Beskrywingspunt van Ring van Estoire oor homoseks

Kyk ook:

In Oktober 2015 het die NG Kerk se algemene sinode ruimte gemaak vir selfdegeslagverhoudings (kyk 2015 NGK homoseksuele besluit). Kort daarna het ’n hele aantal gemeentes hulself gedistansieer van hierdie besluit (kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit).

Dit het tot gevolg gehad dat die moderamen besluit het om ’n moratorium op die besluit te plaas tot die volgende algemene sinode in 2017 (kyk NG Kerk: Gays sal moet wag.

Die Ring van Estoire (bestaande uit die volgende gemeentes in Bloemfontein: Bloemvallei, Estoire, Leeuwberg, Onze Rust, Ooshoek en Uitsig), het die volgende beskrywingspunt ingestuur vir die Sinode Vrystaat wat sit op 19 Oktober 2016.

*******

Beskrywingspunt van die Ring van Estoire aan die buitengewone vergadering van die Sinode van die Vrystaat in sitting op 19 Oktober 2016:

1. Die Sinode van die Vrystaat distansieer hom van die besluit oor selfdegeslag verhoudings van die Algemene Sinode van 2015.

2. Die Sinode van die Vrystaat vereenselwig hom met die besluite van die Algemene Sinodes (2004, 2007 en 2013) dat die huwelik slegs tussen een man en een vrou kan bestaan. Die Sinode bevestig dat homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

3. Die Sinode bevestig ook dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

4. Die Sinode bevestig dat alle ongetroude mense wat selibaat lewe, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode bevestig dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

MOTIVERING

Die pro-Gay beweging in die R.S.A. (deel van die wêreldwye groep) het o.a. ten doel het om die N.G. Kerk te oorreed om ’n Homoseksuele leefstyl uit die Bybel te regverdig en die verbintenis tussen twee lede van dieselfde geslag as ’n huwelik te erken. Die N G Kerk word juis geteiken omdat die meeste ander kerke nie ’n Homoseksuele leefstyl voorstaan nie. Die pro-Gay groep is adamant daaroor dat iemand met ’n Homoseksuele oriëntasie so gebore is en nooit kan verander nie en is vyandig teenoor enige persoon wat getuig dat hy/sy wel deur God se genade verander het. Hulle aanslag is veral emosioneel en almal wat van hulle verskil word valslik gebrandmerk as liefdeloos en fundamentalisties.

Die media gee baie blootstelling aan hulle standpunt, waarskynlik omdat dit vandag polities korrek is.

Daar is veral ses pogings wat deur die pro-Gay groep gebruik word om aan te toon dat die Skrifgegewens oor ’n perverse vorm van Homoseksualiteit gaan en dat dit dus nie per se as teen-natuurlik en daarom teen die wil van God veroordeel word nie, nl. (a) dit is teen-natuurlik vir heteroseksuele mense, (b) dit dui op seunsprostitusie, (c) dit dui op die algemene verwording van die heidene, (d) dit dui op tempelprostitusie, (e) dit is onrein vir Paulus met sy Joodse agtergrond maar nie per se onrein nie en (f) dit gaan bloot oor losbandigheid. Dit is baie duidelik dat al hierdie pogings nie die toets van onbevange, deeglike eksegese van die Woord van God deurstaan nie en dat dit onwetenskaplik, blatante inlegkunde en selfs breingimnastiek is (Dr. William Lane Craig). Feitlik alle Bybelse kommentare van naam beperk nie die Bybel se afwys van Homoseksualiteit tot een of ander perverse vorm daarvan nie. Enkele kommentare versag net die Bybel se afwys van Homoseksualiteit, maar kan nie ’n Homoseksuele leefwyse positief verdedig nie. Daar is trouens geen teks in die Bybel wat dit positief verdedig nie. Homoseksualiteit word duidelik deur die Skrif as sonde veroordeel. Om die Bybelse beskouing van die huwelik as verbintenis tussen een man en een vrou uit te brei om homoseksuele verbintenisse in te sluit, kan onmoontlik nie op die Woord gefundeer word nie.

As gevolg van die voorafgaande dilemma bevraagteken pro-Gay teoloë die absolute gesag van die Bybel as Woord van God en kan ons dus saamstem met die stelling van dr. James White: “Die debat oor selfdegeslag verhoudings is ’n debat oor die aard en gesag van die Skrif”. Dr. Stephan Joubert maak t.o.v. Skrifbeskouing die eenvoudige onderskeid dat teoloë of die Bybel kan sien as God se Woord aan mense of as mense se woorde oor God. Al manier hoe die pro-Gay teoloë hulle standpunt wel uit die Bybel kan regverdig, is omdie gesag van die Skrif ernstig aan te tas deur o.a. te sê dat die Bybel menslike uitsprake oor God is en dat ons nie alles in die Bybel moet ernstig opneem nie (Desmond Tutu) en dus die Bybel op humanistiese wyse moet her-interpreteer vir ons tyd en kultuur. Dit is ’n baie ernstige saak en dit is dan ook die rede waarom tienduisende ernstige N.G. lidmate die afgelope tyd na die gewraakte ter syde gestelde besluit die N.G. Kerk verlaat het (iets wat ons allermins kon bekostig) en waarom die Sinodes van Wes-Transvaal en Namibië en die Oostelike Sinode alreeds amptelik die AS besluit verwerp het en Namibië dit ook oorweeg om uit die verband met die Algemene Sinode van die N.G. Kerk te tree. Twee sinodes het ook taakspanne aangestel om ondersoek in te stel na ons teologiese opleiding (veral die siening van die dosente oor Skrifgesag). En hieroor (die aantasting van Skrifgesag) het 42 000 gemeentes van die Presbiteriaanse Kerk in die V.S.A. uit die kerkverband getree.

Die Skrifgebruik tydens die Algemene Sinode van 2015 wat gelei het tot die ter syde gestelde besluit oor selfdegeslag verhoudings, laat veel te wense oor. Van die bg. vals eksegetiese argumente is inderdaad gebruik, o.a. dat dit in die tekste oor homoseksualiteit slegs om losbandigheid gaan wat verbied word. Daar is baie meer tyd afgestaan aan die emosionele pleidooie van gelegitimeerdes wat ’n Gay leefstyl wil beoefen én as predikante toegelaat wil word. Die argumente ten gunste van homoseksualiteit is hoofsaaklik ad hominem gevoer. Hierdie Latynse uitdrukking dui daarop dat menslike oorwegings bepalend moet wees en nie Bybelse argumente nie, Omdat Gays bitter swaar kry, moet hulle Gay leefstyl Bybels geregverdig word en hulle so aanvaar word. Die ter syde gestelde AS besluit is onlogies: ’n Gay verbintenis word nie as ’n huwelik erken nie en tog mag leraars hulle in ’n verbintenis “bevestig” (‘n woord wat tradisioneel t.o.v. ’n huwelik gebruik word). Is die bedoeling dat hierdie verbintenis tog wel as ’n huwelik beskou moet word? Of is die besluit net om ons voor te berei om later wel die definisie van ’n huwelik uit te brei om selfdegeslag verbintenisse in te sluit?

Die Woord van God is baie duidelik daaroor dat die huwelik ’n permanente verbintenis is tussen een man en een vrou en dat dit sedert die skepping God se plan vir die mens se Godgegewe seksualiteit is. Alle seksuele verbintenisse buite die huwelik is buite God se wil en plan en dus sonde. In Efes.5:21-33 word die verhouding tussen Christus en sy kerk (‘n hemelse saak) vergelyk met die (aardse) verhouding tussen man en vrou in die huwelik. Dit bevestig vir ons hoe belangrik die huwelik tussen man en vrou vir God is (sien ook Kol. 3: 18-19 en 1 Pet. 3:1-7).

Paulus maak in Rom.1 ’n absolute en fundamentele uitspraak oor homoseksualiteit en hy gryp terug op die skepping van die mens as man en vrou (Gen.1). Dit gaan hier oor sonde, dit wat teen die wil van God is.Ons kan ook nie Rom.1 van die res van die Bybel isoleer nie en moet dus die ander teksgedeeltes daarmee saamlees. Homoseksualiteit word duidelik deur die Skrif veroordeel as ’n teen-natuurlike vorm van seksualiteit en daarom teen die wil en bedoeling van God. Dit is egter nie ’n groter sonde as ander nie en homoseksuele persone moet welkom wees in die kerk. Om egter homoseksuele mense met die liefde van Christus lief te hê, beteken nie om ’n homoseksuele leefstyl Bybels te sanksioneer nie (inteendeel, liefde vra juis van ons om te bly by die waarheid van die Woord).

Teksverwysings: Lev. 18:22 en 20:13; Rom. 1:18-32; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim. 1:9-10; 1 Tess.4:3-8; Gen. 1:27-28, Jes.1:18 en Joh.3:16.

Voorstel: Die Ring keur die beskrywingspunt goed om te dien by die buitengewone vergadering van die Sinode van die Vrystaat in sitting op 19 Oktober 2016.

Voorsteller: J H Taute
Sekondant: E. Botha

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui