Anton van Niekerk: Dít is waar die duiwel skuilhou

Die volgende aritikels het verskyn na aanleiding van die artikel hieronder:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton van Niekerk: Dít is waar die duiwel skuilhou | Netwerk24

Anton van Niekerk

25 April 2023

Nuusberigte wil dit hê dat die Vrystaatse sinode van die NG Kerk pas ’n “spesiale” sinode gehou het “ter voorbereiding” van die algemene sinode later vanjaar.

Onder die sake wat daar bespreek is, tel dan, wrintiewaar, die swaarwigtige vraag of daar regtig ’n duiwel is! Kan dit wees dat die voorstelling van ’n bok-kop-mannetjie met ruie wenkbroue, ’n getande vurk en ’n bokbaardjie nog enige traksie in die geledere van die kerk het?

Ek wil nie te krities wees teenoor die NG Kerk, waarvan ek self ’n lidmaat (en selfs ’n ampsdraer) is, nie. Dié kerk het weliswaar om die totstandkoming en begronding van apartheid winde gesluk en skandalige onreg goedgepraat.

Meer onlangs kan ’n mens nie anders nie as om onder die indruk te kom van teologiese vernuwing, omvattende dienslewering en nuwe ekumeniese verbintenisse in die kerk. Daarby het die NG Kerk ’n luisterende kerk geword; ’n ruimte waarin ernstig gesoek word na gemeenskapsvorming en sorg om ’n outentieke uitreik na nood en lyding.

Dis juis die gewaarwording omtrent laasgenoemde ontwikkelings wat ’n mens so verstom laat oor die voortgesette obsessie met ’n antikwariese “geloof” in die duiwel. Dit behoort tog heel duidelik te wees dat duiwel-erkenning en vrese ’n res is van ’n voor-moderne, uitgediende en mitiese stel oortuigings.

Wat veral verstom, is die houvas wat dié ideologie skynbaar steeds het op kerklidmate (en ampsdraers!) wat Sondag ná Sondag bely dat die bose oorwin is en dat Christus getriomfeer het.

Die erkenning van ’n beweerde werklikheid van die “duiwel” is daarby ’n duidelike voortsetting van die oer-skeppingsmite van Genesis 1-3, waar Eva (gevolg deur Adam – die enigste instansie van ’n feministiese demonologie waarvan ek weet!) deur Satan (die slang) verlei word om van ’n verbode vrug te eet. Daarop volg die uitdrywing uit die paradys, die plig om te werk in die sweet van jou aangesig en om jou kinders met arbeid en pyn in die wêreld te bring. Laasgenoemde verteenwoordig ’n metafisiese vloek wat alle nasate van die “stamouers” opgelê word totdat hulle (in beginsel, dog nog nie in praktyk nie) daarvan verlos word deur die heilsgebeure van die evangelie.

Ek het weinig krag vir die duiwel-storie, maar nie bloot omdat dit die oorblyfsel van ’n uitgediende mite is nie.

Ek is oortuig daarvan dat mense die idee van die duiwel ernstig opneem omdat dit hulle in staat stel om hul eie verantwoordelikheid ten opsigte van die kwaad en die bose te ontduik.

Dit is heel gerieflik om, elke keer wanneer jy droogmaak, die skuld daarvoor op die duiwel te pak. Ek wil vir geen oomblik beweer dat kwaad en onheil uit die wêreld verdwyn het nie; enigeen wat dít wil doen, het geen geloofwaardigheid in die wêreld wat ons elke dag om ons beleef nie.

Daar is enorm baie boosheid en kwaad in die wêreld. Dit kom egter nie weens ’n bok-figuur teenoor wie ons magteloos staan nie. Dit kom op uit onsself (behalwe in die geval van nie-morele boosheid). Die duiwel stig nie kwaad en ellende in die wêreld nie; ons doen dit self. Omdat ons dit self doen, moet ons daarvoor verantwoordelikheid aanvaar en via die geloof in Christus se bevrydingswerk die kwaad probeer genees.

Dit is ontgogelend om in 2023 te verneem dat spesiale sinodes van ’n instansie soos die NG Kerk gehou word om uitsluitsel te verkry oor die “werklikheid van die duiwel”. Kom ons kyk liewer elkeen elke oggend in die spieël en onderneem opreg om aan die “duiwel in onsself” geen plek te gee nie.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Is dit nou nie ironies dat Jan Lubbe, moderator van die Vrystaatse sinode op 19 April na afloop van die Vrystaatse sinode die volgende op RSG gesê het:

“Nou daar is ‘n narratief daarbuite geskep dat die NG Kerk sê jy kan nou maar besluit of jy in die duiwel glo of nie, maar dit is nie wat die algemene sinode gesê het nie.”

Ook as jy gaan kyk wat Julian Müller ook op RSG van die duiwel gesê het. Kyk:

Hoeveel duideliker moet ‘n mens dit nog stel dat die NG Kerk amptelike ruimte gemaak het vir mense om nie in die duiwel as persoon te glo nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui