Jong Teoloë Steun Besluit Oor Gays

Kyk ook:

Na 65 teoloë van die NG Kerk hulle steun gegee het vir die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings in 2015, klim die jongspan toe ook op die wa!

Die volgende artikel het in kerkbode.christians.co.za verskyn. Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].

Dit herinner sterk aan Judas 1:4:

“…sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.”

**********

Jong Teoloë Steun Besluit Oor Gays | Kerkbode

28 September 2016, Neels Jackson

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ’n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ’n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ’n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ’n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom. [Waar word ons geleer van ’n Drie-enige God? In die Bybel. Dieselfde Bybel wat amper duideliker oor homoseksualiteit is as God se drie-eenheid. Kyk Die Bybel oor sonde.]

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar. [Mits daar bekering is. Bekering = afsterwe van die ou mens en opstanding van die nuwe mens, wat nie meer ’n slaaf van die sonde is nie.]

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ’n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer. [Dit help nie om God se naam groot te maak sonder gehoorsaamheid aan Hom nie. Ware liefde vir God is gehoorsaamheid aan Hom.]

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ’n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ’n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

[1. Om te sê seksualiteit (om seksueel te verkeer) is ’n gawe van God is ’n baie halwe waarheid. Seks binne die huwelik tussen een man en een vrou, is ’n gawe van God. Niks meer as dit nie.

2. Bestialiteit en pedofilie sluit ook seksualiteit in. As LGBTIQ+ goedgekeur word, gaan dit moeilik wees om bestialiteit en pedofilie uit te sluit. Op grond waarvan sou jy dit kon uitsluit?

3. Per definisie beteken dit dat biseksuele mense meer as een seksmaat het (dus seksuele inklusiwiteit). Dus is dit baie duidelik dat hierdie jongspan nie glo dat buitehuwelikse seks verkeerd is nie.]

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou. [Net hierbo word biseksualiteit goed gepraat. Om dus te impliseer dat byvoorbeeld ’n orgie (of bestialiteit) die Drie-enige God uitbeeld is Godslastering!]

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ’n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys):

1. Rozelle Bosch

2. Bianca Botha

3. Magriet de Villiers

4. Riaan de Villiers

5. Calvyn du Toit

6. Elaine Dippenaar

7. Eduard Enslin

8. Juanita Greyvenstein

9. Hanneke Janse van Vuren

10. Benjan Knoetze

11. Manitza Kotze

12. Nadia Marais

13. Nina Muller van Velden

14. Carike Noeth

15. Melissa Opperman

16. Helgard Pretorius

17. Fourie Roussouw

18. Annelet Slazus

19. Sunelle Stander

20. Sharaine Steenberg

21. Niel Steyn

22. Dawfre Theron

23. Elzanne van der Westhuizen

24. Anje Zeeman

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui