Woord en wetenskap: Vriend of vyand?

Alhoewel ’n mens kan saamstem met die punt wat Chris in hierdie artikel wil oorbring, moet ons versigtig wees vir sy argument. Kyk my kommentaar onderaan die artikel en Pasop vir manteldraaiery waarin hierdie ook bespreek word.

**********

Woord en wetenskap: Vriend of vyand? | Kerkbode

Deur Chris Smith van Westonaria

3 Februarie 2021

In outydse oorlogstye, wanneer iemand by ’n basis aankom, is daar gevra: “Vriend of vyand?”. Dan moet die wagwoord gegee word of daar is moeilikheid. Dalk moet daar ook in die debatte vandag gevra word of die natuurwetenskappe vir die teologie (Woord) vriend of vyand is? Die meeste sal dadelik wil antwoord met: Dit is ’n verkeerde vraag, want die algemene openbaring staan nie teenoor die besondere openbaring nie. Ek stel voor dat die wagwoord dalk: “Bly binne jou vakgebied” moet wees.

“Bly binne jou vakgebied” beteken dan dat die Woord nie ’n handboek word vir geologie nie (Die wêreld staan immers nie op vier pilare nie, maar is rond en draai om die son). Verder weet ons ook dat ons niere nie die bron van ons emosies is nie (Job 19:27) en dat die hart nie die setel van denke en keuses is nie (Jeremia 11:20). Nog voorbeelde in die mediese vakgebied kan genoem word.

Ek beleef dikwels dat die Woord “gebuig/gedwing” word sodat dit nie met die wetenskap sal bots nie, want dit behoort nie. Die vraag is of teologie nie dalk daardeur sy vakgebied oorgegee het aan die wetenskap nie. Wie besluit oor wat eties reg en aanvaarbaar is? Wie besluit wat ons lewensdoel is?

LEES OOK: Wetenskap en Bybel

Prakties beteken dit dat sielkunde nie kan sê of iets reg of verkeerd is nie. Dit kan bloot aandui wat die samelewing as aanvaarbaar beskou, en of iets positiefs beleef word deur die sekulêre mense. Hier moet die Woord se lig vir die gelowige die pad aandui. Selfs al word dit as “normaal” beskou, beteken dit nog nie dit is voor God aanvaarbaar nie.

Dieselfde geld vir ons lewensdoel. Vir die sielkunde gaan dit oor selfverwesenliking en vir die Woord gaan dit daaroor om God te verheerlik deur selfverloëning.

Die mediese wetenskap dui ook vir ons die realiteite aan, van hoe ons funksioneer en geskape is. Dit beteken nie dat alles gevier moet word nie. Teologie werk verder ook met die realiteit dat ons in ’n gebroke wêreld leef. Paulus bid dat die doring in die vlees verwyder sal word. Hy vier dit nie. Sommige persone word selfs gebore met ’n gebrokenheid. Tog kan ons elkeen, met sy eie gebrokenheid, saam met Paulus getuig dat God se genade genoeg is.

Ons gebrokenheid (geestelik, liggaamlik of andersheid) maak ons meer afhanklik van ’n liefdevolle Vader vir wie elkeen kosbaar is. Hy aanvaar ons en het ons lief soos ons is. Die Bybel leer ons dat Hy juis dié gebruik wat swak, nederig en afhanklik is. Dit maak dat ons soveel te meer kan leef tot sy eer. Vir sy roeping het ons alles ontvang wat nodig is!

Ons swakhede maak juis dat ons ook nader aan mekaar kom, want ons het mekaar nodig en is afhanklik van mekaar as lede van sy liggaam.

Mag die Woord en wetenskap (en teoloë) handevat met die regte wagwoord: “Bly binne jou vakgebied.”

Kommentaar

Chris maak die punt dat die “wetenskap” nie Bybelse waardes kan dikteer nie. Dit is heeltemal korrek, maar ons moet versigtig wees vir die argument wat hy gebruik.

Oor die vraag, “Is die natuurwetenskappe vir die teologie (Woord) vriend of vyand?” stel hy voor om te antwoord: “Bly binne jou vakgebied”

Die vraag is ’n ja/nee vraag, maar die voorgestelde antwoord is nie, en dit is waar die probleem kom. Sodra jy nie hierdie vraag reguit wil antwoord nie, lyk dit of jy probeer sê dat ons in twee teenstrydige wêrelde leef: Die wêreld van die wetenskap en die wêreld van die geloof.

Ek wil ’n ander benadering voorstel. Ek stel voor dat ’n mens baie beslis antwoord:

“JA! Hulle is vriende. God is immers ook die God van die wetenskap.”

As die wetenskap die Bybel weerspreek is daar twee moontlikhede:

1. Die wetenskap is verkeerd

Dit is belangrik om te onderskei tussen operasionele en historiese wetenskap. Dit is baie belangrik om te besef dat alle wetenskap nie gelyk is nie. Die wetenskap wat kan toets, herhaal en waarneem dra baie meer gesag as die wetenskap wat op beperkte inligting werk. Die wetenskap wat bereken hoe lank dit ’n bal gaan neem om die grond te tref is op ’n totaal ander vlak as byvoorbeeld die wetenskap wat ’n fossiel uitgrawe en sy ouderdom wil bepaal.

Dus, as die wetenskap die Bybel weerspreek, moet die swakhede van die wetenskap erken word. As Christene kan ons nie die gesag van die Bybel laat aanvaar nie.

2. Die Bybel word verkeerd gelees

Chris maak onder andere die stelling: “Die wêreld staan immers nie op vier pilare nie, maar is rond en draai om die son.”

Die wetenskap het baie duidelik bewys dat dit nie waar is nie. Die Bybel verwag egter nie van die leser om dit te glo nie. Op soortgelyke manier verwag die Bybel ook nie van ons om ons half suster te verkrag nie (Tamar). Alles wat in die Bybel genoem word, is nie voorskrifte nie.

‘n Mens moet rekening hou daarmee dat die Bybel verskillende genres bevat. Mense wat wil sê dat die Bybel sê dat die aarde of vier pilare staan, lees die Bybel doodgewoon verkeerd. Kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?

Dus, God is beide die God van die Bybel en die God van die wetenskap. Hulle ís baie beslis vriende.

Vir meer hieroor, kyk na die voorgestelde artikels in die “Kyk ook”-blok heel bo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui