’n Plan vir verdeelde NG Kerk

Pieter Prinsloo sê in die artikel hieronder dat die algemene sinode dit maklik kan maak vir individuele behoudende NG gemeentes om die NG kerk te verlaat, mits hulle wil.

Kyk my kommentaar onderaan.

*******

BRIEF | ’n Plan vir verdeelde NG Kerk | Netwerk24

Pieter Prinsloo

Sondag 17 Julie 2022, Rapport

Ds. Pieter Prinsloo, NG kerk Kroonstad-Wes, skryf:

NG gemeentes se verdeeldheid oor Skrifverstaan groei jaarliks. Die vraag ontstaan: Waarom tree party gemeentes dan nie bloot uit dié verdeelde verband nie?

Ongelukkig verhinder kerkorde artikel 37 individuele gemeentes om met behoud van besittings uit die verband met die Algemene Sinode te tree. Slegs ’n streeksinode – as ’n geheel van gemeentes – mag met behoud van eiendom uit die verband met die Algemene Sinode tree. Baie gemeentes soek daarom na ’n welwillende uitweg.

Gelukkig is daar ’n eenvoudige kerk­ordelike uitweg, mits alle NG gevolmagtigdes bereid is om wedersydse welwillendheid te openbaar. Hulle kan doodeenvoudig ’n kerkordelike herindeling van gemeentes inisieer en goedkeur. Kernagtig kan dit soos volg verloop:

  • Gevolmagtigdes deel gemeentes wat wil uittree, saam binne ’n bepaalde streeksinode;
  • Dieselfde streeksinode se gemeentes wat binne die verband met die Algemene Sinode wil bly, kry gevolmagtigde goedkeuring om ingedeel te word by ander streeksinodes; en
  • Die heringedeelde streeksinode tree dan bloot met behoud van eiendom uit die verband.

Dit sou ’n hartseer dag wees indien sleutelfigure hierdie welwillende proses probeer verhinder onder die dekmantel van die eenheid van die kerk. Immers, talle NG gemeentes erken ’n veel groter eenheid in liefde en waarheid met gemeentes van ander kerkgroeperinge as met andersdenkende gemeentes binne die verdeelde NGK.

Dit sou boonop onrusbarend wees indien iemand probeer voorgee dat kerkorde artikel 32 – of ander artikels – dié plan belemmer. [Kommentaar: Dit is lyk my wat Gustav Claassen probeer doen in NGK: Behoudendes wil dalk wegbreek na Namibiese sinode.] Talle historiese presedente vir so ’n kerkordelike herindeling bestaan reeds. In 1983 is die gemeente van Goedgegun-Swaziland byvoorbeeld toegelaat om op eie versoek van die Ring van Wakkerstroom na die Ring van Barberton te skuif – om net een voorbeeld te noem.

Laat alle gevolmagtigdes daarom in welwillendheid begin saamwerk om hierdie noodsaaklike proses – geïnisieer vanuit die Vrystaatse sinode – in werking te stel. Almal wen indien so ’n heringedeelde streeksinode uit die onherroeplik verskeurde verband met die Algemene Sinode tree.

Kommentaar

Pieter Prinsloo sê dat kerkorde artikel 37 individuele NG gemeentes verhinder om met behoud van besittings uit die verband met die Algemene Sinode te tree en dat slegs ’n streeksinode dit kan doen.

Eerstens moet ’n mens dalk vir die Namibiese Sinode kans gee tot September hierdie jaar. Tydens hulle streeksinode in Maart het hulle ’n ultimatum gestel dat hulle artikel 37 sou uitvoer indien daar nie ‘n vaste voorneme sou kom om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie. Die algemene sinodale moderamen (ASM) het in Mei hierdie jaar, soos verwag, nie hierdie voorneme aan teenwoordigers van die Namibiese Sinode gegee nie. Indien die Namibiese Sinode dus woord by daad hou, gaan hulle in September hierdie jaar artikel 37 uitvoer en dan sal behoudende gemeentes uit ander streeksinodes by hulle kan aansluit. Die Namibiese Sinode sal egter nie op die lang duur steeds NG Kerk kan wees nie. Hulle sal moet wegbreek. Daar kan nie wyd uiteenlopende standpunte oor kern teologiese kwessies binne dieselfde denominasie wees nie.

Tweedens wonder ’n mens of dit nodig is om nou al die aanname te maak dat individuele gemeentes wat wil wegbreek hulle bates sal verloor. Die Geloofsbond van Hervormde gemeentes het van die Hervormde kerk geskeur en die hof het in Maart hierdie jaar besluit dat die wegbrekers hulle bates kon behou. Die vraag is of daar werklik ’n goeie rede is dat dit nie ook vir NG gemeentes wat sou wou wegbreek, kon geld nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui