Gesprekke op strokiesnet/kerkbode oor evolusie (4)

Hier is nog gesprekke oor evolusie op facebook/kerkbode — kyk 

http://www.facebook.com/kerkbode/posts/387110427984255

vir die oorspronklike.


Jan Buter -> Kerkbode

Nog ’n ietsie oor skepping teenoor evolusie.

10³ (10 tot die mag 3) is ’n duisend en net minder as die aantal sekondes in 17 minute.

10¹² (10 tot die mag 12) is ’n triljoen [biljoen in Afrikaans — kyk ondertoe] en die grootte in Rande van die 2012/13 begroting van die RSA. Of ook ongeveer gelyk aan die aantal sekondes in 317000 jaar [31700 jaar — kyk ondertoe].

10 tot die mag 17 is die aantal sekondes sedert die BIG BANG ongeveer 15000 miljoen jaar gelede.

10 tot die mag 45 die eenmalige kans dat 150 mense ’n munt gelyktydig opskiet en al 150 kop of stert sal hê. (As hulle tydens die Big Bang begin het, het hulle nog so ’n verdere 25000 miljoen jaar se opskietery nodig voordat so’n eenmalige kans met ’n mate van sekerheid sou kan plaasvind)

10 tot die mag 84 die totale aantal subatomiese partikels in die heelal.

10 tot die mag 33113 die waarskynlikheid dat minstens 100 000 nukleotides in die regte sekwensie en volgorde en ’n verdere korrek georiënteerde 10 000 aminosure bymekaar kom op die regte tyd teen die regte temperatuur om ’n moontlike funksionele DNA molekule te laat ontstaan (die kleinste moontlike bakteriële sel wat wetenskaplikes dink moontlik sou kon wees) Dis ’n baie eenvoudiger molekule as wat mens vandag in die kleinste bakteriële sel kry naamlik 128 miljoen. Dis soos 110 000 muntstukke in volgorde opskiet en elke keer kop of stert te kry. Een fout en jy begin weer voor. Dis ook gelyk aan die kans om 4700 staatsloterye in die VSA AGTEREENVOLGENS te wen (elke een) met EEN kaartjie vir elkeen.

Dan kom al die ander probleme nog

Lewe spesifieke aminosure in die regte plek, korrek spesifieke aminosure in die regte plek, die regte materiaal in die regte plek vir elke geen, korrekte sekwensie van gene en dan kom ons by

10 tot die mag 112827 en dis soos om een enkele spesifieke elektron uit 1300 heelalle soos ons s’n die eerste keer toevallig te kies. Dis soos om 16119 loterye te wen agtereenvolgens met een kaartjie vir elkeen. Nou leef die dingetjie natuurlik nog nie.

Mens kan moet nog baie verdere en meer berekeninge maak. Die wiskunde is vir my die naaste aan egte wetenskap en dit leer my spontane toevallige evolusie is ’n totale onmoontlikheid en belaglikheid.

So ek lag vir elkeen wat glo dat die heelal (veral lewe) spontaan en toevallig tot stand gekom het. Dis ’n moedswillige onwilligheid om feite en wetenskap in die oë te kyk.

Romeine 1:20 is ook duidelik

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Die syfers kom uit “Dismantling Evolution – building the case for intelligent design” geskryf deur Ralph O. Muncaster. ISBN 0 – 7369 – 0464 – 6

 

Kommentare:

 

Henrietta Klaasing

Hehehe, Jan, dit klink of jy en my aktuaris – seun ’n indiepte gesprek gehad het : hy maak ook gereeld sulke “sommetjies” om “kansigheid” aan sy moeder te probeer verduidelik . . .

 

Henrietta Klaasing

Prof David Block, van Wits Univ , ’n bekeerde Jood, maak ook dieselfde tipe sterrekundige wiskunde-berekenings om die uniekheid van ons besondere hoë vorm van lewe aan te toon

 

Wynand Louw

Jan, ek sê mos ek sal nooit genoeg geloof kan he om ’n ateis te kan wees nie. Meerkat, se nou weer, hoekom dink jy Christene het ’n probleem met die wetenskap? Kyk dan hoe geniet Jan Buter dit!

 

Ralph Barnard ‎

“Nog ’n ietsie oor skepping teenoor evolusie …” Hoekom moet skepping teenoor evolusie gestel word?

 

Grys Meerkatmeisie ‎

Ralph die Roomse kerk het dit lankal aanvaar – maar ek kan sien hoe mense dit as ’n bedrieging sien as hulle steeds glo dat Adam en Eva werklike mense was. Dit skiet daardie storie in vlarde 🙂

 

Ralph Barnard

Grys, gelukkig word binne internasionale teologiese kringe reeds meer as ’n eeu en binne SA kringe reeds meer as 50 jaar aanvaar dat Adam en Eva karakters in ’n verhaal was en nie die eerste mense nie. Die ander kan maar skree en gil tot hulle blou is, maar uit ’n literêre oogpunt is dié interpretasie onaanvegbaar.

En diegene wat evolusie nog betwis, toon werklik uiterste onkunde.

 

Stefaan de Jager

Ralph, wat nie `n mite is nie is dat die sonde deur die mens se ongehoorsaamheid aan God in die wêreld gekom het. Dit was nie van die begin van die skepping daar nie. Die sonde het alle mense besmet en daarvoor het Christus gekom, om ons uit hierdie slymerige put te kom red. Geen evolusionêre ontwikkeling van watter aard ookal, sou die sonde kon wegneem nie, maar Christus alleen. Geen ander skepsel op aarde nie.

 

Hennie Mouton

Jan, 10 tot die mag 12 is in Afrikaans ’n biljoen, al noem die Amerikaners dit ’n “trillion”. Is dit nie interessant hoe Meerkat en Ralph maar net hul geloof, ondanks die berekeningsresultate wat jy hier aanhaal, verklaar nie? En hulle glo nog steeds dat die wetenskap aan hulle kant is.

 

Hennie Mouton

Jan, jou 317000 moet 31700 jaar wees — ek neem aan dit was net ’n tikfout. Maar die gevolgtrekking bly reg — die kans vir lewe om spontaan te kon ontwikkel het, bly ’n totale onmoontlikheid. Daarom Ralph — skepping teenoor evolusie.

 

Ralph Barnard

Hennie, jy maak die denkfout soos baie ander deur nie te onderskei tussen die beginsel van evolusie (en skepping deur evolusie) en evolusionisme (‘n lewensbeskouing met evolusie as determinant) nie.

 

Hennie Mouton

Evolusionisme brei maar net die beginsel van evolusie uit na alle terreine, soos byvoorbeeld die evolusie van God. Beide is leuens.

 

Ralph Barnard ‎

“Die evolusie van God.” Nog nooit van so-iets gehoor nie. Jy dink seker aan die evolusie van die mens se Godsbeeld. Wel, dit tref ons al in die Ou Testament aan (sien Deist & Du Plessis 1981, God en sy Ryk, vir ’n eenvoudige uiteensetting).

 

Hennie Mouton

Ralph, ek vermoed jy sal aanklank vind by baie wat hierdie ou kwytraak: In his brilliant new book, “The Evolution of God”, Robert Wright tells the story of how God grew up. He starts with the deities of hunter-gatherer tribes, moves to those of chiefdoms and nations, then on to the polytheism of the early Israelites and the monotheism that followed, and then to the New Testament and the Koran, before finishing off with the modern multinational Gods of Judaism, Christianity and Islam.

 

Wynand Louw

Meerkat, die Roomse kerk is afvallig. Dit is hoekom ons die GEREFORMEERDE kerk is. Maar lyk my die gereformeerde kerke raak nou ook afvallig.

 

Wynand Louw

Teïstiese evolusie kan per definisie nie bestaan nie. ’n God wat deur evolusie skep sal duidelik deïsties wees en nie teïsties nie. Deïstiese evolusie is wel teoreties moontlik. Die probleem is God openbaar hom in die Bybel as alles behalwe deïsties. Die Bybelse godsbeeld is onomwonde teïsties. Evolusie is in elk geval uit ’n wetenskaplike oogpunt onmoontlik. Ek sê dit as wetenskaplike.

 

Renier Lourens

Mens moet versigtig wees om die Roomse Kerk as afvallig te brandmerk. Die RK is groot en het vele sub-afdelings waarvan sommige naby aan gereformeerd lê, ander meer charismaties is en ander wat streng ortodoks is- nes die Protestante. Dis uiters arrogant om jouself as geredde te verklaar en ander as verlore deur sommer losweg te verwys na kerkverbande/ denominasies ens. En uiters naïef…

 

Jan Buter

Wynand, ek het in die RK kerk pragtige christenmense gevind, en jammer om te se , ook al preke daar gehoor wat meer gereformeerd was as sommiges wat ek in van die NG gemeentes gehoor het. Ek dink jy veralgemeen so’n effe.

 

Wynand Louw

Renier, die Roomse kerk het met Vatican 2 (hoe lank, 60 jaar gelede?) nog meer afvallig geraak as in Luther se tyd. Die immakulate konsepsie van Maria en haar hemelvaart? Vatikaan 2. Die onfeilbaarheid van dei Pous? Vatikaan 2. So what as hulle nie meer aflaatbriewe verkoop nie. Hulle amptelike dogma is nou nog meer afskuwelik as 400 jaar gelede. Het jy al hulle nuutste kategismus gelees? Ek het. Hulle verwerp die genoegsaamheid van Christus se dood aan die kruis, hulle verwerp die genoegsaamheid van die genade en die heilsversekering wat daarmee saamgaan vir ’n kosmiese snakes and ladders speletjie: Doen sonde, en die slangetjie suk jou in. Ontvang ’n sakrament (Dit is toorkrag) en jy kry ’n leertjie boontoe. En die aanbidding van ’n dooie stukkie brood is nog steeds dieselfde afgodsdiens wat dit in die tyd van Calvyn was. Di eemergent kerk word deur baie gesien as ’n deur terug na die Paapse kerk. Daniël het daai tyd al geweet die paap is die antichris – en die hervormers het hom so verstaan.

 

Wynand Louw

En ek verklaar nie ander denominasies as verlore nie. Ek glo Armeniers, wederdopers en Dispensasionaliste is gered. Ek was self vir ’n paar jaar in ’n Baptsite kerk in die buiteland. Ek is een van die mees akkomoderendste ouens wat ek ken sover dit godsdien aangaan. Maar sodra jy karring met die kern van die evangelie: Jesus se soendood aan die kruis, kan ek jou nie meer akkomodeer nie. En dit is wat die Paapiste en die Emergents doen.

 

Daniel Louw

https://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/196-meer-oor-waarskynlikhede-en-hawking.html

Meer oor waarskynlikhede en Hawking

 

Wynand Louw

Jan, daar is seker Christene in die Paapse kerk, maar dan is it ten spyte van hulle kerk en nie die produk van hulle kerk nie. Lees hulle kategismus, dan praat ons weer.

 

Jan Buter

Daniel, baie dankie vir die skakel, dit werp nog meer wetenskaplike lig op die saak.

 

Jan Buter

Wynand, ek sal hul kategismus gaan lees.

 

Renier Lourens

Wynand, jy is een-ogig. Jy wat staan moet oppas dat jy nie val nie. Lees my post weer. Jy stel jou punt, sonder om ander te hoor en te dink oor wat hulle sê. Ek ken heelwat RK lidmate- hulle sit Sondae in my eredienste- wat baie meer gereformeerd is as jyself! Jou veralgemening is wyd en neem nie ander in ag nie. Moenie uit onkunde praat nie. Om almal onder dieselfde kam te skeer is onverantwoordelik.

 

Barend Nel

Een van my heel grootste geestelike mentors was ’n Rooms Katoliek. Ek het hom net deur sy boeke geken, maar hy het my lewe geweldig verryk. Ek praat van Henri Nouwen.

 

Stephan Marcus

Ai toggie. Wat is die waarskynlikheid dat die laaste 10 000 rolle van die roulettewiel by Sun City daardie spesifieke volgorde sou hê? Dit is infinitesimaal klein. Tog het dit gebeur. Net omdat iets onwaarskynlik is, is dit nie onmoontlik nie.

En jammer vir die holruggeryde argument, maar hoe help die argument die kreasionistiese saak? Per definisie *moet* die skepper meer kompleks wees as die skepsel en moet hy/sy/hulle/dit/* spontaan ontstaan het, wat per die b.g. wiskunde belaglik onwaarskynlik sou wees.

 

Stephan Marcus

En ek moet net bysê, die proses waardeur lewe onstaan het, wat aan die eeste funksionele repliserende entiteit oorsprong gegee het is onbekend. Hoe bereken mens die waarskynlikheid van ’n proses waarvan die meganisme onbekend is?

 

Hennie Mouton

Stephan Marcus, jou voorbeeld van die roulettewiel wys dat jy die basiese argument nie verstaan nie, of doelbewus verkeerd verstaan. Die kans dat die wiel die 10 000 laaste waardes gehad het wat ons nou agterna gesien het gebeur het, is net so goed as die kans dat dit enige 10 000 waardes gehad het. Die kans waarvan jy praat is dus 100%, wat die teenoorgestelde is van infinitesimaal klein. Jy moet kyk na die kans om ’n spesifieke volgorde te kry wat jy vooraf opgee, en dan 10 000 rolle doen. Enige volgorde van die 100 000 nukleotiedes vir funksionele DNS gaan nie werk nie — slegs enkele spesifieke volgordes gaan werk.

 

Hennie Mouton

Renier, jy is die een-ogige een in hierdie geval. Sekerlik is Wynand se verwysing na die RK-kategismus om te sê wat die RK se standpunt is, baie meer geldig as jou of Barend Nel se verwysing na enkele RK’ers wat nie noodwendig by hul eie kategismus hou nie, of dit eenvoudig ’n ander ongeldige betekenis gee soos baie van die liberaliste in die NG Kerk met die Bybel en die belydenisskrifte ook doen.

 

Renier Lourens

Hennie, my punt is dat die RK te groot is om almal oor dieselfde kam te skeer. Daar is groepe binne die RK, vanaf streng ortodoks tot erg gereformeerd- en wat nog tussen-in. Om almal binne die RK tot die hel te verdoem agv hulle kategismus is verregaande en spreek van arrogansie en onkunde. Dis soos om almal binne die Protestante Kerke te beskuldig van liberalisme of verstokte konserwatisme- dis eenvoudig nie die waarheid nie.

 

Hennie Mouton

Renier, Wynand het niemand tot die hel verdoem nie, maar sy standpunt is dat die RK-kategismus ernstige en onverdedigbare dwaling bevat. Om te sê dat ’n kerk dwaalleer verkondig is by verre nie dieselfde as om al haar lidmate of ampsdraers tot die hel te verdoem nie. Selfs om iemand te waarsku is nie dieselfde as om hom of haar tot die hel te verdoem nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui