Waar is die weg van redelikheid?

Die volgende artikel is geskryf na aanleiding van die feit dat Kairos Netwerk in hulle nuusbrief op 24 September gesê het dat voornemende teologie studente aangeraai word om vir hul studies aansoek te doen by die Gereformeerde Kerk van SA se teologiese fakulteit, by die Noord Wes Universiteit, aangesien staatsinmenging by die Pukke nog redelik beperk is. Kyk Kairos Netwerk: Studeer eerder by Doppers.

Dit is maklik vir Jan Lubbe om behoudendes te beskuldig daarvan dat hulle vir nietighede die eenheid in die NG Kerk wil verbreek. Kyk Kerkeenheid wat hierdie kwessie bespreek.

Dit herinner aan die volgende spreekwoord:

As jy vir niks staan nie, sal jy vir enigiets val.

Kyk ook Dolerendes ag dit lewensbelangrik om op te staan, waarin Pieter Prinsloo op hierdie artikel reageer.

******

Waar is die weg van redelikheid? | Netwerk24

Deur Jan Lubbe

28 September 2021

Die verhaal gaan ver terug. Na jare toe daar nog nie ’n koning in Israel was nie en elkeen maar gedoen het wat reg was in sy of haar eie oë; die tyd van die Rigters, van Jefta (± 1 100 v.C.). In ’n politiek onstabiele konteks breek ’n twis oor grond en herkoms tussen twee broedervolke uit, weerskante van die Jordaanrivier.

By die driwwe lê die groep uit Gilead insypelaars uit Efraïm voor en vra hulle om die woord “sjibbolet” te sê. Vir Efraïmiete was die “sj”-klank moeilik; hulle’t gesê “sibbolet” – op die oog af dieselfde Hebreeuse letter; ’n klein kolletjie regs bo laat jou dit as “sj” uitspreek; links bo, “s”. Die manne van Gilead het een ná die ander Efraïmiet so uitgevang: “As hy sê ‘sibbolet’ en nie daarop bedag is om dit reg uit te spreek nie, dan het hulle hom gegryp en keelaf gesny” (Rigters 12:6). Derduisende het gesterf.

Die onsekere betekenis van die woord “sjibbolet” – “koringaar” of “stortvloed” – was irrelevant; hoe jy dit uitspreek, was in oorlogstyd al wat tel. In die 14de eeuse Brugge het Vlaminge ander inwoners van Franse herkoms wat nie “schild” (die “g”-klank) kon sê, uitgewys en vermoor. Anderkant die Stille Oseaan het Amerikaanse soldate in die Tweede Wêreldoorlog verdagte persone gevra om “lollapalooza” te sê; ’n woord wat Japannese net nie vinnig gesê kon kry nie. Op die grens van die Dominikaanse Republiek was die Spaanse woord “perejil” vir Haïtiane die slagyster.

In Sri Lanka het Singalese jeugdiges op busse gespring en Tamils wat struikel oor die harde “b” van “baldiya”, tereggestel. In Katolieke Noord-Ierland was dit lewensbelangrik dat jy die stad “Derry” noem en nie “Londonderry” nie. En só klink die lys van “in” en “uit” deur die eeue: woorde, name of ’n manier van groet wat aandui wie vertrou kan word en wie verdag is. Met dít eers vasgestel, word dit maklik om “hulle” ’n Dawidster op die bors vas te speld, na ’n ghetto te verban en volksmoord te bedink. Vra net: “Sê ‘sjibbolet!’”

Sê “ivermektien”, sê “anti-vax”, sê “Covid”, sê “hoax”, sê “eindtydprofesie”. Wat beteken “666”? Sê “witmonopoliekapitaal”. Hoe spreek jy “Nkan-dla” uit? Hier’s ’n prent van Van Riebeeck: “Onse Jan” of “Gronddief”? ’n Verskriklik eenvoudige potloodtoets om te onderskei of jy wit of bruin is. Belhar. Vyf sola’s. Sê: “T.U.L.I.P”. Grootdoop of kleindoop? Orrel of tromme?

Verregaande, dink jy, maar kerke hét al hieroor geskeur omdat die verdelingslyne al dieper ingekerf is! Skryf jy “Duiwel” met ’n hoofletter as persoonlike naamwoord of verwys jy na die “Teenstander van God”? Sê jy “selfdegeslagverbintenisse” met ’n 2015-, 2016- of 2019-aksent? Glo jy aan ’n jong aarde, 6 000 jaar gelede in ses dae geskep of ’n aarde 4,5 miljard jaar oud met lang tydperke van ontwikkeling en God wat “na alles wat Hy gemaak het, gekyk het en dit was baie goed”? Ja, uiteindelik die Bybel: Sê jy dat dit “in al sy dele die onfeilbare, geïnspireerde Woord van God” is of “Gods Woord in mensetaal” of “mensewoorde oor God”? En só word in hierdie laaste dae ’n telkaart van regsinnigheid opgestel, word jy vir fundamentalis of liberaal gebrandmerk, geen redenasie nodig, die weë skei, verdoemenis wag.

In tye van knellende bestaansonsekerheid soos wat ons tans (weer) beleef, is ons maklik geneig om die weg van redelikheid te laat vaar, om eerder oor mekaar as met mekaar te praat, om met wagwoorde ten stryde te trek. Is dit ons frustrasies, ons vrese wat breekpunt bereik? Of sou ons ’n weg kon vind om die kompleksiteit van ons lewensvraagstukke te erken, beter te probeer luister, dieper te verstaan en om die lankmoedigheid aan die dag te lê van dié God wat ons almal Syne noem?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui