’n Nuwe strategie teen gays in NGK

Kyk ook:

Deur Jean Oosthuizen, 4 September 2016, Rapport

Ses van die NG Kerk se tien streeksmoderators het met ’n nuwe strategie vorendag gekom in ’n poging om die algemene sinode se besluit ongedaan te maak dat gays in die kerk mag trou. Die jongste twis in die NG Kerk oor gay-verbintenisse word dié week op die spits gedryf wanneer die kerk se moderamen te midde van ’n dreigende hofgeding vergader.

Die moderamen moet teen Vrydag reageer op ’n prokureursbrief waarin 11 lidmate eis dat die algemene sinode se besluit onmiddellik uitgevoer word dat gays in die kerk mag trou, anders gaan hulle hof toe om die besluit af te dwing.

Die ses moderators wie se aanbeveling in Rapport se besit is, sê die algemene sinode se besluit oor homoseksuele verbintenisse het die potensiaal “om nie net die kerk se voortbestaan in sy huidige formaat wesenlik te bedreig nie” dit kan ook “lei tot kerkskeuring”. Die ses moderators sê daar moet teruggekeer word na die NG Kerk se besluit in 2007 dat homoseksuele verbintenisse nie as alternatief vir die huwelik aanvaar word nie.

Hulle is Frikkie van der Merwe (KwaZulu-Natal), Piet Otto (Noord-Kaap), Hugo van der Linde (Hoëveld), Helgard Janse van Rensburg (Vrystaat), Norma Rossouw (Wes-Transvaal) en Chris van Wyk (Oos-Kaap).

Hulle is ook erg krities oor die predikante wat by kweekskole opgelei word en wil hê die NG Kerk moet sy eie seminarium skep wat ’n behoorlik Gereformeerde roete sal inslaan.

Die ses moderators sê daar kan ’n besluit oor homoseksualiteit geneem word wanneer die kerk tot ’n gemeenskaplike oortuiging gekom het, ongeag die tydsverloop. Hulle was deel van ’n omstrede moderatorsvergadering wat vroeër vanjaar gehou is en kritiek in NG kerkkringe ontlok het. Die NG Kerk se noordelike sinode het hom openlik van die sogenaamde moderatorsvergadering gedistansieer. Hul moderator, dr. Dewyk Ungerer, het dit nie bygewoon nie. Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode wat in sy hoedanigheid as moderator van Wes-Kaapland genooi is, was ook nie teenwoordig nie omdat hy glo “ongemaklik” gevoel het oor so ’n byeenkoms. Die oostelike sinode se moderator, ds. Dirkie van der Spuy, se naam verskyn nie op die brief wat in Rapport se besit is nie, maar sy teenstand teen gay-verhoudings is welbekend. Moderamenlede moet hulle dié week staal vir verskeie regsmenings wat bots met hul besluit om die algemene sinode se besluit oor homoseksualiteit op te skort hangende die appèlproses daarteen. Die advokaat Wim Trengove meen die moderamen het in stryd met sy eie kerkorde opgetree toe hulle die progay-besluit opgeskort het.

Twee lede van die moderamen, drr. André Bartlett en Carin van Schalkwyk, sal na verwagting dié week nóg ’n regsmening indien wat die regsadvies weerspreek wat deur die kerk se algemene taakspan regte (ATR) ingewin is. Bronne beskuldig die ATR daarvan dat hulle die sinode se besluit agterweë wil hou en doelbewus ’n regsmening wat hulle pas, ingewin het. Die ATR is deur die algemene sinode opdrag gegee om die kerk se regstandpunt oor die gay-besluit te hanteer. Feitlik al die lede van die ATR is gekant teen die besluit dat gays in die kerk mag trou.

Die ATR-voorsitter is die aktuarius, dr. Johan van der Merwe.

Dr. Gustav Claassen, die kerk se hoofsekretaris, het navrae na Van der Merwe verwys, wat nie wou reageer nie. Hy sê die ATR vergader môre en navrae sal daar voorgelê word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui