Christina Landman: Vier vrae oor Retief se boek oor (on)geloof

Dit is min dat ’n mens ’n tipe bondgenoot in Christina Landman vind. Landman kritiseer wel Johan Retief se boek, maar baie waarskynlik vir ander redes as wat behoudendes sy boek kritiseer.

*******

Christina Landman: Vier vrae oor Retief se boek oor (on)geloof | Netwerk24

Christina Landman

08 Junie 2022

Ek doen nou die dag huisbesoek by Auntie Issie. Sy is amper 90 en vertel hoe sy 16 kinders gehad het, maar net vier het oorleef. “Maar weet jy wat het my aan die gang gehou, Dominee?” vra sy. “Dis die dokter,” beantwoord sy self die vraag. “Toe ek my eerste kind verloor het, het die dokter gesê: Moenie bekommer nie, Mevrou, jou eierstokke skitter nog!”

Dis seker omdat Auntie Issie so ’n kerkvrou is dat ek toe sommer ook aan die kerk dink. Hoe lank gaan die kerk nog skitter?

Onlangs lees ons van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) wat gedagvaar word, want hy beïnvloed kinders glo teen ouers en pleeg­ouers. Dis nie vir ons om die hof se werk te doen nie. My ervaring van die CMR was nog altyd goed. Maar ’n mens wonder hoe hy daardeur gaan aanhou skitter.

En nou is daar ’n boek van Johan Retief met die titel Die slegte nuus van die evangelie. Ek het nog nooit van Retief gehoor nie, maar dis omdat hy 33 jaar gelede al die kerk probeer los het. Hy het die NG Kerk gelos weens sy ondersteuning van apartheid destyds. En toe het hy die (toe nog) NG Sendingkerk gelos omdat hy klaarblyklik nie meer in sy teologie geglo het nie.

Ek het ’n paar vrae oor die boek. Eerstens, hoekom is dit gepubliseer? Dis regtig ’n vervelige boek. Daar is nie een oorspronklike idee in nie. Al die aanvalle wat daarin op die teologie uitgevoer word, is al deur duisende teoloë (en ateïste) deur die eeue behandel. Vrae oor die uitverkiesing en waarom God ons laat swaarkry, is al lank op die tafel.

[Kommentaar: Dit klink of hierdie reg kan wees.]

Tweedens, is dít nie ’n soort ateïstiese fundamentalisme nie? Om elke sinnetjie in die Bybel letterlik te lees en dit vals te verklaar in terme van vandag se siening van “waarheid” en “wetenskap”?

[Kommentaar: Dit is waarskynlik hier waar die paaie vir Landman en behoudendes skei. Sodra liberales begin praat van “wetenskap” dan word daar bedoel dat evolusie wetenskaplik bewys is en dat dit wetenskaplik bewys is dat mense homoseksueel gebore word, daarom moet die Bybel die knie buig.]

Teoloë het dit al self soveel beter en skerper gedoen wanneer hulle ons leer hoe om die Bybel histories te lees. Hulle wys daarop dat die Bybel in ander tye en in sekere kontekste ontstaan het. Maar dié boek werk heeltemal onhistories en vertel ons dat die Bybel in die 20ste eeu feitelik verkeerd is. Is daar nie begrip vir hoe die geloof van mense mondelings oorgedra word en wat gebeur wanneer dit uiteindelik in skrif neergepen word nie?

Verstaan die boek nie hoe die “oorspronklike” Christelike geloof mettertyd (veral ná die vierde eeu n.C.) mitologies gelaai is en soms ook verpolitiseer is nie? Dele van die Bybel is vir verskillende gehore geskryf, van wie sommige eers Jode­ was en ander weer uit ander godsdienste gekom het.

Daarom klink die evangelies verskillend van mekaar. Verstaan die boek nie dat wanneer jy iemand se geloof ’n leuen noem, jy net jou eie waarheid erken nie? En dat jy dink jou waarheid skitter meer as ander s’n nie?

Derdens, verstaan die boek nie hoe baie soorte Christene daar is nie? Die boek skep ’n karikatuur van die Christen wat puriteins (oordrewe moreel) en piëtisties (vroom sonder ’n brein) is, en sommer charismaties ook is. Al dié soorte Christene kan nie in een mens bestaan nie omdat hulle verskillend dink en verskillend aanbid.

Vierdens en laastens wonder ek of die boek gepubliseer is om “die kerk” te laat ophou skitter. Dan kan “die kerk” maar Auntie Issie se raad volg . . . om niemand of niks toe te laat om haar skitter by haar te steel nie.

* Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

2 thoughts on “Christina Landman: Vier vrae oor Retief se boek oor (on)geloof”

  1. ‘n Professor? Get real!
    Die rede vir die lang en baie gesprekke is omdat gelowiges probeer om die wetenskap verkeerd te bewys! Vergeet dit. Dis nie moontlik om wetenskap “verkeerd” te bewys nie…al wat wetenskaplikes doen is om dankie te sê dat ‘n teorie of opinie of beginsel verkeerd bewys word! Dan begin ons maar weer van vooraf.
    Gelowiges druk hulle koppe in die sand en het net EEN antwoord op alle vra: “omdat God so sê”! Aiiii tog

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui