Glo die teologiese fakulteit van Bloemfontein ook God is ’n vrou?

Die volgende brief deur Jan Louw is aanvanklik nie geplaas nie en daarom het ek dit toe op 20 Augustus onder die titel “Glo die teologiese fakulteit van Bloemfontein ook God is ’n vrou?” geplaas. Op 23 Augustus is dit toe wel onder twee verskillende titels geplaas: “Gelowiges beskou die taalgebruik as verwerplik” en “Kuratorium in VS moet aan lidmate verduidelik”.

Kyk ook Pieter Prinsloo se brief ‘Skop vas teen NGK-kaping’ (20 Aug 2021) wat ook oor hierdie onderwerp handel.

En ook Hou liewer by Paulus se raad aan Timotheus (24 Aug 2021) wat by Jan Louw se brief aansluit.

**********

Kuratorium in VS moet aan lidmate verduidelik | Netwerk24

Deur Jan Louw

23 Augustus 2021

Jan Lubbe se verwysing na God as ‘n vrou het nie ongesiens by ons verbygegaan in Volksblad van 17 Augustus nie (Woord en Perspektief).

Lubbe het sy artikel afgesluit met die woorde: “En hoekom kan ons nie aanvaar dat God haar vleuels oor ons almal uitsprei nie.”

Ons moet Lubbe se stelling teen die volgende agtergrond sien:

  • In Maart vanjaar het groot ontsteltenis in NG geledere ontstaan, omdat ‘n prediker op Stellenbosch ook na God in vroulike vorm verwys het. Die prediker het na die verbond van God as “Haar verbond” verwys. Dit was nogal by ‘n prestige geleentheid waar teologie studente hulle diplomas ontvang het. Die toesighoudende leraars van teologiese opleiding (die kuratorium) het op onoortuigende wyse die prediker se siening probeer verdedig.
  • Jan Lubbe is die voorsitter van die kuratorium van teologiese opleiding van NG studente by Bloemfontein.

Moet ons nou uit Lubbe se pertinente woordkeuse aflei dat die teologiese opleiding op Bloemfontein wil aansluit by die narratief op Stellenbosch, naamlik dat ons in vroulike vorm oor God kan praat? Gewone gelowiges van die NG Kerk beskou hierdie soort taalgebruik as verwerplik omdat dit vreemd is aan die manier waarop God Homself in die Bybel openbaar het. Dit herinner aan die heidense afgode waar vrouefigure as gode aanbid is.

Die Kuratorium van die Vrystaat is aan die lidmate van die NG Kerk hieroor ‘n verduideliking verskuldig. Dit is belangrik omdat almeer gemeentes in die NG Kerk hulle deur “dolering”, begin distansieer van die leer wat deur toonaangewende leraars in die kerk gepropageer word.

  • Jan Louw is ’n emeritusleraar en woon tans in Reitz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui