Opebrief aan die NG Kerk Moderators – André Bekker

Kyk ook:

New Living Way Ministry
Posbus 6084, Birchleigh, 1621
Selfoon: 071 326 8034
Epos: Info@LearnToLove.co.za,
Webblad: www.LearnToLove.co.za

2016-09-23

Opebrief aan die NG Kerk Moderators

Sê nou leiers is verkeerd, en homoseks is sonde, wat dan?” Was my vraag aan ’n baie bekende progay terapeut in die NG Kerk geledere. Die antwoord op die vraag was: “as ek fouteer dan wil ek eerder fouteer aan die kant van liefde.”

Die antwoord het my diep laat nadink, en ek het tot die slotsom gekom dat daar baie van liefde en verdraagsaamheid gepraat word in ophemeling van die tweede, van die dubbele liefdesgebod, maar ten koste van die eerste gebod en in minagting van God. Dit bring mee dat die mens in sy sonde verheerlik word bokant gehoorsaamheid aan God. Die fundamentele waarheid het my getref dat die eerste gebod verklaar: “jy moet die Here jou God liefhê, met jou hele hart, siel en krag.” Dit vra dat ’n mens God met elke gedagte, sy wil, sy hele wese en al sy energie moet liefhê. Dit eis dat uit lojaliteit aan God, die mens aan God gehoorsaam sal wees. Hieruit vloei dan voort, liefde vir my naaste. “Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie” (1 Joh. 5:2-3, Die Boodskap).

Wanneer Jesus sê dat “jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” haal Hy Lev. 19:18 aan. In konteks sê die voorafgaande vers (v17) egter, “jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.” Met ander woorde, om jou naaste te berispe wanneer jy hom sien iets doen wat nie God se wil is nie. In die geval van homoseks sou ek dus liefdeloos optree indien my naaste sulke dade doen en ek nie vir hom sê: “met ’n manspersoon mag jy geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.” Paulus illustreer dié waarheid aan die hand van onsedelikheid (bloedskande) in 1 Kor. 5. Hy berispe die gemeente omdat hulle te midde van onsedelikheid in hulle midde hulle verbeel hulle is beter as ander. Hy vra, “moes julle nie liewer daaroor getreur het nie?” (v2). Hy gee die man aan Satan oor om sodoende sy sondige aard te vernietig sodat sy gees gered kan word wanneer die Here kom (vers 4-5). In vers 13 gee Paulus opdrag aan die gemeente om oor hulle eie mense te oordeel en die persoon wat in sonde leef uit hulle midde uit te verwyder. Vers 17 van Lev. 19 sê voorts dat indien daar liefdeloos opgetree word deur my naaste nie te berispe nie, daar in sy skuld gedeel word. Maxwell som dit treffend op: “we forget that we are first to love the Lord our God, before we love our neighbor. If we love our God, we shall then speak the truth to others; and in keeping with the second commandment, we shall speak to them in ‘love.’ Let us NOT offend our God for a supposed love of our neighbour.

Dink jouself in, God wat heilig is, gee “Christus as Hoof bo alles aan die kerk, wat sy liggaam is” (Efes. 1:22-23). Maar in stede dat die liggaam ook heilig is soos God en die Hoof heilig is, bestaan die ledemate uit egbrekers, persone wat onsedelikheid, prostitusie, bestialiteit, homoseks, bloedskande en poligamie bedryf. Ondenkbaar? “Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai” (Gal 6:7). “Mense wat seks misbruik, of wat seks met persone van dieselfde geslag het, mense wat hulle nie steur aan die reëls van die huwelik nie … sal nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie” (1 Kor. 6:10, Die Boodskap).

Geestelik bevind ’n persoon in selfde-geslag verhoudings hom dus in ’n baie gevaarlike posisie. Met die dubbele liefdesgebod as norm, kan niemand ooit die breë gemeenskap met dié leun indoktrineer dat ’n mens gay gebore word en sodoende die gay agenda dryf nie. Wetenskaplike navorsing dui daarop dat oriëntasie vloeibaar is en biologies invloede nie deterministies van aard nie. Dit word bevestig deur duisende getuienisse van voormalige homoseksuele, waarvan ek self ’n lewende getuie is. Liefde moedig so persoon aan om nie sy gevoelens sy identiteit te maak nie. Want deur sy aangetrokkenheid sy identiteit te maak vereenselwig hy homself met sy sondige natuur soos Rom 7:20 aantoon: “As ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.” As hy homself met sy sondige natuur vereenselwig onderteken hy sy eie doodsvonnis; “want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is,
kan God nie behaag nie.” (Rom. 8:7-8). Vir die inwonende sonde is daar in Christus ’n oplossing (Rom.7:25). Die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus maak vry van die wet van die sonde en die dood (Rom. 8:2). “Daarom dan is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 7:12-13). Jesus sê: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10).

In lyn met die dubbele liefdesgebod is daar ’n verantwoordelikheid op elke Christen, om ’n persoon met selfde-geslag aangetrokkenheid aan te moedig om “in te gaan deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Jesus se voorbeeld van radikale insluiting van mense wat gemarginaliseer word, het nooit ’n gemarginaliseerde aangemoedig om in sy sonde voort te leef nie, maar eerder om daarvan af te sien. Rakende diesulkes het Jesus gesê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). En ook: ”moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie” (Joh. 5:14).

Daarom is dit net natuurlik om, onder dwang van die dubbele liefdesgebod, ’n persoon met selfdegeslag aangetrokkenheid daaraan te herinner dat daar in Korinte persone was wat homoseks beoefen het, maar van wie gesê word, “so was sommige van julle ook! Maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus” (1 Kor. 6:11). Die dokumentêr “Such were some of you,” (DVD bekombaar by CUM) wat ek aan elke moderator gestuur het, onderskryf hierdie onweerlegbare werklikheid. As ’n voormalige homoseksueel getuig ek uit ervaring, dat die Here mens uit daardie ongelukkige sondige toestand kan verlos.

In die lig van die voorafgaande, sal ’n persoon wat erns maak met die dubbele liefdesgebod, nooit die Skrif kan verdraai om sodoende die mens se sondige natuur te akkommodeer nie. Ware liefde sal nie leuens skep om voorsiening te maak vir die mens se onvermoë om sy sondige natuur in eie krag te verander nie. Ironies genoeg was dit lesbiese aktivis en skrywer, Dorothy Allison wat by geleentheid geskryf het, ‘Things come apart so easily when they have been held together with lies.

Op die fisiese en psigiese gebied draai die mediese wêreld geen doekies om oor hoe destruktief, in talle opsigte, die gay leefstyl is. Russel Jones maak die stelling: “When someone is engaged in demonstrably self-destructive behavior, it is not loving to encourage persistence.” Dit bevestig Paulus se uitspraak in Rom. 13:10, “die liefde doen die naaste geen kwaad nie.” Die Gay and Lesbian Medical Association: Top Ten Things Gay Men Should Discuss with their Health Care Provider wys op die volgende:

  1. Dit is welbekend dat mans wat met mans seks het, ’n groter risiko loop om HIV infeksie op te doen.
  2. Gay mans gebruik meer dwelms as die algemene bevolking.
  3. Meer gay mans ly aan depressie en angs as die algemene bevolking.
  4. Mans wat homoseks beoefen, loop ’n groter risiko om geïnfekteer te word met seksueeloordraagbare virusse – wat die potensieel-dodelike lewersiekte, “Hepatitis Immunisation”, veroorsaak.
  5. Seksueel-oordraagbare siektes kom meer voor onder mans wat homoseks beoefen.
  6. Gay mans loop ’n hoër risiko om te sterf aan prostaat-, testikulêre en/of kolonkanker.
  7. Gay mans misbruik alkohol meer as heteroseksuele mans.
  8. Gay mans gebruik baie meer tabak as heteroseksuele mans.
  9. Dit kom meer algemeen by gay mans as heteroseksuele mans voor, om ’n negatiewe beeld oor hulle eie liggaam te hê. Gay mans staan ’n groter kans om een of ander eetprobleem te hê as heteroseksuele mans. Dit lei weer tot ander mediese probleme.
  10. Gay mans loop die risiko om die virus Papilloma op te doen. Dit verhoog die risiko vir anale kanker.

Op sosiale gebied doen Dr. Bartlett aan die hand: “indien die liefdesgebod as norm hanteer word, om menslike verhoudings te beoordeel, behoort die dubbele vraag gevra te word: Doen dit die medemens kwaad aan en staan dit in diens van lewe in oorvloed?” Die vrae kan aan die hand van dr. Nicolosi, se artikel, An Open Secret: The Truth About Gay Male Couples, getoets word, waarin hy onder andere sê:

“In one recent study of gay male couples, 41.3% had open sexual agreements with some conditions or restrictions, and 10% had open sexual agreements with no restrictions on sex with outside partners. One-fifth of participants (21.9%) reported breaking their agreement in the preceding 12 months, and 13.2% of the sample reported having unprotected anal intercourse in the preceding three months with an outside partner of unknown or discordant HIV-status.”

“When McWhirter and Mattison published The Male Couple in 1984, their study was undertaken to disprove the reputation that gay male relationships do not last. The authors themselves were a homosexual couple, one a psychiatrist, the other a psychologist. After much searching they were able to locate 156 male couples in relationships that had lasted from 1 to 37 years. Two-thirds of the respondents had entered the relationship with either the implicit or the explicit expectation of sexual fidelity.

The results of their study show that of those 156 couples, only seven had been able to maintain sexual fidelity. Furthermore, of those seven couples, none had been together more than 5 years. In other words, the researchers were unable to find a single male couple that was able to maintain sexual fidelity for more than five years. They reported:

‘The expectation for outside sexual activity was the rule for male couples and the exception for heterosexuals. Heterosexual couples lived with some expectation that their relationships were to last “until death do us part,” whereas gay couples wondered if their relationships could survive.’

McWhirter and Mattison admit that sexual activity outside the relationship often raises issues of trust, self-esteem, and dependency. However, they believe that:

‘the single most important factor that keeps couples together past the ten-year mark is the lack of possessiveness they feel. Many couples learn very early in their relationship that ownership of each other sexually can become the greatest internal threat to their staying together.’”

Selfde-geslag verhoudings slaag nie die toets nie en enigiemand wat erns met die dubbele liefdesgebod maak, kan verhoudings, wat promiskuïteit en ontrouheid bevorder, nie aanmoedig nie. In die lig hiervan laat Neels Jackson se opinie die wenkbroue lig, as hy sê: “’n Gay verhouding vind plaas tussen twee volwasse mense wat albei daartoe instem. As twee gay mense ’n verhouding het waarin hulle mekaar respekteer, aan mekaar getrou is en mekaar liefhet, dan bou hulle mekaar op. Hulle vervul mekaar. Hulle help mekaar om vol en gelukkige lewens te ly. Dan leef hulle volgens die liefdesgebod.

Gebruik ’n mens dieselfde argument, en vervang gay met bloedskande, sien ons die vêrreikende gevolge wat dit vir die kerk inhou. Die liefdelose daad om homoseks te wil ontsondig en as ’n normale variant van menslike seksualiteit voor te hou, verplig die kerk om ook nie “liefdeloos” en “diskriminerend” op te tree teen die “gemarginaliseerdes” wat bloedskande beoefen nie. Immers, volgens Neels se argument, “leef hulle volgens die liefdesgebod.” Sodoende word die dilemma vir die kerk net al hoe groter.

Hiermee moedig ek u aan om nie te kies om “te fouteer na die kant van liefde toe,” wat hoofsaaklik gefokus is op die tweede gebod van die dubbele liefdesgebod nie. So liefde dompel die gay gemeenskap, vir wie God liefhet en Sy Seun laat sterf het, in die verderf. Dit sal die kerk met bloed aan sy hande laat. Nee, kies liewer die pad van liefde wat God in alles eerste stel. Want net dan kan ons liefde aan ons naaste bewys.

Saam in Sy diens.

André Bekker

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui