdat dit vir die oorblyfsel onmoontlik lyk moet dit dan vir My onmoontlik wees?” So sê die Here die Almagtige.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui