Laetus O.K. Lategan: Kan ons uit die toekoms leer?

*******

Laetus O.K. Lategan: Kan ons uit die toekoms leer? | Netwerk24

Laetus O.K. Lategan

25 April 2023

Ek sit en luister na die insette tydens die spesiale Vrystaatse sinodesitting van die NG Kerk.

Vir ’n oomblik word ek meegevoer na die toekoms. Dit is 2073. ’n Spesiale sitting is byeengeroep om oor verskillende Skrifbeskouings te besin. Soos voorheen kon die krimpende getal afgevaardigdes nie konsensus bereik nie. Spoke uit die verlede kan net nie tot rus kom nie. Sake word verder bemoeilik deur ’n groeiende robotgemeenskap wat wil weet wat hul posisie binne die kerk is.

Ek kyk om my rond. Geen robot is in sig nie. Wonder wanneer hierdie verslag bespreek sal word? Seker maar by ’n volgende geleentheid.

Terug by nou. Ek luister weer. Die een argument ná die ander volg. Ek bly hoor dat ons vasgeval is. Die saak kom nou al uit die vorige eeu en steeds kan afgevaardigdes mekaar nie vind nie. ’n Sterk stem van ’n ouderling herinner die sinode dat ons in die verlede geweet het wat reg en verkeerd was. Maar nou!

’n Latere spreker sê dat ons gedink het ons weet wat reg is. Dink maar aan die kerk wat politieke regverdiging van die verlede sommer in die begin van die Bybel gevind het. Of die vrou in die amp. Kan ons regtig sê ons het altyd geweet wat reg is? Ek dink terug aan my professor wat gesê het dat die water maar stadig kook wanneer ons oor eie opinies besin, maar gou wanneer die ander onder bespreking is.

Ek word weer meegevoer na 2073. Iemand staan op en deel die vergadering mee dat daar mededelings van belanghebbendes is hoewel hulle nie na hierdie sitting genooi is nie. Ek luister met aandag. Uit die selfdegeslag-gemeenskap word berig dat doktors en mediese personeel dit moeilik gehad het met al die ongelukke gedurende die Paasnaweek. Daar was soveel selfgedrewe motors op die pad. Hulle weet nie of dit die batterykrag, sagteware of die bestuurders was nie, maar iets het skeefgeloop.

Uit dié kring word berig hulle sal voortgaan om mense se lewens te red, ongeag motoriste se nalatigheid of die aandrang op verpligte inligting soos ras, seksuele oriëntasie en verhoudingstatus. Lewens is kosbaar. Iemand uit hierdie kring noem juis waaroor die Paasfees gaan. ’n Lewe is gegee vir ander lewens.

Daar is nog ’n boodskap: Die klassieke-literatuurvereniging deel eers opgewonde die nuus van ’n nuwe interpretasie van Shakespeare se Romeo and Juliet danksy ChatGPT. Hulle noem dat daar niks meer opwindend is as om ’n ou teks weer te lees en nuut te verstaan nie. Hoewel ’n teks geskryf is vir toe, kry dit nuwe lewe as die betekenis daarvan vertolk kan word in terme van vandag.

Nog twee boodskappe volg. Hulle is vriendelik, maar meer saaklik. Die beweging vir die beskerming van verhoudings spreek sy diep kommer uit dat die woorde “duursame verbintenis” en “liefdestrou” uit verhoudingstaal verdwyn het. Hulle sê dit is nou soos in Moses se tyd. Jy kon iemand los as jy haar van ontrou verdink het of nie meer aansienlik gevind het nie. “Tot die dood ons skei” is nog net ’n idioom.

Net voordat ek uit my verbeeldingsvlug kom, hoor ek die groeteboodskap van die teoloë. Hulle vind dit jammer dat almal iets te sê het oor hul onderrig. Hulle wonder of die breë gemeenskap besef dat universiteitsonderrig gaan oor om kennis te neem van verskillende sienings en dan te weet hoe om ’n eie standpunt te formuleer. Dus oor leer. Hulle is besorg dat die kerklike gemeenskap hulle kritiseer oor hul dosering van byvoorbeeld die morele status van robotte sonder om hul navorsing daaroor te lees.

Ek staan verstom hoe ver my gedagtes kon dwaal, maar wonder tog of ons uit die toekoms kan leer.

Prof. Lategan is ’n tentmakerleraar by die NG kerk Bloemheuwel.  Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui