Jy preek opstand teen God

Kyk ook:

Jan Louw het die volgende op 17 Oktober 2018 op Facebook geplaas.

**************

JY PREEK OPSTAND TEEN GOD

Dit is Jeremia wat hierdie woorde gesê het: “Jy preek opstand teen God” (Jer 28:16). Jeremia het dit vir Gananja gesê, wat óók onder die volk bekend gestaan het as ’n profeet van die Here.

Ek glo as Jeremia vandag geleef het sou hy dieselfde vir die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg gesê het.

Nelis ken die Woord van die Here baie goed, maar hy propageer nou ander dinge in die Kerkbode. As Nelis nou ’n jaar na die Sinode van 2016 verklaar dat hy hom eintlik nie kan vereenselwig met die besluite van sy kerk nie, propageer hy per implikasie, dat die huwelik nié deur God ingestel is as ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou nie. Hy kies sy woorde mooi, maar hy wil ook soos die teoloë en ’n klomp ander leraars, ’n deur oopmaak vir selfdegeslagverhoudinge in die kerk van die Here.

Die agtergrond van die gebeure in die tyd van Jeremia is dat die Here vir Jeremia opdrag gegee om die inwoners van Jerusalem te waarsku dat hulle, hulle aan die Babiloniërs moet onderwerp. Jeremia moes selfs ’n juk dra om die boodskap nog duideliker te maak nl dat hulle die juk van die Babiloniese koning moet aanvaar.

Gananja wou dit nie hoor nie. Hy het die juk van Jeremia afgevat en dit stukkend gebreek. Gananja het voorgegee dat hy ’n ánder woord by die Here gekry het. Hy het nogal gesê: “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel” en toe het hy sy eie boodskap gebring wat sagter op die oor was as die woord wat Jeremia vir sy volk gebring het.

Jeremia het toe vir Gananja gesê: “Luister, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie. Jy laat hierdie volk staatmaak op leuens. Daarom, sê die Here, gaan Ek jou wegvee van die aarde af. Jy sal vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here gepreek”. In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood. (Jer 28:15-17).

Ek is nie ’n profeet soos Jeremia om te weet waarheen die Here met die NG Kerk en sy leraars op pad is nie, maar een ding weet ek en dit is dat ons hier, net soos in die tyd van Jeremia, te doen het met ’n saak van lewe of dood vir die NG Kerk. Daar is leraars wat onder die vaandel van liefde, in werklikheid opstand teen die Here en sy verordeninge preek.

Dit gaan nie ongesiens by die Here verby nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui