Pasop vir manteldraaiery

Sommige progays redeneer dat die sielkunde en sienings vanuit die mediese wetenskap bewys dat selfdegeslagverhoudings (SGV) en LGBTQIA+ normaal, goed en aanvaarbaar is. Om hulle argument te versterk redeneer hulle soos volg: almal aanvaar dat Copernikus (1473-1543) die Bybel verkeerd bewys het toe hy gevind het dat die aarde nie plat is en op vier pilare staan nie, daarom moet ons ook aanvaar dat die wetenskap die Bybel verkeerd bewys het oor homoseksualteit.

Die artikel Woord en wetenskap: Vriend of vyand? reageer hierop en sê onder andere:

Dalk moet daar ook in die debatte vandag gevra word of die natuurwetenskappe vir die teologie (Woord) vriend of vyand is? Die meeste sal dadelik wil antwoord met: Dit is ’n verkeerde vraag, want die algemene openbaring staan nie teenoor die besondere openbaring nie. Ek stel voor dat die wagwoord dalk: “Bly binne jou vakgebied” moet wees.

Vir hierdie benadering moet ‘n mens egter versigtig wees. Die vraag is ‘n ja/nee vraag, maar die voorgestelde antwoord is ontwykend. Sodra jy nie hierdie vraag reguit wil antwoord nie, lyk dit of jy probeer sê dat ons in twee teenstrydige wêrelde leef: Die wêreld van die wetenskap en die wêreld van die geloof.

Kyk wat sê prof Sybrand Strauss en Ferdie Mulder oor Ferdinand Deist en Rudolf Bultmann:

Sybrand: By Deist is dit so dat hy aan die een kant pietisties is … en dat hy aan die anderkant baie wetenskaplik is. Die twee goed kom nooit [in prof Deist se uitlewe daarvan] bymekaar nie. My student (Brand Doubell) se titel van sy M-studie was “Tussen kansel en kateder”. As Deist agter die kansel staan preek hy vreeslik mooi. As hy egter agter die kateder in die klaskamer staan, dan wil hy niks weet van dat die Bybel die woord van God is nie. Dan word die Bybel maar sommer soos enige ander boek bespreek en behandel.

Ferdie: Dit is presies wat ek ook in Rudolf Bultman gekry het. Hy het met sy historiese kritiek die Bybel vernietig en dan het hy op ‘n eksistensiële, emosionele vlak gesê: “Ek glo in Liewe Jesus”. En dit is wat jy ook by Ferdinand Deist gekry het. Hy het dit toe kom verkoop in Suid-Afrika.

Dit is duidelik dat Deist and Bultman skuldig is aan manteldraaiery: aan die een kant wil hulle “wetenskaplik” wees en Jesus se wonderwerke ontken, maar aan die ander kant wil hulle steeds hulle geloof in God probeer behou.

Netso, kan ‘n mens nie twee wêrelde skep wanneer die Bybel en die wetenskap teenstrydig is nie. Óf die Bybel is verkeerd, óf die wetenskap, óf beide.

Ek wil ‘n ander benadering voorstel. Op die vraag of die natuurwetenskappe vir die teologie (Woord) vriend of vyand is, wil ek baie beslis “ja!” antwoord. God is immers ook die God van die wetenskap.”

Wat doen ons egter as die Bybel en die wetenskap teenstrydig is? Daar is twee moontlikhede:

1. Die Bybel word verkeerd gelees

In die genoemde artikel word die volgende stelling gemaak:

“Bly binne jou vakgebied” beteken dan dat die Woord nie ’n handboek word vir geologie nie (Die wêreld staan immers nie op vier pilare nie, maar is rond en draai om die son).

Die wetenskap het baie duidelik bewys dat die aarde nie plat is en op vier pilare staan nie, maar die Bybel verwag ook nie van die leser om dit te glo nie. En as Amnon vir Tamar verkrag (2 Sam 13) beteken dit nie die Bybel keur sulke dade goed nie (soos Ben du Toit blykbaar wil suggereer in sy boek God: Is daar ’n ander antwoord?).

‘n Mens moet rekening hou daarmee dat die Bybel verskillende genres bevat. Alles wat in die Bybel genoem word, is nie voorskrifte nie. Die meerderheid in die Bybel is geskryf as geskiedenis. Mense wat wil sê dat die Bybel sê dat die aarde of vier pilare staan, lees die Bybel doodgewoon verkeerd. Kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?

2. Die wetenskap is verkeerd

Die tweede moontlikheid is dat dit die wetenskap is wat verkeerd is. Dit is belangrik om te onderskei tussen operasionele en historiese wetenskap. Dit is baie belangrik om te besef dat alle wetenskap nie gelyk is nie. Die wetenskap wat kan toets, herhaal en waarneem dra baie meer gesag as die wetenskap wat op beperkte inligting werk. Die wetenskap wat bereken hoe lank dit ‘n bal gaan neem om die grond te tref of wat die wentelbaan van ‘n satelliet om die aarde bereken, is op ‘n totaal ander vlak as byvoorbeeld die wetenskap wat ‘n fossiel uitgrawe en sy ouderdom wil bepaal.

Dus, as die wetenskap die Bybel weerspreek, moet die swakhede van die wetenskap erken word. As Christene kan ons nie die gesag van die Bybel in twyfel trek nie.

Dus, God is beide die God van die Bybel en die God van die wetenskap. Hierdie twee ís baie beslis vriende.

Vir meer hieroor, kyk na die voorgestelde artikels in die “Kyk ook”-blok heel bo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui