Ek vra verskoning – Bartlett

In die volgende brief vra André Bartlett in ’n persoonlike hoedanigheid om verskoning aan die LGBTI-lidmate en bedank uit die ASM (algemene sinodale moderamen). Neem in ag dat LGBTI vir die volgende staan:

  • Lesbies: Vroulike homoseksuele persone
  • Gay: Alle homoseksuele persone
  • Biseksueel: Aantrekking tot die teenoorgestelde geslag sowel as dieselfde geslag
  • Transseksueel: ’n Persoon wie se selfidentiteit nie ooreenstem met sy geslag nie. Sulke persone ondergaan gewoonlik ’n geslagsverandering.
  • Interseksueel: Mense wat met beide manlike en vroulike seksorgane gebore word.

Let wel dat ’n biseksuele persoon per definisie nie net een seksmaat kan hê nie.

Verder, hoe onderskei mens tussen bogenoemde en bestialiteit en pedofilie? Met ander woorde, as die dinge hierbo reg is, op grond waarvan kan ’n mens sê dat bestialiteit en pedofilie verkeerd is?

***********

‘EK VRA VERSKONING’

20 September 2016, André Bartlett, Briewe, Die gay-debat

Dr André Bartlett van Johannesburg skryf:

Ek kan nie namens die res van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) van die NG Kerk praat nie, maar ek wil persoonlik as lid van die ASM verskoning vra aan al die LGBTI-lidmate van die kerk en hulle families vir die pyn en leed wat ons hulle aangedoen het toe ons verlede November die uitvoering van die Algemene Sinode se 2015-besluite oor selfdegeslagverhoudings opgeskort het.

Ons het nie goeder trou gehandel op grond van inligting wat met verloop van tyd geblyk het nie goed genoeg te wees nie.

Ek neem persoonlik verantwoordelikheid vir die feit dat ek nie in daardie stadium reeds beter inligting probeer kry het nie.

Ek weet dat verlede jaar se opheffing van die opskorting nie al hulle pyn wegneem nie, maar ek hoop ten minste dat die regstelling van die onreg ’n mate van genesing bring.

Ek onderneem om saam met hulle en talle ander op die pad vorentoe met nog groter erns en toewyding te strewe na die verwydering van alle vorme van onreg wat mense in en deur die NG Kerk aangedoen word.

Ek skaam my meermale vir die kerk, maar sy bly my moeder. En op ’n vreemde manier bly ek ontsettend lief vir haar.

*************

Gay-regte: NG Kerk se Bartlett bedank uit ASM

Deur Claudi Mailovich, 23 September 2016 14:50

André Bartlett, een van die prominentste kampvegters vir gay-regte in die NG Kerk, het uit die algemene sinodale moderamen bedank.

Bartlett, ondervoorsitter van die sinodale dienskommissie van Sinode Hoëveld, se bedankingsbrief is Vrydag op die e-Kerkbode se webtuiste gepubliseer.

Luidens sy verklaring het hy tot op die punt nog geglo dat sy “stem saam met die van ander ’n bydrae kan lewer en selfs ’n verskil kan maak.”

Maar Bartlett sê hy kan nie langer met integriteit in die ASM dien terwyl die kerk se leierskap daarmee voortgaan om die besluit wat gemaak is by die algemene sinode in 2015 oor gay-verbintenisse, te verontagsaam nie.

“Ek is nie meer gemaklik daarmee om deel te wees van ’n struktuur waar dit vir my voel asof die belange van weerbare en kwesbare lidmate ondergeskik gestel word aan die druk van beswaarde lidmate wat nie kans sien om hul medegelowiges as volwaardige mede-lidmate te aanvaar nie,” skryf Bartlett.

Die algemene sinode het verlede jaar ’n geskiedkundige besluit geneem dat die kerk burgerlike verbintenisse tussen gay-paartjies erken, dat sy leraars dit kan bevestig as hul “hul weg oopsien” en dat die selibaatheidsklousule vir gay-leraars geskrap is.

Die kerk het egter die besluit eers op ys geplaas nadat lidmate teen die besluit geappelleer het, maar weer omgeswaai nadat 11 lidmate hulle op regsadvies hof toe wou sleep om die besluit te implementeer.

Die kerk het toe besluit dat die keuse om die besluit op te skort, ter syde gestel is en die besluit van 2015 staan weer.

Die 11 lidmate wil egter weer hof toe om die kerk te dwing om nou sy eie besluit oor gay-verbintenisse te implementeer.

Bartlett skryf in sy verklaring dat die NG Kerk met sy besluit verlede jaar ruimte geskep het vir gay en lesbiese lidmate om hul “godgegewe menswees” volledig uit te kan leef, maar dat dit die lidmate verhinder om die ruimte wat geskep word, met vrymoedigheid te betree as die besluite nie uitgevoer word nie.

Volgens Bartlett het hy begrip vir die kompleksiteit van saak binne die NG Kerk en ander kerke en dat hy verstaan dat kerkleiers onder geweldige druk hieroor verkeer.

“Ek meen egter dat die geskiedenis ons gaan oordeel, nie net oor die vraag of ons ‘die swakheid van sommiges’ in ag geneem het nie, maar of ons getrou was aan ons oortuigings.”

Bartlett het aan Netwerk24 gesê hy het Donderdagaand uit die ASM bedank en het sy besluit aan die moderator van Sinode Hoëveld, sowel as aan ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, oorgedra.

* Janse van Rensburg het by navraag gesê dat hy nie nou gaan kommentaar lewer nie, omdat hy eers self met Bartlett wil praat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui