Kuratorium hét beleid vir sosiale media

Kyk ook kommentaar onderaan en Kommunikasie-protokol moet geag word (9 Jun 2022) waarin Albin Bowler op hierdie brief van Bernhard Ficker reageer.

*******

Kuratorium hét beleid vir sosiale media | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

08 Junie 2022

Dankie vir Jan Lubbe se brief “Dit stel nie profesie nie, maar samesweringsteorie” (02.06).

Die Algemene Kuratorium (AK) se item 3.2 in sy verslag verwys na “ ’n afdwingbare beleid oor sosiale media wat predikante en ampsdraers van die NGK verbied om sosialemediaplatforms te gebruik om veralgemeende, nadelige en verdagmakende berigte oor teologiese opleiding te publiseer”.

Wat word beskou as “sosiale media”? ’n Brief aan Volksblad?

’n Facebook-inskrywing? ’n WhatsApp-skrywe? Moet diakens, ouderlinge en dominees wat ’n brief oor teologiese opleiding aan Volksblad skryf, nou optrede teen hulle verwag?

Wie presies gaan bepaal of ’n skrywe “veralgemeend, nadelig en verdagmakend” is? Dis mode­ om iemand met wie nie saamgestem word nie se skrywe as “veralgemeend, nadelig en verdagmakend” uit te kryt. Presies hoe gaan teen sulke diakens, diakonesse, ouderlinge en dominees opgetree word? Wie gaan die beleid afdwing en wat kan die moontlike strafmaatreëls wees?

Kan ds. Lubbe ’n bietjie duidelikheid daaroor gee, asseblief?

Kommentaar

Gerhard Mahne

Dankie dr Ficker, jy hou ons op ons tone.

Dit gons steeds in die NG Kerk oor sy “kuratoriumbeleid vir sosiale media” rondom droomscenario 2030. Die kritiek teen openbare deelname in hierdie debat, is opvallend. Ontstelde NG lidmate beveel daarom aan dat die NG Kerk hom nie aan mense van buite moet steur nie, en dat NG dominees nie eers daarop moet reageer nie. Hierdie kritiek is al vir ʼn geruime tyd veral teen Dr Bernhard Ficker van Somerset-Wes wat nie ʼn NG lidmaat is nie, gemik. By nadere ondersoek blyk dit egter dat dr Ficker sy navorsing deeglik doen en dat hy weet wat aan die gang is, nie net in die NG Kerk in Suid-Afrika en Namibië nie, maar ook internasionaal. Hy is meer op die hoogte van sake oor wat wêreldwyd in kerke gebeur, ook in die NG Kerk se Algemene Sinode as baie van ons eie lidmate. Mens kan verstaan dat ongevraagde kritiek van ʼn buurman nooit lekker afgaan nie, maar in die media gaan dit juis oor openbare debatvoering met sy lof en vermaning. Neem byvoorbeeld die debat teen Vladimir Putin en sy inval in Ukraine, of oor Kim Jong-un en sy kerntoetse of oor Mnr. Cyril Ramaphosa en sy jagplaas of Joe Biden en sy administrasie wat menige Republikein warm om die kraag het. Goed of sleg, dis baie noodsaaklik. Is dit nie miskien onvolwasse van ʼn kerk om gesteurd te voel oor kritiek van buite nie? As ons die absolute waarhede van die onfeilbare Woord van die Here onvervals handhaaf, en ons eerlik daarvoor beywer is daar mos niks om oor kwaad te wees nie, en niks om weg te steek nie. Dan kan ons mos met ʼn skoon gewete voortgaan om te doen wat ons moet doen, ten spyte van kritiek uit watter oord dit ook al mag kom. Dankie dr. Ficker, jy hou ons op ons tone. Hou so aan!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui