Dolerendes ag dit lewensbelangrik om op te staan

********

Dolerendes ag dit lewensbelangrik om op te staan | Netwerk24

Deur Ds. Pieter Prinsloo, Ng Kerk Kroonstad­-Wes (Dolerend)

30 September 2021 05:11

Jan Lubbe se rubriek “Waar is die weg van redelikheid?” (28.09) het betrekking.

Lubbe verwys tereg na voorbeelde van menslike onredelikheid, waarna hy suggereer dat dit eweneens onredelik is as gelowiges stry of die Bybel “Gods Woord in mensetaal” of “mensewoorde oor God” is. Is diegene onredelik wat protesterend/dolerend opstaan oor hierdie kerklike brandpuntkwessie?

Indien die Bybel blote “mensewoorde oor God” is, dan is dit ooglopend dat ons niks van die onsigbare God en Sy wil weet nie. Dan ken ons inderdaad nie God se Koninkrykswil oor etiese vraagstukke nie en ken ons nie Sy Koninklike verlossingsweg nie. Ons stuur daarom af op ’n ontnugterende nadoodse ontmoeting met ’n onbekende God, aangesien hierdie antieke Bybelskrywers bloot raai-raai gespeel het met hul “mensewoorde oor God”.

Indien ons die menslike skrywers van die Bybel glo, wat ondubbelsinnig leer dat hulle “Gods Woord (in mensetaal)” verkondig, dan leef ons gelowig vanuit Sy geopenbaarde Woord. Diegene wat daarom hierdie selfgetuienis van die Bybelse skrywers glo dat hulle geskryf het vanuit openbaringe deur God, asook deur Goddelike inspirasie, staan dolerend op teenoor diegene wat die Bybel – teen die Bybel se selfgetuienis in – ongelowig verskraal tot “mensewoorde oor God”. Dolerendes ag dit lewens-belangrik om op te staan teen ongelowige kerklidmate se onredelike minagting van Gods Woord.

Maar Lubbe se hangende vraag oor die onfeilbare aard van die Woord vra ook bondige verantwoording; immers baie wanpersepsies bestaan oor die betroubare/onfeilbare aard van die Bybel. Prof. Johan Heyns verduidelik tereg dat die Bybel betroubaar is . . . in sy bedoeling. Die Bybel bedoel om geleidelik maar op onfeilbare wyse God se Koninkryksevangelie te openbaar binne die tydsbetrokke verstaantaal, kontekste en genres van antieke mense. Kortliks: Vanaf die Ou Testament ontvou God se tydlose, onfeilbare Koninkryksboodskap geleidelik binne konteksbepaalde verpakkingstaal. Talle gemeentes doleer daarom weens onredelike dwaalleraars wat die selfgetuienis van die Bybelskrywers ontken dat hulle God se geopenbaarde, tydlose, onfeilbare Koninkryksleer verkondig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui