Die Bose is uiters relevante sake

*******

Die Bose is uiters relevante sake | Netwerk24

D.C. Coetsee, Brackenfell

28 April 2023

Soos prof. Anton van Niekerk (25.04) glo ek ook nie aan die bestaan van die duiwel (of “satan”) as ’n “bokkop-mannetjie . . . met ’n getande vurk en bokbaardjie nie”. Dis ’n mensgemaakte mite.

Maar hoe gemaak met Jesus, die apostels en Bybelskrywers wat praat van “die Bose” as ’n werklike persoon (byvoorbeeld Mattheus 13:19 en 38; 1 Johannes 2:14; 2 Johannes 9:19) met ’n immorele aard (Johannes 8:44)?

Die Bybel beskryf hom as ’n besondere geskape engel wat in opstand gekom het teen die ware God, ’n skare van engele verlei het om hom te volg in sy veldtog teen die Skeppergod – en Hy het hom toegelaat om dit te doen (1 Timoteus 3:6).

Daardeur word mense gedwing om ’n keuse te doen tussen die koninkryk van God en dié van satan (elke mens is in een van die twee).

In sy veldtog teen God neem hy verskillende gestaltes aan (“die slang” in die paradys, ’n “engel van die lig” in 2 Korin­tiërs 11:13-15) en hy oefen sy mag uit deur aan te sluit by die sondige begeertes van mense (Efe­siërs 2:1-3 en 1 Johannes 2:15-17).

As Van Niekerk ervaring het van die mag van sekere onverklaarbare magte wat sekere “ampsdraers” van heidense godsdienste het, asook van Bybelse berading, is die Bybelse beskrywing van satan en sy werk die enigste verklaring vir sekere vorms van boosheid wat met onverklaarbare mag van mense besit neem.

As die NG Kerk erns maak met die aard en werk van die Bose­, is dit besig met uiters relevante sake.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui