Pretoria se Doppers skop vas oor vrou

Dit wil voorkom of die Gereformeerde Kerk in dieselfde bootjie oor die vrou in die amp is as waarin die NG Kerk oor homoseksualiteit is.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan die artikel.

*******

Pretoria se Doppers skop vas oor vroue | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 22 Januarie 2023

As jou gemeente vroue as ouderlinge het, mag jy nie die algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika as lid van die Pretoria-streeksinode bywoon nie.

Ingevolge die besluit van die streeksinode mag die afgevaardigdes (predikante en ouderlinge) van gemeentes waar vroue as ouderlinge bevestig is ook geen stemreg op vergaderings van die streeksinode hê nie.

Die algemene sinode begin volgende week.

Die streeksinode se besluit, wat in November geneem is, bepaal dat “geen ampsdraer van die kerke wat nie bly by die sinode se besluit insake vroue in die amp (predikant en ouderling) nie, na die Algemene Sinode 2023 afgevaardig mag word nie”.

Die streeksinode se oorspronklike besluit is in 2020 geneem, maar in 2021 herroep nadat ds. Cassie Aucamp, emeritus predikant van Andeon, en die Meyerspark-gemeente by die Pretoria-streeksinode beswaar daaroor aangeteken het.

Die beswaar is gehandhaaf, wat beteken het dat die afgevaardigdes van kerke wat vroue as ouderlinge toegelaat het in 2021 aanvaar is en wel weer kon stem. Toe is dié besluit weer herroep.

Aucamp en die Meyerspark-gemeente het na die algemene sinode geappelleer oor die streeksinode se besluit en ’n appèlliggaam sal eersdaags uitspraak hieroor lewer.

Die appellante het aangevoer dat ampsdraers nie uit kerkverband geplaas kan word nie indien hulle vroue in die ampte van predikante en ouderlinge sou toelaat.

[Kommentaar: Hoekom nie? Gemeentes wat aan die Gereformeerde Kerk denominasie behoort moet mos die reëls nakom. Watter ander gevolge kan daar wees vir oortreders as om hulle uit die kerkverband te plaas (natuurlik as laaste uitweg)?]

Ten spyte daarvan dat die Pretoria-streeksinode se besluit in 2021 herroep is, het dié sinode in November weer besluit dat daardie ampsdraers nie mag stem nie en nie mag afgevaardig word na die algemene sinode toe nie, word in die appèl aangevoer.

Dr. Gerhard Meijer, voorsitter van die Pretoria-streeksinode se 2022-vergadering, ontken dat hulle die handhawing van die beswaar omver gegooi het.

“Ons besluit (in November) is nie in kontras met die besware nie. Ek dink ons handelinge praat vir hulself. Ek gaan niks verder daaroor sê nie.”

Meijer sê die 20 gemeentes van die streeksinode in Pretoria het in November bymekaargekom en het “ ’n besluit geneem in die lig van God se Woord”.

“Die besluit is regtig nie om iemand te na te kom nie. Dit gaan ook glad nie daaroor om die kerk te skeur of so iets nie.

“Dit gaan gewoon oor gehoorsaamheid aan die Here.

“Ons is oortuig daarvan dat dit die wil van die Here is wat ons besluit het.”

Hy sê die kwessie het verder niks met demokrasie of getalle te doen nie.

“Soos ek gesê het . . . in die kerk gaan dit oor gehoorsaamheid aan die Here. En dit is waarom ons die besluit geneem het.”

Meijer sê dit is wel so dat daar ’n beweging in die kerk is om vroue toe te laat om in ampte te dien. “Dit sal in die kerklike weë by die sinodesitting gehanteer word.”

Die algemene sinodesitting vind einde Januarie in Potchefstroom plaas.

Dit is weens die Covid-19-pandemie vir twee jaar uitgestel.

Afgevaardigdes na die algemene sinode is in November in kennis gestel dat die verkiesing van die moderamen nie in November kon voortgaan soos aanvanklik beplan is nie maar op 30 Januarie by die sinodesitting sal plaasvind.

Dit is onder meer omdat “ ’n appèl ontvang is wat betrekking het op die afvaardiging van die streeksinode Pretoria en waaraan die roepende kerkraad eers sal moet aandag gee alvorens voortgegaan kan word met die konstituering van die sinode”.

In 2018, tydens ’n buitengewone spesiale sinode, is daar besluit dat gemeentes self kan besluit of hulle vroue as diakens wil aanstel, maar nie vir die amp van ouderling of predikant nie.

Die Krugersdorp-gemeente was een van ’n handjievol gemeentes wat ná die 2018-besluit voortgegaan het om vroue as ouderlinge toe te laat.

Dit het in 2021 tot groot drama gelei toe die Wes-Rand-klassis (vergadering van plaaslike gemeentes) hulle buite kerkverband geplaas het en hul lidmate nie meer as formele gereformeerde medegelowiges beskou is nie.

Die gemeente het daarna die uitnodiging van die Groter Johannesburg-klassis aanvaar om daar in te skakel.

Aucamp het by navraag gesê sy appèl gaan nie oor die meriete van die vrou in die amp al dan nie, maar “oor die feit dat gemeentes daaroor in praktyk uit die kerkverband gestel word terwyl dit ’n saak is wat nie die belydenis en die eenheid van die kerke in gedrang bring nie”.

Hy wou nie verder kommentaar lewer nie omdat “die saak nog in ’n sin sub judice is”.

Kommentaar

Daniel Louw

Indien gemeentes binne ‘n denominasie hulle nie hoef te steur aan die besluite van die algemene sinode nie, dan kan die denominasie net sowel ontbind. Daarom is die oplossing vir die Gereformeerde Kerk is baie eenvoudig:

Die GK se algemene sinode (AS) se funksie is om besluite te maak oor belangrike teologiese kwessies. Die AS moet dus besluit of daar ruimte gemaak gaan word vir die vrou in die amp of nie.

Indien wel, dan is gemeentes natuurlik vry om vroue in die amp toe te laat.

Indien nie, moet gemeentes óf inval met hierdie besluit, óf hulle moet van die GK afskeur, wat sal beteken dat hulle hul naam moet verander. Indien hierdie gemeentes nie hulle naam wil verander nie, sal die algemene sinode verplig word om sulke gemeentes met die hof te dwing om hulle naam te verander. Hulle kan nie meer as Gereformeerde Kerke bekend staan nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui