Op soek na ’n weg om saam kerk te wees

Kyk ook:

Die volgende artikel het in kerkbode.christians.co.za verskyn.

Hoeveel van NGK lidmate se dankoffers gaan in hierdie gemors in?

André Bekker het die DVD Such were some of you vir al die moderators gestuur (kyk Opebrief aan die NG Kerk Moderators). Ek wonder of Nelis werklik moeite gedoen het om die DVD te kyk?

In Jong Teoloë Steun Besluit Oor Gays is dit baie duidelik dat hier nie net gepleit word vir gays nie, maar vir die hele reeks LGBTIQ+. Dit sluit baie meer as homoseksuele verhoudings in, maar ook buitehuwelikse seks. Dus wonder ek wanneer laas Nelis 1 Korintiërs 5 en 6 gelees het. Want indien hy het, wonder ek of hy so besorg sou wees oor mense, wat besig is met onsedelikheid, se gevoelens.

Verdere kommentaar verskyn tussen die teks in [rooibruin blokhakies].

************

Op soek na ’n weg om saam kerk te wees

28 September 2016, Nelis Janse van Rensburg

‘n Buitengewone Algemene Sinode word van 7 tot 10 November gehou waar die saak van verhoudings tussen mense van dieselfde geslag opnuut bespreek sal word. DS NELIS JANSE VAN RENSBURG, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, gee perspektief.

Die moderamen het besluit om ’n buitengewone Algemene Sinode te hou oor die besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat die kerk diep verdeeld is oor die teologiese regverdigbaarheid van die 2015-besluit. Ek ontvang briewe oor die aangeleentheid van mense wat nie genoeg hulle waardering kan uitspreek vir die ruimte wat die kerk nou vir gay persone bied nie. Ek ontvang egter ook briewe van diegene wat met geweldige ontsteltenis te kenne gee dat hulle hulle distansieer van die kerk se besluite oor die aangeleentheid.

Die hele kwessie oor die hantering van die besware teen die Algemene Sinode se besluit het veroorsaak dat die wesenlike debat na die 2015-sinode nie voldoende gevoer is nie.

Die appèlproses gaan nou voort en word deur die appèlkommissie afgehandel. Hulle hanteer die tegniese appèlle teen die 2015-sinode se werkswyse. Die besware en appèlle op grond van teologiese oorwegings word verwys na die buitengewone algemene sinode.

Daar het oor die afgelope maande by my ’n paar perspektiewe al helderder geword:

1. Die hele wêreld is verdeeld oor die kwessie van homoseksualiteit.

2. Dit is dus nie die NG Kerk se Algemene Sinode wat die verdeeldheid veroorsaak het nie. Bykans elke mens het ’n opinie oor homoseksualiteit en min mense is nie seker dat hulle doodreg is nie. [Die Bybel is baie duidelik daaroor. Wat meer is daar om te sê daaroor?]

3. Die noodsaaklikheid om aan die gesprek deel te neem, berus op die werklikheid dat duisende gay dooplidmate van die kerk en hulle families dikwels trauma beleef oor die standpunte van die samelewing en die kerk.

Hulle het by die doop die volle toesegging van God se trou en guns ontvang, maar oordeel dat die kerk nie die volheid van hulle menswees dienooreenkomstig wil erken nie.

Daarom, so meen hulle, word hulle effektief uitgesluit van die kerk of vind hulle dit moeilik om in die kerk tuis te kom. Hulle sê ook dat dit vir hulle groot pyn veroorsaak en hulle dikwels nie net vervreem van die kerk nie, maar ook van God. Met so ’n bewering kan dit nie anders dat ’n verantwoordelike kerk selfondersoekend dink nie.

[Moet dooplidmate wat besluit het om byvoorbeeld bankrowers te word, se menswees ook erken word in die kerk? Moet hulle ook tuis voel in die kerk? Kyk Homoseksueles en bankrowers.]

4. Uit die debat in die NG Kerk leer ons dat daar twee duidelike teenoorstaande standpunte is wat beide ernstig probeer rekening hou met die eise van die Bybel.

Daar is diegene wat meen dat al die Ou-Testamentiese wette en reëls, selfs dié wat nog in die Nuwe Testament kop uitsteek as oorblyfsels van die Joodse skrywers se godsdienskulturele agtergrond, soos die hoede in die kerk en die eet van offervleis, deur Christus se leer en voorbeeld nuwe betekenis kry.

Hulle beweer dat daar reeds in die Ou Testament ’n beweging was van groterwordende insluiting en dat Christus hierop voortbou. Jesus definieer die grense van God se genade al wyer en wyer. Hy sluit al meer mense in.

Aan gelowiges wat homoseksueel is en met hulle volle menswees, insluitende hulle seksualiteit, God wil dien, moet dus ruimte gegee word. Dit is wat die Bybel leer, so meen hulle. [Waar gaan hierdie stop? Moet ons ook mense ruimte gee om ’n seksuele verhouding met hulle hond te hê? Of moet ons pedofilie en poligamie toelaat? Wat van orgies? Indien nie, op grond waarvan?]

Hierteenoor staan die oortuiging dat die Bybel konsekwent negatief oordeel oor alle vorme van homoseksualiteit en homoseksuele gedrag. Dit sluit in die erkende praktyk van homoseksuele verbintenisse van die Nuwe-Testamentiese tyd en nie net homoseksuele verkragting en misbruike nie.

Die afwysende lyn loop regdeur die Bybel. In Paulus se denke oor die aangeleentheid speel sy Joodse agtergrond inderdaad ’n rol. Hy werk immers steeds met ’n Joods-Christelike etos. Soms bring Jesus radikale veranderinge of verruiming aan aan die Joodse beskouinge oor kwessies, maar nêrens in die Bybel is daar ’n “regstelling” oor hierdie aangeleentheid soos in die geval van Paulus se opmerkings in Galasiers 3:28 oor mans en vroue, Jode en Grieke, slawe en vry mense nie.

Die Bybel het konsekwent niks goeds te sê oor homoseksualitiet nie. Daarom moet die 2015-standpunt van die sinode afgewys word.

Beide die groepe beroep hulle dus op die Bybel met sterk argumente dat hulle absoluut reg is.

5. Dit is vir my baie duidelik dat die sinode nie hierdie meningsverskil gaan oplos nie.

Na die sinode gaan die kerk en die samelewing steeds verdeeld wees. Mense sal nie sommer wegstap van hulle oortuigings nie. [Dit is baie waar.]

Maar ons het nog oortuigings, onder andere dat die verbondenheid van gelowiges aan mekaar, juis ten spyte van verskille, ’n kragtige getuienis lewer.

Ons kan van die situasie ’n getalle-oorlog maak en kyk wie wen. Of ons kan verstaan dat niemand wen as die kerk in ’n anti- en progay kerk verdeel nie. Ek hoor van niemand wat ten gunste is van skeuring nie. [Dan het jy nog nie met almal gepraat nie.]

Trouens, by die pas afgelope moderamenvergadering was die verbintenis tussen lede wat sterk van mekaar verskil om saam ’n pad te loop, opsigself ’n getuienis. Daarom sal ons nou almaI moet dink aan maniere om mekaar te vind. [Ons sal mekaar nie vind nie.]

Ons sal in ’n styl van respek en luister met mekaar moet omgaan. Dit help nie om mekaar verder te vervreem deur etikette om mekaar se nek te hang nie. Almal dink hulle staan by die Woord en die evangelie. Daar is volhoubare egte argumente aan beide kant van die spektrum van menings.

6. Ek meen ons moet as vertrekpunt in ons beredenering oor homoseksualiteit die verbondsdoop neem.

Ek meen ook ons moet seker maak dat ons die huwelik as instelling tussen een man en een vrou ten alle koste beskerm. [Wat sou die sin daarvan wees? Dus sal die NG Kerk nie gayhuwelike erken nie. Wat sal die gays daarvan sê? Verder laat die kerk dan seks buite die huwelik toe.]

Ek meen ook dat ons die menswaardigheid van gay-mense ten volle moet erken en nie hulle seksualiteit as sodanig verdag maak nie. [Hoe gaan dit gedoen word as die instelling tussen een man en een vrou ten alle koste beskerm moet word?]

Oor gay-verhoudings moet ons genuanseerd praat. Ons doen dit immers ook met hetroseksuele verhoudings. Eers dan kan ons oordeel waaroor mense saamstem en verskil. En ons moet eers daarna praat oor die kerk se verpligting, al dan nie, om hierdie verhoudings amptelik te legitimeer.

Op die oomblik is my afleiding uit die talle en talle mense wat met my hieroor praat dat baie van ons uiters ongenuanseerd is oor die verskille tussen ons.

Ek het volle vertroue in die lidmate en leiers van ons kerk dat ons uiteindelik ’n weg sal vind om met integriteit, met ons verskille, saam kerk te wees. Daar is immers net te veel wat ons aan mekaar bind. [Dit is ’n BAIE optimistiese siening.]

Kommentaar

Jan Louw

Ek gesels die afgelope tyd met ’n leier van ’n prominente gemeente aan die Wesrand. Ons deel ons besorgdhede oor wat in die NGK aangaan. Sy standpunt is dat die kerk se probeme by die leierskap is.

Die kommunikasie van Nelis is vir my n voorbeeld van die probleem wat ons met ons kerkleiers het. Hy maak voorbrand vir die AS se besluite as hy praat van die trauma van die gays en hulle familie. Natuurlik sal daar trauma wees want dit gaan oor ’n leefstyl wat volgens Paulus teennatuurlik is. Dit is ’n leefstyl wat teen die Here se skeppingsordinansies ingaan. Die vraag is: hoe reageer die kerk op die trauma wat hierdie mense beleef. Daniel is reg as hy vra of Nelis hoegenaamd na Andre Bekker se pos aan die moderators gekyk het. Het Nelis gekyk na die DVD Such were some of you?

Nelis hou aan om die duidelike uitsprake in die Skrif te omseil.

Natuurlik sal en kan ons mekaar nie vind as dit die soort leiding is wat van die leierskap uitgaan nie. Nelis het rede om te vermoed dat die beplande AS op ’n katastofe gaan afstuur. Hy maak daarvoor. As ons ’n reguit pad met die Skrif en met die waarheid loop sal ons die kerk en die gay gemeenskap dien. Dan kan ons met integriteit vergadering hou en sal ons respek in die samelewing afdwing.

Leiers wat ontsag het vir die Here en n begeerte het om onberispelik die Woord van die Here te gehoorsaam sal dalk nie almal bymekaar hou nie maar sal die wa deur die drif kan trek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui