Die NG Kerk en die duiwel/bose

Kyk ook:

Die volgende gee ’n kort oorsig van die geskiedenis rondom die bediening van bevryding in die NG Kerk.

Die ondersoek na die bediening van bevryding het in ongeveer 2009 begin en het toe sommer uitgebrei na die vraag of die duiwel werklik bestaan.

*********

2009 algemene sinode: Tydens hierdie algemene sinode is daar ’n taakspan aangestel met die opdrag om leiding te gee oor ’n bediening van bevryding. Dit is nadat daar onsekerheid ontstaan het oor sekere predikante wat duiwels uitgedryf het.

4 Februarie 2011: Kerbode berig in Sinode praat wéér oor die bose dat die algemene sinode 2011 gaan besluit oor die bestaan van die bose.

2011 algemene sinode:

ATLAS (Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) lê die volgende verslag aan die sinode voor: ATLAS AS 2011 Bediening van bevryding. Die opdrag aan ATLAS was om leiding te gee oor ’n bediening van bevryding, met ander woorde, die kwessie van die uitdrywing van duiwels (kyk ook Ware soeke na God se wil). Die verslag gaan egter verder met die vraag “BESTAAN DIE DUIWEL REGTIG?” en bespreek ook ’n persoonlike duiwel. Dit alles het niks te doen gehad met die aanvanklike opdrag nie, maar die geleentheid is benut om hierdie idees in te sluit.

Die sinode besluit om ruimte te maak vir mense wat nie in die persoonlike aard van die duiwel glo nie (2011 NGK besluit oor die duiwel):

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

26 Oktober 2011: Kort na die 2011-sinode blyk dit uit ’n onderhoud met Evert Buurman op 26 Okt 2011 dat Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, saamstem met die 2011 duiwelbesluit (kyk Nelus Niemandt oor die bose en seks voor die huwelik).

In ’n eposgesprek (tussen 3 Nov en 7 Des 2011) probeer ‘n lidmaat, Wynand Louw, dit met Nelus uitklaar. Nelus verklaar bloot dat hy by sy legitimasie-eed staan.

Omdat hierdie benadering nie werk nie, skryf Wynand op 12 Februarie 2012 ’n ope brief aan Nelus op Facebook.

Op 11 Maart 2012 reageer Nelus in ’n lang brief en beskuldig Wynand van leuens sonder om sy vrae te beantwoord (kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” (Facebook)).

Op 16 Maart 2012 reageer Wynand op Nelus. Kyk Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16 Maart 2012.

Ook in 2011 kla Wynand Louw vir Ben du Toit aan oor die feit dat hy nie in die duiwel glo nie en daarom sy legtimasie-eed verbreek. in 2013 word Ben du Toit onskuldig verklaar omdat die sinode amptelik ruimte gemaak het vir mense wat nie aan die duiwel glo nie. Kyk Die uitkoms van die dwaalleer tug ondersoek teen Dr Ben du Toit.

2013 Algemene Sinode:

Na die besluit van 2011 word 10 beswaarskrifte ingedien (kyk Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding)

Slegs punt 7 van die 2011-besluit word bitter min aangepas, en sê basies dieselfde as die vorige besluit:

7. Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

(Kyk 2013 NGK besluit oor die duiwel en Terugblik op die Algemene Sinode 2013.)

2015 Algemene Sinode:

Daar word nie weer oor die bediening van bevryding gepraat nie, maar in die verslag van ATLAS word gesê dat daar volstaan word met die besluit van 2013 oor die duiwel.

2018

Julian Müller, voormalige teologiese dosent van Tukkies sê openlik op RSG dat hy nie aan die duiwel glo nie. Kyk RSG gesprek oor die duiwel en die bose (6 Mei 2018)

2019

Weereens kry Julian Müller die geleentheid om op RSG te sê dat hy nie in die duiwel glo nie. Kyk RSG gesprek oor die duiwel of Satan (23 Jun 2019).

1 thought on “Die NG Kerk en die duiwel/bose”

  1. “Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is.” (sien hierbo – 2011)
    Hierdie “aanvaarding” is in wese onbybels. Die feit is dat Ben du Toit een van die grootste kragte agter hierdie “aanvaarding” was. Vir my is hierdie dwaling minstens net so erg as die SGV besluit aangesien Jesus self onaanvegbaar duidelik die duiwel en die die bose magte (demone) as pesoonlike entiteite hanteer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui