Jimmy se getuienis

Kyk ook:

Ds Jan Louw het die volgende plasing op Facebook gemaak:

Ek het hierop kommentaar gelewer onderaan.

*******

EK WAS OOK DAAR

’n Vriend het my gebel na aanleiding van my faceboek plasings oor die LGBT-kwessie in die NG Kerk. Hy moedig my aan om voort te gaan met dit waarmee ek besig is en dan sê hy: “EK WAS OOK DAAR!”

Daarna volg ’n halfuur lange gesprek oor die telefoon waarin hy my vertel van dinge wat in sy lewe gebeur het. Hy sê hy het dit nog nooit in soveel detail met iemand gedeel nie.

Kom ons gee hom die naam Jimmy.

Jimmy was dekades gelede in my katkisasieklas. Hy kom uit ’n welgestelde, Christelike huis. Jimmy was nader aan sy ma as aan sy pa. Sy pa het ’n sterk persoonlikheid en was baie besig. Hy het weinig begrip gehad vir ’n liefdevolle, sagte seuntjie met kreatiwiteit. Jimmy hou dit nie teen sy pa nie. Hulle was ’n stabiele en gelukkige huisgesin.

Jimmy vertel hy was altyd bietjie anders as ander seuntjies van sy ouderdom. Hy het daarvan gehou om saam met sy ma in die huis en tuin doenig te wees. Eendag het Jimmy begin musiek neem en sy ma het hom ondersteun daarin. Jimmy is kreatief – die kunste is een van sy stokperdjies. Hy wou nie rugby gespeel het nie.

Op 13/14 jarige ouderdom het hy met maatjies gespeel wat geëksperimenteer het met masturbasie. Ek hoor iets in Jimmy se stem as hy sê: “Ek is gesodomiseer”. Hy het nie veel seksopvoeding in die huis gehad nie.

Hierdie gebeure het ’n enorme effek op Jimmy se lewe gehad. Dit sny deur mens se hele wese. Liggaam, siel en gees. Sy selfvertroue was weg. Hy het sy liggaam begin afskeep en hy het nie omgegee daaroor nie. Weens ’n gebrek aan selfrespek, het hy verkeerde goed aangeleer soos slegte eetgewoontes, rook ens. Hy het nie soos ander seuns aan sport deelgeneem nie. Sy punte op skool het begin daal en hy het matriek deurgeskraap, net om darem universiteitstoelating te kry, alhoewel hy nie toe genoeg selfvertroue gehad het om verder te studeer nie. Baie jare later het hy toe wel ’n professionele na-graadse kwalifikasie behaal.

Dit was die Jimmy wat voor my in die katkisasieklas gesit het en ek het dit nie geweet nie! Ek het destyds nie in my wildste drome gedink dat dit die dinge is wat in Jimmy se wêreldjie aangegaan het nie. My hart krimp inmekaar as ek dink hoeveel ander kinders, met soortgelyke hartsere, het voor my lewe verbygegaan!

In matriek het daar egter ’n keerpunt in Jimmy se lewe gekom. ’n Ouer familielid het gesien daar is fout in sy lewe en dié het hom na ’n persoon geneem wat vir hom gebid het. Jimmy kan nie al die detail onthou nie. Hulle het nie gepraat oor die werklike probleem nie, maar hy sê hy is uit sy situasie geruk! As die persoon nie vir hom gebid het nie, sou sy hele volwasse lewe radikaal anders daar uitgesien het.

Jimmy vertel hy het deur die jare kontak met ander heteroseksuele vriende gehad, wat vertel dat hulle deur soortgelyke situasies gegaan het. En dieselfde patroon was by baie van hulle teenwoordig. Ander mense wat hy ken het egter nie losgekom uit hulle situasie nie. Hy praat van ’n “pot … ’n konkoksie” wat mense se lewens verwoes.

Jimmy het by herhaling gesê dat hy oortuig is jy word nie so gebore nie! ’n Mengelmoes van verkeerde omstandighede veroorsaak dat jy op die verkeerde pad van homoseksualiteit beland. Jy wéét dit is verkeerd. Sy vriende, sê Jimmy, wat besluit het op die homoseksuele pad, weet dis verkeerd maar is vasgevang en breek nie weg daaruit nie. Dit is sy persoonlike ervaring en waarneming.

Die gebeure in Jimmy se lewe was ingrypend. Hy sê dit raak jou in die kern van jou menswees. Dit is nie iets wat sommer ligtelik verbygaan nie. Jimmy het in sy lewe by verskeie Christelike beraders en sielkundiges gaan kers opsteek. As gelowige het hy besef hy moes loskom uit ’n greep wat hom kort-kort verder wou verstrengel. Jimmy was bevoorreg dat hy later jare in ’n gemeente gekom het waar daar ’n leraar was wat baie vir hom beteken het en hom verduidelik het wat met hom gebeur het.

Jimmy was eendag in ’n liberale boekwinkel oorsee waar hy dood onskuldig deur ’n fotografie tydskrif geblaai het, toe hy ’n foto van ’n man, volledig nakend, sonder klere aan, daarin gesien het. Iets het toe net daar dadelik weer in hom begin opvlam en dit het hom geweldig ontstel. Vandag moet hy hom steeds staal om nie in homoseksuele omgewings te kom nie. Dit verg elke keer ’n besluit.

Ek het Jimmy deur die jare ’n paar keer by geleenthede weer gesien, maar hierdie is die eerste keer dat hy my sy verhaal vertel het. Vandag is hy baie suksesvol in sy beroep. Op alle tereine maak hy daagliks ’n beduidende verskil in mense se lewens om hom.

Jimmy is al vir dekades gelukkig getroud en hy het pragtige groot kinders wat trots is op hulle pa. Sy gesin is op verskillende terreine aktief betrokke in die kerk. Jimmy het baie respek vir uitgesprokenes teen die LGBT kwessie en volg ’n hele paar van hulle op sosiale media. Jimmy sê, nie eens sy vrou weet van die dinge wat hy my nou van vertel het nie. Hy ag dit nie nodig nie, maar hy het op ’n punt gekom dat hy vir die Here sê, as die Here hom wil gebruik om ’n getuie vir Hom te wees, is hy bereid om te doen wat Hy wil hê. As hy egter daarmee sou uitkom, sou dit enorme implikasies vir sy beroep en verhoudings hê en hy het vir my voorbeelde genoem.

Daar is sekerlik baie Jimmy’s en Jonie’s in ons samelewing, met wie ons paaie kruis. Baie is dalk invloedryk en meningsvormers in die samelewing. As die kerk van die Here sy verantwoordelikheid teenoor hierdie mense wil nakom, het Prof Flip Theron êrens iets gesê wat ons tot nadenke moet stem:

“As ons mekaar se sonde wegneem, mekaar ontsondig, mekaar regverdig in ons sonde, mekaar se sonde institusionaliseer, mekaar se sonde wettig dan kan Jesus ons nie meer verlos nie”.

Naskrif:

Jimmy het agterna ’n paar opmerkings en waarnemings vir my bygevoeg wat hy in sy kop die laaste paar dekades bymekaar gemaak het:

  • Dis ’n baie, baie lang pad na normaliteit en seksuele vryheid. Eintlik kom mens nooit los daarvan nie.
  • Vermy die afdraaie na homoseksualiteit ten alle koste. As gelowige sal jy weet wanneer die verkeerde paaie jou aanlok.
  • Hy merk verder op dat dit soms net een misstap verg – en dat dit daarna alles amper verby kan wees. Dis nie eers ’n slippery slope nie, dis ’n afgrond. Jy val jouself te pletter. Die agterstande wat hierdeur veroorsaak word, kan soms jare, selfs dekades neem om ingehaal te word.
  • Jimmy sê dat as jy geval het, jy waarskynlik meer van ’n slagoffer is, as wat jy doelbewus die drumpel van homoseksualisme sou kon betreë.
  • Dis asof die duiwel lê en wag om elke hoek en draai om ÁLLE jong seuns te laat struikel om daarna sy vuilwerk mee te begin.
  • Die rede vir dié geweldige aanslag teen die anti-LGBT is juis omdat dit een van die giftigste pyle in die duiwel se koker is. Indien nie giftigste nie… (Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie… Ef 6).
  • Jimmy sê laastens dis baie belangrik dat seuns en jong manne vooraf toegerus moet word teen hierdie aanslae. Hulle moet ingelig wees en vooraf gewaarsku word. Beide ouers, maar veral Pa’s moet hulle seuns voorberei en op die uitkyk vir tekens wees.

Daniel se kommentaar

Sulke getuienisse soos Jimmy s’n is altyd baie bemoedigend. Daar is twee dinge wat ek wil sê oor hierdie getuienis:

1. Weerstand bied teen sonde

Die Hebreërskrywer sê in Hebreërs 12:4 dat ons weerstand moet bied teen die sonde asof dit ’n stryd tussen lewe en dood is. ’n Mens sien dit in Jimmy se lewe en ’n mens haal jou hoed vir hom daarvoor af. Mag dit vir ons almal ’n aansporing wees om ten alle tye en ten alle koste weerstand te bied teen die sonde. Dit is totaal ’n ander benadering as wat deesdae aan ons voorgehou word – dat jy jou seksuele oriëntasie moet aanvaar omdat God dit kwansuis aanvaar.

2. Genesing

Om jou getuienis te deel is baie opbouend. Dit is nie net tot opbou van ander nie, maar veral tot opbou van die persoon self. Dit herinner aan Jakobus 5:16:

(16)Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.

Die Katolieke kerk het iets van die waarheid beet met hulle biegsisteem. Natuurlik het jy nie ’n priester nodig om jou sondes te vergewe nie, maar indien iemand hulle sondes eerlik en met berou na God bring, glo ek dat God daaroor juig. Jakobus sê egter dat jy verder moet gaan: jy moet ook jou sondes aan medegelowiges bely omdat dit bevryding of geestelike genesing bring. Jimmy het hierdie dinge tot nou toe tot ’n baie groot mate verwerk, maar ek sal nie verbaas wees as daar verdere bevryding of verligting gekom het nadat hy hierdie met ds Jan gedeel het nie. En die verligting mag selfs nog groter word as hy dit met meer mense deel.

Dit is tyd dat Christene moet begin uitpraat oor hulle donker verlede. Ek glo dat dit ware bevryding bring. Natuurlik hoef die hele wêreld nie te weet nie, maar dit is nie iets om oor skaam te wees nie. Dit is iets wat in die verlede is en nie meer deel van jou lewe is nie. ’n Mens dink maar aan Dawid se skande met Batseba en Paulus se skande dat hy medepligtig was in die moord van Christene. Nie Dawid of Paulus het hulle donker verlede probeer wegsteek nie. En dan is daar vandag nog baie voorbeelde van mense wat gruwelike sondes openlik bely en niks oorkom daarvan nie. Die enigste ding wat in die pad staan van ’n openbare belydenis is jou repetasie. Gee jou repetasie vir die Here, Hy sal ook daarvoor sorg. Ek hoop hy kan dit in die toekoms ook met sy vrou deel.

Aan Jimmy se vrou en familie: Indien Jimmy besluit om dit met julle te deel, gaan dit geestelike volwassenheid van julle verg om hierdie te verwerk. ’n Mens kan verstaan dat dit aanvanklik ’n skok sal wees om dit vir die eerste keer te hoor, maar die vraag is: as God vir Jimmy kan vergewe, wie is enige van ons om dit nie ook te doen nie?

Facebook kommentaar

Henrietta Klaasing

Prys die Here, Sy genade is groot! DIT is waarom ons moet aangaan om hierdie boodskap te verkondig.

Louis Wentzel

Ek het 3 vriende wat daar was. 2 is nou gelukkig en baie normaal getroud. 2 van hulle verkondig nou self internasionaal die Here se volle Waarheid. In my is daar geen oordeel vir sulke mense nie, want Jesus het my gered en dan kan/het Hy alle ander ook gered wat bereid is/was om oor te gee en nie menseregte-verheerliking bo Sy Verheerliking te stel nie. Shalom

Andries Louw

Baie dankie vir die deel van hierdie aangrypende verhaal, Jan. Ek dank die Here saam met die ander dat Hy genadig is en in mense se lewens ingryp om te genees en te transformeer.

Frikkie Mulder

Dankie vir die meedeel van hierdie verhaal, Jan.

Chris Saayman

Jan baie dankie. Ek leen….

Wolf Cilliers

Baie dankie vir hierdie getuienis Jan. Dis nie die eerste keer dat ek van mense in die homoseksuele gemeenskap wat respek het vir diegene wat praat en waarsku oor die homoseksuele kwessie nie.
Dis net weer bewys dat ons steeds met die regte en nodige liefde ’n pad met hulle moet bly loop. Nie ’n tipe liefde wat meer genadig as die Here wil wees en hulle aanmoedig om hulle homoseksualiteit uit te leef nie (soos ons nou hierdie week gehoor het op die Praat Saam gesprek op RSG met die NG gaste wat dit ge-uiter het).

Wilma Hanekom

Lieflike getuienis. Die Here is getrou.

Cornelis Potgieter

“Toe sê Hy wat op die Troon sit: ‘Kyk EK maak alles nuut'” Openb 21:5………Halleluja!!

Herman Grobler

Jan, dankie vir die deel van Jimmy se getuienis. Dit stem feitlik woordeliks ooreen met talle jongmanne wat ek al in my bediening gehelp het. Mag ek nog enkele sake byvoeg wat ook dikwels genoem is. Almal wat ek bedien het, was as jong seun, so tussen 6 en 12 deur ’n ouer seun of man, hetsy ’n vriend of familielid in homoseks ingelei. Baie het ’n verwarring beleef tussen ’n ouer seun as held of hero, en liefde wat oorgaan in seksuele bevrediging met dieselfde geslag mense. Feitlik almal het saam met ander seuns gemasturbeer, en daarom is die uitlokking tot gesamentlike masturbasie nie vreemd nie, en word daar feitlik onmiddelik toegegee. En daar is altyd ’n privaatplek soos ’n toilet beskikbaar! En masturbasie lei dikwels tot verdere eksperimentering soos orale en anale seks. En nie een wat ek bedien het, was nie verslaaf aan homoseksuele pornografie nie, wat die begeerte steeds voed. Om uit te kom as jy voorheen daar was, is uiters problematies, beide vir you vrou en veral jou kinders! Daarom bly mense liewer stil oor die verlede, want dit kan jouself en jou eie geliefdes onherstelbare skade veroorsaak. Gaan asseblief voort met jou werk. Ek bid regtig vir al ons dierbare mense wat hierdie stryd moet veg. Maar veral vir ons jong seuns en dogters wat in hul vormingsjare waarin hulle hul eie identiteit moet vestig, mislei word deur mense wat liewer die pad van “aanvaar en gawe van God” verkondig, as om hulle op die moeilike pad van herstel en aflê wat teen God se wil is, wil help!

André Bekker

Wat jy hier beskryf is waar en ek hoor dieselfde wanneer ek met talle persone deel. Natuurlik het elkeen sy eie unieke verhaal maar daar is ooreenkomste wat in talle voorkom

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui