Ferdie Mulder praat met prof Sybrand Strauss

Prof Sybrand Strauss is ’n afgetrede professor in Dogmatiek Universiteit van die Vrystaat en assessor van die NGK-sinode Vrystaat 1999-2003.

Op 20 Januarie 2021 het Ferdie Mulder ’n onderhoud gevoer met prof Sybrand Strauss:

Prof Sybrand Strauss (deur Ferdie Mulder)

In die onderhoud sê prof Strauss die volgende oor Ferdinand Deist en Rudolf Bultmann (vanaf 26:00):

Prof Strauss skryf die volgende in Kerkbode op 12 Januarie 1983:

Dit is tog duidelik soos daglig dat Deist die normatiewe karakter van die Skrif grotendeels prysgegee het. … Nou kan ons kerklidmate tog sien waarom die eintlike stryd vandag in die kerk aan die gang is … Dit gaan werklik … oor niks minder nie as die fondament van die kerk, die Heilige Skrif.
Dit gaan oor … of die Nederduitse Gereformeerde Kerk nog gereformeerde kerk wil wees. Dit word tog ’n onhoudbare situasie as iemand soos prof Deist aan die een kant die Drie formuliere van Eenheid onderteken het, en aan die ander kant die ongereformeerde Skrifopvatting openlik propageer … ’n wetenskaplike subjektiwisme is vir die Kerk lewensgevaarlik! … Dit is my opregte bede dat die Kerk die standpunte in hierdie boek … nooit as ‘Bybelse’ voorskrifte sal aanvaar nie”

Sybrand: By Deist is dit so dat hy aan die een kant pietisties is … en dat hy aan die anderkant baie wetenskaplik is. Die twee goed kom nooit [in prof Deist se uitlewe daarvan] bymekaar nie. My student (Brand Doubell) se titel van sy M-studie was “Tussen kansel en kateder”. As Deist agter die kansel staan preek hy vreeslik mooi. As hy egter agter die kateder in die klaskamer staan, dan wil hy niks weet van dat die Bybel die woord van God is nie. Dan word die Bybel maar sommer soos enige ander boek bespreek en behandel.

Ferdie: Dit is presies wat ek ook in Rudolf Bultman gekry het. Hy het met sy historiese kritiek die Bybel vernietig en dan het hy op ’n eksistensiële, emosionele vlak gesê: “Ek glo in Liewe Jesus”. En dit is wat jy ook by Ferdinand Deist gekry het. Hy het dit toe kom verkoop in Suid-Afrika.

Sybrand: Nie net verkoop nie, maar ook gepopulariseer dat gewone mense dit kon verstaan en naderhand begin glo … dit is dan nou die dood in die pot … as jy eers sulke dinge oor die Bybel sê, dat die Bybel nie normatiewe gesag dra nie, wat dra dan nog normatiewe gesag? “Tussen kansel en kateder” kan jy presies net so op Bultmann van toepassing maak. Anders kon hulle nie meer Christene wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui