Kairos hou ‘familiebyeenkoms vir behoudende gereformeerdes’ in Pta

*******

Kairos hou ‘familiebyeenkoms vir behoudende gereformeerdes’ in Pta | Netwerk24

Seugnet van Zyl

16 Julie 2022

’n “Familiebyeenkoms vir behoudende gereformeerdes” word volgende week by die AfriForum-teater in Menlopark, Pretoria, gehou.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Kairos Netwerk (KN), sê die doel is om “Skrifgetroue lidmate en gemeentes saam te snoer in die gemeenskaplike stryd teen teologiese liberalisme en ’n geringskatting van die gesag van die Skrif”.

“Daar was nooit so ’n graad van ontevredenheid met die Skrifgetrouheid, leer en leiding van die NG Kerk (NGK) se algemene sinode (AS) nie. Ons (KN) soek na ’n konsensus oor Skrifgesag, asook ander sake. Ons wil mense bymekaar laat kom, wat saam beswaard is, sodat ons kan hande vat.”

Netwerk24 het voorheen berig dat die Namibiese sinode met ’n proses begin het wat daartoe kan lei dat hy van die AS wegbreek, tensy die AS oor onder meer sy 2019-besluit tot “inkeer” kom. Dit verwys na die AS se besluit om ruimte vir selfdegeslagverhoudings binne die NGK te skep. Die KN het kort hierna tot stand gekom.

Knoetze verduidelik dat die “minagting van die Skrifgesag” sonder twyfel die vernaamste rede is vir hierdie “historiese” byeenkoms.

“Behoudende gemeentes, vanuit verskillende gereformeerde kerke, wil konsolideer deur hande te vat en saam te beplan.”

Waar die KN nog in April vanjaar die roete wou volg om van die AS weg te breek en hom by die Namibiese sinode aan te sluit, blyk dit dat hierdie “kerkregtelike pad nou ’n te lang proses geword het om te volg”.

Knoetze sê die situasie dwing hulle nou om met sogenaamde susterskerke hande te vat.

“Ons besef jy kan nader aan mekaar beweeg. Jy moet in die belang van jou eie mense optree en dus na alternatiewe kyk om dié wat dieselfde dink, bymekaar te voeg.”

Volgens Knoetze is hierdie byeenkoms juis daarom nie net vir NG Kerk-lidmate nie, maar oop vir alle kerke.

“Ons geloofsbelydenis is gegrond op die waarheid en daarom is dit tyd om op te tree.”

Volgens hom is die doel van die byeenkoms op 21 en 22 Julie dat behoudende gemeentes na konsensus oor Skrifgesag, asook ander aktuele sake, soek.

“Die proses gaan begin word om praktiese strukture te skep vir samewerking en wedersydse ondersteuning. In die vooruitsig is die begin van nouer amptelike en konkrete samewerking met ander behoudende gereformeerde kerke plaaslik en internasionaal.”

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige moderator van die NGK, sê: “Dis duidelik dat Kairos ’n groep eendersdenkendes is wat ’n ‘geslote’ teologie najaag wat geen plek het vir verskeidenheid nie. Dit is duidelik ’n samekoms van kerkskeurders – en die feit dat groepe wat van die Hervormde Kerk en al voorheen van die NG Kerk geskeur het ook genooi word, bevestig my vermoede dat al die argumente wat geopper word, maar net vroom woorde is om ’n kerkskeuring te verduidelik. Ek dink ook die meeste NG Kerk-lidmate weet dat hul verdagmakery en uitbeelding van die NG Kerk as ’n kerk vol dwaling eenvoudig nie waar is nie.”

Neels Jackson, skrywer van Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad van verruiming en voormalige redakteur van die Kerkbode, sê die beskuldiging dat die NG Kerk nie eerbied het vir die gesag van die woord van God nie, is eenvoudig nie waar nie.

“Wat gebeur het, is dat daar in dié kerk oor jare heen juis op grond van ernstige worsteling met die Skrif oor ’n paar dinge nuwe insigte ontwikkel het. Een daarvan is dat die teologiese regverdiging van apartheid verkeerd was. ’n Tweede was dat vroue predikante van die kerk kan word. En ’n derde is dat daar ruimte vir gay lidmate en hul verhoudings geskep moet word. In hierdie sake was God se liefde vir mense en die respek wat mense dus vir mekaar moet hê, telkens van deurslaggewende belang.”

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NGK, sê die NGK neem kennis van dié byeenkoms. “Geen dagbestuurslede van die NGK sal dit bywoon nie. Ons verkies om op ander wyses met die KN te kommunikeer.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui