Pasop dat die haan nie vir die kerk kraai

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan die artikel.

*******

Pasop dat die haan nie vir die kerk kraai | Rapport

Frits Gaum

Sondag, 22 Januarie 2023

As die kerk eers vir Jesus verraai, kan hy maar sy deure toemaak, skryf Frits Gaum.

Rapport het die laaste tyd heelwat aandag gegee aan die herrie wat in die NG Kerk veroorsaak is deur dr. Peter Nagel se artikel “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus is not Théos”. Volgens Nagel is Jesus nie in die eerste eeu beskou as een van ’n Godheid (Théos) of as iemand wat nie mens is nie.

Niks nuuts onder die son nie. Jesus se dissipels het dit nie almal geglo nie. Dink aan twyfelaar Tomas wat sy opstanding uit die dood skerp bevraagteken het, of party van die dissipels wat by sy hemelvaart nog maar getwyfel het (Matt. 28:17).

Dink aan die vroeë kerk waar juis oor Christus se Godheid gestry is totdat in die Belydenis van Nicea Jesus se Godheid duidelik en onomwonde bely is (381 n.C.). Dink aan die “reusesoektog” na die historiese Jesus die laaste twee, drie eeue. Die slotsom van hierdie sogenaamde wetenskaplike soektog was dat die ware, vlees-en-bloed-Jesus wat destyds in die stofpaaie van Palestina geloop het, eintlik nie veel meer was as ’n prekende rabbi wat uiteindelik aan ’n kruis in die stof gebyt het nie.

Die soekers na die historiese Jesus wil meestal (nes Nagel) niks daarvan weet dat Jesus van Nasaret ook God was nie. Sommige van hulle beklemtoon dat Jesus sélf nie eens gesê het, of geweet het, Hy is die Messias nie. Dit was eers later dat mense, by name die Evangelieskrywers en die “laaste” apostel, Paulus, Jesus Christus as die Seun van God verkondig het, sê hulle.

Dit is so dat Jesus in die Evangelies se weergawes meermale die benaming “Seun van die Mens” gebruik wanneer Hy na Homself verwys (byvoorbeeld in Mattheus 8:20). Talle navorsers stem saam dat Jesus Homself hierdeur vereenselwig het met “die Seun van die Mens” van Daniël 7:13 – ’n magtige redder en oordeelsfiguur wat in die eindtyd sou verskyn. Jesus maak egter méér van hierdie benaming deur sy aardse optrede en lyding deel daarvan te laat word.

Verder dui Jesus se doelgerigte loop op die pad van lyding, en veral sy woorde tydens die eerste nagmaal (Mattheus 26:26-29), daarop dat Hy Homself gesien het as die lydende Kneg van die Here in wie Jesaja 53 vervul word.

Jesus het God ook op ’n geheel en al unieke manier as sy “Vader” aangespreek en beleef. In aansluiting daarby en finaal oortuig deur sy opstanding, het Jesus se volgelinge Hom bely as “Seun van God”, en daarom God self wat mens geword het. Jesus se uitsprake dui ook op ’n ongehoorde, unieke selfbewustheid, ’n wete van wie Hy is. Dit blyk uit die manier waarop Hy telkens met gesag gesê het: “Ek sê vir jou” en “Amen. Ek sê vir julle” (vergelyk Markus 2:11; 10:29).

Hy het ook die mag van die tradisie en die volksleiers soos niemand anders nie onderstebo gekeer, en Ou-Testamentiese wette radikaal herinterpreteer en soms selfs weerspreek.

Het Jesus van sy kleuterdae af geweet wie Hy is, of eers toe Hy as 12-jarige die skrifgeleerdes in die tempel onderrig het? Of dalk toe Hy sy eerste wonderwerk gedoen het en water wyn laat word het, of moontlik later toe Hy al duideliker sy pad voor Hom sien doodloop het teen die kruis? Of miskien aan die kruis self met sy verskriklike uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (God van God verlate!) Of was dit toe Hy op die derde dag uit die dood wakker geword het? Het Hy dit op ’n dag eensklaps gewéét, of het die besef algaande by Hom posgevat?

Wie sal ooit weet? Nee, ons kan die misterie van Jesus se selfkennis nie peil nie. Dit is en bly sy geheim.

Dit was inderdaad eers Paulus wat, nadat die opgestane Jesus aan Hom verskyn het, so goed soos min voor hom verstaan het wie Jesus regtig was. Paulus het begryp dat die storievertellende Jesus van Nasaret (vir wie hy nie geken het nie) niemand anders was nie as die opgestane Christus, die Seun van God (vir wie Paulus baie goed leer ken het).

Dit is soos die kerk in al sy gestaltes al vir nagenoeg 2 000 jaar glo en bely. En terwyl die kerk die tyd waarin ons leef en die wetenskaplike bevindings waarmee ons te doen kry ernstig moet opneem en goed maar krities daarna moet luister, kan die kerk op geen manier die geloof dat Jesus die Here is, prysgee sonder om sy bestaansrede te verloor nie. Dan moet die kerk maar van die toneel verdwyn – hoe gouer hoe beter. Ja, die kerk moet in hierdie tyd en in hierdie wêreld sy roeping vervul en baie aanpassings is nodig. Maar die kerk mag nooit vir Jesus verloën of verloor nie.

Dán het die haan vir die kerk gekraai.

Dán is die kerk oor die afgrond.

  • Dr. Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Kommentaar

Daniel Louw

Die tweede sin van die tweede paragraaf, “Jesus se dissipels het dit nie almal geglo nie.”, het my laat dink aan die argument wat Louis Jonker gebruik het toe hy in ‘n radio-onderhoud gesê het dat Abraham nie ‘n Christen was nie (kyk RSG: Kan Moslems en Christene saam bid? (5 Mei 2019)).

In ‘n mate was ek egter verbaas dat Frits Gaum ‘n behoudende standpunt oor hierdie kwessie het: As Gaum glo dat Jesus waarlik God was, dan moet hy tog glo wat Jesus gesê het waar was. Jesus het onder andere gesê: “(6)…Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (7)As julle My ken, sal julle my Vader ook ken.” (Johannes 14). Sou hy dan soveel agting gehad het vir Desmond Tutu, wat baie duidelik ‘n universalis was? En sou hy ook, soos ek, besorg wees oor die uitlatings wat Louis Jonker op die genoemde RSG-onderhoud gemaak het?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui